Waar in die wêreld is Willie?

Willie Richards is in die laaste skof deur die African Tails raadslid Neil Ismay bygestaan. (Foto: Verskaf)

Na 20 uitmergelende dae en 1 500 km wat te voet en met ʼn fiets afgelê is, het die 42-jarige Willie Richards, ʼn inspeksie-koördineerder in die oliebedryf, R29 500 vir liefdadigheid ingesamel.

Dié inwoner van Bloubergstrand in Kaapstad, het op Dinsdag 10 September uit Stellenbosch vertrek op ʼn solo-uithou-avontuur van sewe dae se fietsry en 13 dae van hardloop om geld vir African Tails, ʼn skuiling vir weggooi-troeteldiere, in te samel. Die geld word vir sterilisasieprogramme in informele nedersettings in Kaapstad aangewend.

Toe Maroela Media hom bel, het hy net by die fisioterapeut se spreekkamer uitgestap. Hy het tydens sy tweede laaste dag sy regterenkel beseer en moes dit laat verbind. “Nou moet ek net dit rustig vat vir ʼn week voor ek weer kan begin.”

Hy vertel dat hierdie ekspedisie, sy vyfde een, die moeilikste een nog was. “Die paaie was baie eensaam, dit is ʼn kopskuif-ding, jy moet jou kop sterk hou en onthou hoekom jy dit doen. Ek wou sien hoe ver ek myself kon druk sonder bystand.”

Die sewedag-toer het vanaf Stellenbosch na Plettenbergbaai gestrek en 745 km gedek. Die bekende Cape Epic-uithoufietswedren word in agt dae afgelê, oor 624 km.

In Plettenbergbaai aangekom, het Richards die aand sy fiets aan sy ouers oorhandig, oorgeslaap vir die aand en die volgende oggend weer sy 745 km-ekspedisie terug Stellenbosch toe aangepak. Die tog van 13 dae was gelykstaande aan twee Two Oceans-ultramarathons, wat 56 km lank is, elke dag vir 13 dae lank.

Gevra of hy ooit al die Comrades-marathon of Two Oceans-marathon gehardloop het, of sal hardloop, antwoord Richards nee. “Ek bedoel dit nie lelik nie, ek het baie vriende wat die wedrenne al gehardloop het, maar vir my het dit net geen aantrekkingskrag nie.

“Dis nie in my om resies te hardloop vir ʼn medalje nie. As ek klaar is, wil ek weet ek het ʼn verskil gemaak. Elkeen het maar sy eie redes om te hardloop, party doen dit om gewig te verloor, ander om eer te bring aan iemand wat dalk oorlede is, maar ek doen dit om ʼn verskil te maak.”

En dis presies wat hy doen. Die geld wat die #WheresWillie2019-veldtog ingesamel het, kan 59 sterilisasies se kostes dek, wat keer dat amper vier miljoen ongewenste hondjies gebore word.

ʼn Groeiende bevolking van diere wat weggegooi of verwaarloos word, hou ʼn risiko vir diere sowel as mense in. Weggooi-diere word dikwels ook mishandel en kan vir hondegevegte gebruik word.

Buiten dat Richards die afstand afgelê het, is die verrassende feit dat hy op ʼn 20,9 m-helikopterlandingsvlak op die see moes oefen vir die uittog. “Ek het maar om en om gehardloop.” Hy het ook op ʼn oefenfiets geoefen, en talle burpees gedoen.

Mense sê dikwels vir Richards hy is van lotjie getik, selfs sy vrou, Talita. “Sy dink dis malligheid, maar sy ondersteun my, want sy weet ek hardloop met ʼn doel. My seun is egter mal daaroor dat ek hierdie ekspedisies aanpak.”

Willie Richards en sy seun Liam. (Foto: Verskaf)

Die 14-jarige Liam het by sy pa aangesluit vir die laaste skof van die roete. Hy wou bars van trots.

Die roete is pragtig, sê Richards en skets ʼn prentjie van berge en valleie van Kaapstad af tot in die Tuinroete. “Wat my verstom het, is hoe die plantegroei so verander het in die verskillende streke. Ek het ook ʼn slang of twee gesien, maar ek was te moeg om my oor hulle te bekommer, en daar was ʼn paar steenbokkies langs die pad.”

Die uittog het soveel aandag getrek dat hy in die laaste week nog R30 000 ingesamel het vir sy doel. Hy sê dat die fondsinsameling nog tot 1 November sal strek.

Richards weet nog nie watter soort avontuur met ʼn doel hy volgende gaan aanpak nie, maar daar sal definitief nog ʼn ekspedisie wees, want volgens hom is sy werk om geld vir diere in te samel nog lank nie klaar nie.

“In my kop dink ek aan ʼn baie droër plek, êrens met baie meer sand. Dit kan dalk in Namibië wees, maar ek speel nog met idees. Vir nou moet ek eers al die papierwerk van die uittog klaarmaak en al die wonde laat genees.”

Hy is egter intussen gevra deur die organiseerders van XploreX – Adventurers Sharing Tales for Tails om ʼn praatjie oor sy avontuur te lewer. Hy sal een van 12 sprekers wees by die bewusmakingsdag wat op 2 November by die Italiaanse Klub, in Milnerton, gehou gaan word.

Die organiseerders van die geleentheid nooi sportpersoonlikhede en avonturiers uit om hulle ervarings met die publiek te deel. Die geleentheid het ook ten doel om verdere fondse vir diere-liefdadigheid in te samel.

Lesers kan gerus Willie Richards se 550kmPlus Facebook-blad besoek, asook African Tails en XploreX se blaaie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

jean ·

Haal my hoed af vir jou en jou liefde vir diere Willie!!!!!!!!!! Dankie!

Marietjie Stander ·

Wonderlike werk, hou so aan. Sterkte met die pad wat voorle

Marietjie Stander ·

Wonderlike werk, hou so aan. Sterkte met die pad wat voorle

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.