Wanneer jy jouself misloop

Johnell van Vollenhoven (Foto: Verskaf)

Solidariteit Helpende Hand se FroueVonds (opsetlik verkeerd gespel om te beklemtoon dat alles nie altyd reg loop nie) poog om deur vroue se verhale en ervarings, meisies en ander vroue te bemagtig en te inspireer. Johnell van Vollenhoven, media- en skakelbeampte van Solidariteit, maak haar hart oop oor selfliefde, foute en die belangrikheid daarvan om jouself te vind en te wees.

Baie van ons vind die liefde uitdagend – binne ʼn verhouding of huwelik, om nie eens te praat van om enkellopend of geskei te wees nie – min wetende dat ons eers liefde vir onsself moet voel.

Liefde is vir my moeilik. Ek het gesukkel om dit te gee, maar ek het veral gesukkel om dit te ontvang. Ek was gespanne en het myself toegevou binne mure waar ek niemand wou toelaat nie, net om agter te kom dat daardie mure in die eerste plek nooit moes bestaan nie.

Ek het myself vir ʼn paar dae geïsoleer, en in plaas van dínk, het ek gaan vóél. Gaan voel wat in my hart aangaan; nie meer weggeskram van emosies nie, maar myself daaraan oorgegee. Stukkie vir stukkie het ek heel geraak, werklik die eerste maal in my lewe; bietjies-bietjies het ek liefgeraak vir die “ek” wat ek so graag oordeel.

Ek het een oggend wakker geword, en iets binne my was net skielik anders. Die liefde wat God my in staat gestel het om te voel, te gee en te ontvang, het skielik vanuit my binneste geborrel. Ek het vrede in my hart gehad. Ek het my eie waarde besef sonder om dit aan my tekortkominge te meet, maar dit het begin met ʼn lysie van dinge waarvan ek myself ontneem. Ek deel graag:

Wat verbeur ek:

  • My onvoorwaardelike liefde
  • My lojaliteit en ondersteuning
  • Die warmte van my hart
  • Die geborgenheid van my gesin
  • Kersfees
  • Nuwejaar
  • Verjaardagtradisies
  • Koue aande by die kaggel
  • Somersdae by die swembad
  • Sport
  • Vakansies sonder stres
  • Iemand wat my hand vashou
  • Iemand wat my wil versorg
  • Iemand wat my beskerm
  • Iemand wat my styf teen hom kan vasdruk en kan sê: “Jy is myne”
  • Iemand wat saam met my kan bid
  • Iemand wat saam met my ook hard werk
  • Iemand wat saam met my bou
  • Avontuur
  • Pret
  • Intimiteit
  • Laataandkuiers en -koffies tot die son opkom
  • Stout wees
  • Diep wees
  • Simpel wees
  • Die omkeer van elke moeilike situasie in ʼn kosbare herinnering

Ek sien nou vir hoe lank ek nie volkome myself was nie. Ek was bang dat ek nie goed genoeg sou wees nie. Ek het die lawwe weergawe van myself verbloem – my flambojante lus vir die lewe met stilheid beperk.

Dit is nie wie ek is nie. Ek is mal daaroor om kattekwaad aan te vang. Ek het ʼn onblusbare lus vir die lewe. Ek is uitgesproke. Ek is uitlokkend, soms wulps en ondeund. Vriendelik. Ek is ook lojaal, onwrikbaar getrou en vas in my grense en waardes.

Ek hou van vlieg. Ek hou van ontdek, en ja, ek erken dit, ek wil bekend wees, of net erkenning ontvang vir hoe ek die wêreld met my menswees aanraak, hoe ek vir verandering veg en skop teen dit wat verkeerd is. En dalk wil ek so bietjie hê mense moet dink ek is slim. Ek kan dit nie help nie.

Dit is inherent deel van wie ek is. As ek kon sing, sou ek seker ʼn bekende sanger wou word. Dit is ʼn deel van my waarteen ek vir baie lank baklei het omdat ek gevoel het dit is ydel en verkeerd, maar dit is nie een van die twee dinge nie.

