Waarborg dat jy die waarborg verstaan

Verbruikers loop dikwels die woord “waarborg” raak in advertensies en gewoonlik ook die woord se Engelse eweknieë, genaamd “warranty” en “guarantee”. Die feit dat iets gewaarborg is, maak dit egter nie dadelik beter as ander produkte of dienste nie en verbruikers is dikwels verward oor wat dit regtig beteken. Ina Opperman verduidelik wat waarborge, “warranty” en “guarantee” behels.

Die terme “guarantee”en “warranty” word beskryf as ‘n belofte dat ‘n maatskappy iets wat jy koop gratis sal herstel of vervang as iets daarmee verkeerd is, binne ‘n sekere tydperk, of andersins ‘n belofte of versekering, veral op skrif, wat die gehalte van ‘n produk of diens verseker. Hierdie woorde word egter dikwels op dieselfde grondslag gebruik as ‘n aanduiding dat die koper van ‘n produk of diens regverdig vergoed sal word indien iets skort daarmee.

Voetstoots

Handelaars mag nie meer goedere as ‘voetstoots’, waar goedere met defekte en al verkoop word, verkoop nie. Jy kan net instem om goedere voetstoots te koop indien die transaksie nie onder die Wet op Verbruikersbeskerming val nie, soos die private verkoop van ‘n huis.

Die Wet op Verbruikersbeskerming

Die Wet maak voorsiening vir die gehalte van goedere en dienste in verskillende artikels. Volgens artikel 54 kan jy van ‘n handelaar verwag om ‘n diens betyds te lewer en voltooi of betyds ingelig te word indien daar ‘n vertraging gaan wees.

Die diens moet verrig word op die manier wat jy verwag en alle produkte wat daarmee verband hou, moet ook van goeie gehalte en sonder defekte wees. Jou eiendom moet ook hanteer word met sorg om te verseker jy kry dit ten minste in dieselfde toestand terug. Indien die diens nie van goeie gehalte is nie, kan jy van die handelaar verwag om defekte te herstel of ‘n billike deel van die prys aan jou terug te betaal na gelang van die probleem.

Artikel 55 bepaal jy kan verwag dat goedere wat jy koop sal doen waarvoor dit ontwerp is en van goeie gehalte is, in ‘n werkende toestand en sonder defekte. Volgens artikel 56 is daar ‘n versweë waarborg in elke transaksie wat onder die Wet val en goedere moet voldoen aan die bepalings van artikel 55. Die versweë waarborg is nie van toepassing op geskenke nie, maar die persoon wat die geskenk gekoop het, kan sy regte in terme van artikels 55 en 56 uitoefen.

Waarborge op herstelwerk

Volgens artikel 57 het herstelwerk, wat die onderdele en arbeid insluit, ‘n waarborg van drie maande, maar normale slyting en ongepaste verbruik word nie gedek nie.

Uitdruklike waarborg

‘n Uitdruklike waarborg (express warranty) is gewoonlik ‘n duidelike verklaring oor die gehalte, toestand, werkverrigting of kenmerke van goedere en die maatskappy waarborg dat die goedere aan die uitdruklike waarborg sal voldoen. Die verklaring dat ‘n veiligheidshek “onbreekbaar” is, is ‘n voorbeeld van ‘n uitdruklike waarborg.

Vervaardigerswaarborg

Die vervaardigerswaarborg is gewoonlik ‘n waarborg dat die produk geen defekte het nie vir ‘n sekere tyd of andersins vervang sal word of jy sal jou geld terug kry. Wanneer ‘n bed byvoorbeeld vir tien jaar gewaarborg is en dit breek na vyf jaar, moet die maatskappy die bed herstel of jou geld terugbetaal.

Verbruikers kan gerus bedag wees daarop dat bedwaarborge gewoonlik ‘n “guarantee” het vir ‘n sekere tyd en ‘n “warranty” vir nog ‘n paar jaar. In hierdie geval word die bed gratis vervang of herstel indien jy binne die “guarantee”-tydperk kla, maar indien jy binne die “warranty”-tydperk kla, sal jy ‘n bedrag betaal om die bed te laat herstel of vervang.

Uitgebreide waarborge

‘n Uitgebreide waarborg (extended warranty) word aangebied wanneer die vervaardiger se waarborg verval. Jy koop hierdie waarborg gewoonlik vir ‘n motor of toestel.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.