Wafeltradisie op Valentynsdag het hoërskoolleerders gaande

Jeanette van Staden het 436 wafels vir Valentynsdag gebak. (Foto: Facebook via Hoërskool Centurion - Woerie Kampus)

Jeanette van Staden het 436 wafels vir Valentynsdag gebak. (Foto: Facebook via Hoërskool Centurion – Woerie Kampus)

Jeanette van Staden, adjunkhoof vir akademie aan die Hoërskool Centurion, bederf al sedert 1989 die leerders in haar klas met hartjievormige wafels vir Valentynsdag en vanjaar was geen uitsondering nie.

Dié lieftallige onderwyseres, wat vanjaar vir die 38ste jaar by dié skool Wiskunde aanbied, bring die afgelope 30 jaar elke jaar op Valentynsdag ʼn hartjievormige wafelpan skool toe.

“In ʼn stadium kon jy ʼn blommetjie vir iemand stuur as jy hulle bewonder en elke jaar was daar dan soveel kinders wat niks kry nie. Ek het toe besluit ek hou nie daarvan nie en het in my klas ʼn tradisie begin deur wafels vir elke kind in my klas te bak.”

Sy vertel dat sy gewoonlik vir gr. 11‑ en 12-leerders skoolhou, maar dat sy vanjaar gr. 10-leerders in haar klas het. “Dit was die eerste keer wat hulle in die pret kon deel en hulle wou sommer dadelik weet of hulle volgende jaar weer kan wafels kry, maar ongelukkig sal dit vanjaar hul eerste en laaste kans wees, aangesien ek einde van die jaar aftree.”

'n Leerder smul in Van Staden se klas aan 'n wafel. (Foto: Nadia Fourie via Facebook)

‘n Leerder smul in Van Staden se klas aan ‘n wafel. (Foto: Nadia Fourie via Facebook)

Van Staden vertel sy laat nie gewoonlik selfoongebruik in haar klas toe nie, maar dat sy op Valentynsdag ʼn spesiale vergunning maak sodat die kinders hul wafelpret kan afneem. “Die kinders is mal daaroor!”

Sy het vanjaar vir haar medepersoneellede gebak en haar wafelpan het 436 wafels geproduseer. Die skool se sosiale komitee het gehelp met die verskaffing van ander lekkernye soos roomys en stroop. “Ek koop sommer self die bestanddele vir die beslag ook aan.”

Van Staden sê hoewel sy die kinders volgende jaar vreeslik gaan mis, beplan sy om ʼn wiskundeskool by haar huis te open. “Ek gaan nie rus nie. Ek gaan ouma speel en bak vir die kleinkinders!”

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

GRIET ·

??WAT Ñ PRAGTIGE GEBAAR VAN LIEFDE EN NAASTELIEFDE,MEV. VAN STADEN.. ??? ons land kort méér mense soos u!
WELGEDAAN ??

SNEL ·

Ek stem Griet, glo baie kinders sal dit vir altyd onthou. Wat n wonderlike juffrou.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.