Wanneer is die beste tyd om jou Desembervakansie te bespreek?

[Promosie-artikel]

 

Die Desembervakansie is verby, die kinders is terug in hul skoolbanke en jy skuif alweer agter jou lessenaar in. Min dinge maak mens meer lus vir ʼn vakansie as kopseerdae op kantoor. Jy het skaars jou tasse uitgepak en die sand uit jou swembroek gewas, maar jy verlang alreeds na die luilekker vakansiedae. As kantoorkoors jou sommer met die intrapslag al getref het, het ons goeie nuus vir jou: die beste tyd om jou Desembervakansie te bespreek is juis nóú!

Jurgens Liebenberg, besprekingshoof by die Afrikaanse akkommodasie-besprekingswebblad, LekkeSlaap, sê “Dis altyd beter om vroeër te bespreek vir Desembervakansies, want dan het jy ʼn groter verskeidenheid opsies om van te kies. Jy behoort ook vroeër in die jaar ʼn beter prys te kry, aangesien bekostigbare plekke vinniger bespreek word. Dis ook lekker om vroeër in die jaar te bespreek, want dan is die kopseer van beskikbaarheid iets van die verlede en het jy meer tyd om te fokus op wat julle gaan doen.” LekkeSlaap het dus ondersoek ingestel en 5 goeie redes gevind waarom jy jou Desembervakansie sommer nóú al moet bespreek.

  1. Jy het eerste keuse

As jy jou Desembervakansie vroegtydig bespreek, het jy ʼn groter keuse van beskikbare plekke. Ongelukkig word die somervakansie-blyplekke in Suid-Afrika baie gou bespreek en hoe langer jy wag, hoe minder plekke is oor. As jy dus jou oog op ʼn besondere of spotgoedkoop plekkie het, of as jy droom van ʼn huisie reg teen die see, moet jy eerder nou al navraag doen. Dit is nie ongehoord dat mense na ʼn suksesvolle vakansie die volgende een sommer klaar weer bespreek nie.

En moenie vergeet van jou dierekinders nie! Troeteldiervriendelike wegbreekplekke is beperk en as jy ʼn troeteldier het wat nie saam kan vakansie hou nie, gaan jy moontlik ʼn dierehawe of hondehotel moet kontak om ʼn plekkie vir jou viervoetige vriend te verseker. ʼn Groot persentasie Suid-Afrikaners is troeteldiereienaars en daarom is dierehawes en troeteldiervriendelike blyplekke nét so gou vol bespreek. Maak dus seker jy én jou dierekind het ʼn lekker blyplek vir Desember deur vroeg al jou planne te finaliseer.

  1. Dit is ʼn mite dat jy spesiale aanbiedings kry as jy tot op die laaste nippertjie wag

Diegene wat glo dat jy uitstekende afslag op spog-blyplekke kry as jy tot die laaste minuut wag, het dit ongelukkig mis. Dit mag dalk wees dat jy buite seisoen ʼn spesiale aanbod op die laaste minuut raakloop, maar definitief nie gedurende die somervakansie nie. As jy wag tot op die laaste nippertjie, kan jy dalk ook met ʼn skok vind dat die plekke al hoe duurder word hoe langer jy wag. Dit kan selfs wees dat jy spesiale aanbiedings juis vroeër sal vind, aangesien akkommodasie-eienaars ook wil verseker dat hul plekke in die gewildste seisoen volbespreek is.

  1. Dis ligter op jou beursie

Almal hou van ʼn goeie plan om geld te spaar en om jou vakansie vroeg te bespreek, is definitief goed vir jou sak. As jy gereeld vlieg, sal jy weet daar is geheime tye wanneer vliegtuigkaartjies goedkoper is. Die reël hier is weereens: “Hoe vroeër, hoe beter,” want hoe nader die maande aan Desember kruip, hoe duurder word vliegtuigkaartjies. LekkeSlaap het ook gaan ondersoek instel om jou vliegtuigkaartjie-soektog nóg makliker te maak. Navorsing toon dat binnelandse vlugte op Saterdaemiddae gewoonlik goedkoper is en vlugte op Vrydag die dertiende soms ook. Die feit bly staan, as jy vroeg bespreek, het jy die kans om die goedkoopste vlug te kry vir die spesifieke datum en tyd wat jy wil reis. Anders sal jy moontlik ʼn goeie prys kry, maar dalk op die verkeerde datum.

Desember in ons lieflike land sit gewoonlik klaar baie druk op jou jaarlikse bonus sonder om eens die verblyf- en vervoerkostes in ag te neem. Met kinders wat besig gehou moet word, uitstappies na lekker plekke, uiteet en geskenke vir die Kersboom, is dit dalk makliker om die duurste uitgawes sommer vroeg in die jaar al uit die weg te ruim, sodat jy nie in Desember daaroor óók hoef te bekommer nie.

  1. Dis goed vir jou gemoedstoestand

Hoe vroeër jy jou planne finaliseer, hoe minder gespanne gaan jy wees. Dit is tog logies dat jy minder sal wroeg oor die stand van jou vakansieplanne as dit sommer in Januarie al klaar bespreek is en die deposito reeds betaal is. Wanneer Desember dan sy opwagting maak, kan jy net agteroor sit en breed glimlag, terwyl ander nog soos afkophoenders rondhol op soek na die laaste beskikbare hotelkamers of vlugte. Sodra al die administrasie uit die weg geruim is, het jy die res van die jaar om te dagdroom oor luilekker somerdae en kan jy eerder beplan aan al die doendinge wat jy die vakansie wil aanpak.

  1. Verlof en oorslaapverblyf

Aangesien Desember die gewildste wegbreektyd van die jaar is, is jy beslis nie die enigste een wat droom van ʼn heerlike seevakansie nie. Baie ondernemings sluit en talle werkendes het verpligte verlof. Dit is ook internasionale toeriste se gunstelingtyd om SA se pragtige, sonnige dae en helderblou see te geniet. Dít gee jou al hoe meer rede om vroeg met jou beplanning te begin, aangesien jou vakansiebestemming dalk só ver van jou huis af is, dat jy iewers langs die pad sal moet oorslaap. Al is daardie oorslaapplekkie in die middel van die Karoo, kan jy maar seker wees daar is iewers iemand wat daardie dorre vlaktes tydens Desember verkies. Beplan dus vroeg om alle moontlike haakplekke te vermy.

Nog iets om in gedagte te hou, is verlof. Nie alle ondernemings en kantore sluit oor die Desembervakansie nie en dus moet die meeste van ons lank voor die tyd aansoek doen vir verlof oor die feestyd.

Jy is definitief nie die enigste een wat dan gehaltetyd saam met jou gesin wil deurbring nie. Stuur dus jou verlofversoek sommer lekker vroeg in. Dit help mos glad nie as die strandhuis bespreek is, maar jy kan nie gaan nie!

Daar het jy dit. Die Desembervakansie mag dalk nog baie ver voel, maar hoe vroeër jy wegspring met jou vakansieplanne, hoe beter ─ en nou het jy  vyf goeie redes waarom jy sommer nou al moet begin!

 Hierdie artikel is opgestel deur Mika Stanvliet in samewerking met Jana Barnard en Ankia Wolf.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.