Waar kom die Groot Trek-inligting vandaan wat ons gebruik?

Dr. Jackie Grobler

Maroela Media en sy lesers trek heerlik op die spore van die Groot Trek saam met bekende en minder bekende trekkers soos Piet Retief, Louis Tregardt, Dingaan, Anna Steenkamp, Hanna Scheepers, Ferdinand van Gass en Hendrik Potgieter. Mense wat dié profiele op Facebook volg, sien daagliks wat 175 jaar gelede op die Groot Trek gebeur het. Lesers kom meer te wete oor liefdes wat op die trek ontwikkel, hartseer gebeurtenisse soos klein kindertjies wat sterf, vreugdevolle oomblikke soos huwelike, en selfs vermaaklike insidente soos honde wat die hasepad kies wanneer hulle leeus ruik.

Maar hoe feitelik korrek is die inligting wat tydens dié veldtog gepubliseer word?

Maroela Media se doel met die Groot Trek Facebook-veldtog is dat die trek nie vir lesers net vermaaklik en interessant aangebied moet word nie, maar ook feitelik so korrek moontlik. Daarom word ‘n verskeidenheid betroubare bronne gebruik, waarvan die volgende die belangrikste is:

– Dr. Jackie Grobler, verbonde aan die departement historiese en erfenisstudies aan die Universiteit van Pretoria, verskaf daaglikse inligting waarmee profiele opgedateer word. Dr Grobler gebruik verskeie historiese bronne, wat onder meer Louis Tregardt se dagboek en ander trekkers se dagboeke insluit.

– Die boek “Op trek: die daaglikse lewe op die Groot Trek” word dikwels gebruik vir foto’s, gebruike, resepte ensovoorts. Die boek is saamgestel deur J. Celestine Pretorius. Die ander skrywers wat by dié boek betrokke was, is André Malan, Alana Bailey, Sandra Saayman, H.S. (Tia) Hugo en J.F. (Joey) Wilmans. Die kuratrise is H. Turkstra by die Voortrekkermonumentsentrum. Die ontwerp en tekeninge is deur Annie Snyman behartig en Tia Hugo en Mauritz Naudé is verantwoordelik vir die tekeninge in die boek. Colin en Isabel Jansen het die fotografie en ontwikkeling behartig. Die vakkundige adviseur was Jacques Malan en Protea Boekhuis het die boek in 2008 in Pretoria uitgegee.

“Trekkerkinders: Kom trek saam met dapper kinders van die Groot Trek 1835 – 1838” is deur Danie Langner geskryf en Linda Malan en Retha Woodman was verantwoordelik vir die illustrasies. Die boek is in 2012 deur Kraal Uitgewers (deel van die Solidariteit Beweging) in Centurion uitgegee.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.