Ek het myself aanvaar vir wie ek is. Ek is ʼn kind van God. My liefde vir Hom is dieper as vir myself of enigiets of -iemand anders. Binne sy wette en sy wil sal ek my roeping uitleef.

Ek het baie foute in my lewe gemaak. Herhalend. Foute wat ek nie moes maak nie. Ek het dikwels my fokus verloor en op dinge gekonsentreer waarop ek nie moes konsentreer nie. Die klein dingetjies het my so uitgestres, en ek wou dit so graag perfek hê dat ek nie raakgesien het hoe ek verder van myself en my drome verwyder raak nie. Ek het nooit ontspan nie. Ek wou so graag die perfekte vrou wees dat ek vergeet het dat “perfek” nie bestaan nie en dat ek eerder net myself moes wees, sodat my hart duidelik sigbaar is.

Geen wonder ek word wantrou nie, want ek het gelieg. Ek het dele van myself doelbewus weggesteek omdat ek daaroor skaam was. Ek gaan nie meer nie. Die wêreld kan maar sien hoe ek van binne lyk, al is dit nie aldag mooi nie.

Soms voel ek jaloers, soms voel ek kwaad, soms voel ek nie genoeg nie en soms voel ek lelik en vet. Ek het ʼn vieslike humeur as ek werklik kwaad raak. Dan kan ek so wreed wees, veral met woorde. Ek haat dit van myself en probeer my bes om daardie lelik nie te laat uitkom nie.

Ek kan manipuleer. Alhoewel my gewete keer dat ek nie so sal optree om ten koste van ander my sin te kry nie, moet ek myself steeds van tyd tot tyd stop – al is dit die kleinste, onskadelikste situasie. Dit is natuurlik handig om woorde te kan manipuleer om nuwe betekenisse oor te dra en die mooiste woordkuns daaruit te kan skep om daardeur emosie te kan ontlok en harte te kan aanraak.

Dan is ek natuurlik selfsugtig. Ek hou van my sin en om dit te kry, maar nie bewustelik ten koste van ander nie. Ek sal nooit iets doen om ʼn ander seer te maak nie, maar soms is ek so behep met waarmee ek besig is, dat ek nie besef dat ek iemand anders te na gekom of seergemaak het nie. Dit is nooit opsetlik nie, en ek voel altyd na die tyd vreeslik sleg. Dan probeer ek regmaak en in die toekoms my mense meer in ag neem, maar so ʼn gebeurtenis is altyd pynlik vir my en die mense naby my.

Ten spyte van al hierdie tekortkominge is ek ʼn goeie vrou. Ek is ʼn vrou met arms vol liefde en ʼn hart vol hoop, wat my gesin koester, versorg, toevou en agteroor buig om vir hulle geleenthede te skep en dinge moontlik te maak.

My foute maak nie van my ʼn slegte mens nie, dit maak van my mens. Die feit dat ek groot genoeg is om dit te erken, sodat ek daaraan kan werk of sommige daarvan af te leer, beteken dat ek groei en ontwikkel in die persoon wat God wil hê ek moet wees.

Ek is jammer ek vergeet dit soms. Ek is jammer dat ek te hard probeer en myself en my lewe nie genoeg in Sy hande oorlaat nie. Ek is jammer dat ek soos ʼn pateet agter mense en goed aanjaag en myself in die proses verloor omdat ek onder ʼn wanindruk is dat dit my heel sal maak.

Ek weet dit egter nou, en ek erken dit, en ek aanvaar eienaarskap. Dis wie ek is. Klaar gelieg en klaar voorgegee. Nou neem ek verantwoordelikheid, en ek kyk in my eie oë.

Ek het myself, en daarmee gepaard my vryheid, gevind.

  • Bestel nou jou A5-grootte FroueVonds-dagbeplanner vir 2022 met inspirasiestukke uit die pen van Lynette Beer. Met die aankoop hiervan verseker jy dat die FroueVonds onder meer studiegeleenthede vir behoeftige meisies en vroue moontlik kan maak. Bestel die dagbeplanner aanlyn hier.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.