Walkerbaai-swem: Tot in ongerepte water vir sinkende kunste

Carina Bruwer. (Foto: Facebook)

ʼn Week gelede was Carina Bruwer nog besig om tot verhaal te kom nadat sy die eerste swemmer geword het wat die ope waters van Walkerbaai tussen Hermanus en Gansbaai aangedurf het.

Sy het op Vrydag 12 Maart ʼn roete van 21 km binne ses ure en 23 minute voltooi – ʼn tyd wat sy glo vinniger sou wees as die seestroom nie daardie dag so sterk teen haar was nie.

Bruwer (41), ʼn ervare oopwaterswemmer wat al wilde waters reg oor die wêreld verken het, is ook bekend as fluitvirtuoos en lid van die bekroonde instrumentele groep Sterling EQ. Sy het al die Engelse Kanaal en die Straat van Gibraltar agter die blad en nou is sy ook ʼn pionierswemmer van Walkerbaai.

“Dit is baie spesiaal om te weet ek het in ʼn massa water geswem waarin geen ander persoon nog ooit geswem het nie. Dit was so wild en mooi en vry,” sê Bruwer oor dié mylpaal.

Die swemgeleentheid is binne twee dae gereël toe Bruwer besluit het sy wil iets merkwaardig doen om die Tribuo-fonds, ʼn private en niewinsgewende fonds vir vryskutkunstenaars en lede van verwante bedrywe wat hul inkomstebronne as gevolg van die inperkingsmaatreëls weens die Covid-19-pandemie verloor het, te ondersteun.

Sy vertel Hugo Theart, direkteur van die Klein Karoo Nasionale Kunstefees en bestuurslid van die Tribuo-fonds, het “amper van sy stoel afgeval” toe sy hom bel met haar idee vir ʼn geldinsamelingsprojek.

“Ek wou graag iets doen wat kunstenaars ondersteun en die Tribuo-fonds is ʼn betroubare organisasie wat rolspelers in elke afdeling van die uitvoerende kunste ondersteun. Ek weet die fonds gee altyd ʼn ekstra tree en dat die geld by die regte begunstigdes sal uitkom.”

Tog het sy “effe mal” gevoel die dag toe sy op die strand in Hermanus staan en besef daar is nie nou meer omdraaikans nie. ʼn Musiekgroep het op die strand vir haar gespeel om haar af te sien en sterkte toe te wens.

Carina is ‘n fluitvirtuoos en lid van die bekroonde instrumentele groep Sterling EQ. (Foto: Facebook)

“Ek het ongelooflik emosioneel gevoel. Die afgelope jaar was ʼn baie emosionele tyd vir almal en vir my ook. Ek het gevoel asof ek ʼn doel het. My gevoelens was baie gemeng, maar die oomblik wat jy die water tref, gaan jy in ʼn ritme in en baie gedagtes maal deur jou kop. Dis wanneer die warboel in jou kop gaan lê dat jy die mooi dinge rondom jou begin raaksien.”

Bruwer kan nie uitgepraat raak oor die wonderlike seelewe wat sy in Walkerbaai se waters beleef het nie. “Die seelewe was fantasties, al was die water ʼn bietjie donker. Ek het klein dolfyne en robbe gesien. Dit was ook die eerste keer wat ek pikkewyne teëgekom het en dit het so eksoties gevoel.”

Sy vertel sy en Herman de Vries, wat ʼn ent saam met haar geswem het, het borrels onder die water opgemerk en was eers bekommerd dat ʼn haai dalk lê en loer, maar dit was toe gelukkig net ʼn rob.

“’n Mens is maar altyd bewus van wat om jou aangaan, maar ek het baie veilig gevoel. Ek het ondersteuningsbote gehad met twee persone wat slegs op die uitkyk was vir haaie. Ek moet egter bieg dat ek geen vrees vir haaie of ander seelewe koester nie. Ek het myself net gate uit geniet.”

Vir koue seewater was die water se temperatuur eintlik “warm”, sê Bruwer, wat vir haar swem in die Engelse Kanaal 10 kg opgetel het om die koue water te kan hanteer.

“My liggaam het aan die water gewoond geraak. Ek het nie onder die water gebewe nie en kon beheer hou oor my vingers. As dit een graad kouer was sou ek die swem voltooi het, maar ek sou dit nie soveel kon geniet nie.”

Volgens Bruwer sal dit haar altyd bybly hoe die gemeenskappe van Hermanus en Gansbaai haar aangemoedig het en haar in haar hartstaak ondersteun het.

“’n Groep vroue op Gansbaai het donasies op die dorp gevra en amper R9 000 ingesamel terwyl sowat 60 mense op die strand vir my gewag het toe ek uitgeswem het. Ek sal dit altyd onthou.”

Haar dappere poging het tot dusver skenkings van R85 000 ingeoes, wat aangewend sal word om vryskutkunstenaars te ondersteun. “Ek hoop dat ons dié bedrag kan verdubbel. Daar is soveel mense daar buite wat hierdie fondse broodnodig het.”

Die inperking weens die Covid-19-pandemie was vir haar as kunstenaar, maar ook as ma van drie jong spruite, moeilik om te hanteer. Sy lag wanneer sy vertel haar kinders is maar skepties oor haar uitspattige idees, soos om volgende lyf nat te maak in die Costa Brava in Spanje.

“Water is my ontvlugting en dit hou my kop skoon, al sê my 12-jarige ek is onverantwoordelik,” lag sy.

Ondersteun die Tribuo-fonds deur die webwerf te besoek en ʼn skenking te maak.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Elmarie ·

Komaan mense, jou rande kan ons kunstenaars help! Hulle moet ook eet, water en elektrisiteit, huur, skoolfonds ens betaal so elke bietjie help! Hope kospakkies is al uitgedeel by townships ens maar ons vergeet van die kunstenaars wat ons lewens inkleur met musiek en toneel, so laat ons help!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.