Wanneer kompleksdrome kompleksnagmerries word

Foto: Pixabay

Baie verbruikers bly deesdae in komplekse omdat dit hulle veiliger laat voel om in ‘n geslote gemeenskap te bly en dit heel dikwels al is wat hulle kan bekostig. Van woonstelle tot duur landgoede tot aftreeoorde maak deesdae hiervoor voorsiening. Hierdie eenhede kom egter almal met ‘n stel reëls en ‘n raad wat besluite neem waarmee almal wat daar bly, nie noodwendig tevrede sal wees nie. Ina Opperman verduidelik waarvoor jy op die uitkyk moet wees en hoe om jouself en jou regte te beskerm.

Daar is verskeie aspekte wat jy moet oorweeg voordat jy ‘n ooreenkoms teken vir ‘n plek in ‘n woonplek in ‘n kompleks. Die heel eerste ding om na te kyk is die reg van verlenging (real right of extension), wat betrekking het op die verlenging van ‘n deeltitelskema deur dele of gebiede vir eksklusiewe gebruik by te voeg. Die tydperk hiervoor is ook belangrik, want as dit nie vasgestel word nie, kan hierdie reg ter eniger tyd uitgeoefen word.

Tweedens is dit belangrik om seker te maak wat jy gaan besit waar jy koop. Is die tuintjie, patio of parkeerplek vir jou ekslusiewe gebruik en wie is verantwoordelik om dit in stand te hou? Hoe gaan dit jou heffing beinvloed? Stel vas presies hoeveel jy elke maand en per jaar gaan betaal om seker te maak dit pas in jou begroting.

Maandelikse heffings

Stel ook vas waarvoor die heffings betaal. Gewone heffings word gebruik om die bedryfskoste en instandhouding en herstelwerk te betaal. Heffings word bepaal op grond van die grootte van die eiendom wat jy besit. Spesiale heffings word ingespan vir uitgawes waarvoor nie begroot is nie en net die trustees kan hieroor besluit. Hierdie heffings word ook bepaal deur die grootte van jou eiendom, maar eienaars kan wel spesiale heffings bevraagteken.

Reëls

Dan is dit ook uiters belangrik om die reëls wat inwoners moet nakom baie goed deur te lees. Die reëls is deel van die verkoopsakte en as jy daar bly, moet jy daaraan voldoen. Maak seker of jy met al die reëls kan saamleef. Het jy klein kinders wat baie raas of troeteldiere? Wat bepaal die reëls as jy wil aanbou of hoe moet jou blyplek van buite lyk? Word boetes gehef vir oortredings of wanbetaling van heffings? Dit kan jou baie duur te staan kom om die reëls uit te daag as jy eers vir jou woonplek geteken het.

Die regspersoon

Almal wat eiendom in ‘n kompleks besit is lede van die regspersoon (body corporate) en hulle moet trustees kies wat die kompleks kan bestuur saam met ‘n bestuursagent. Die trustees moet die begroting opstel vir die volgende vyf en tien jaar en ‘n behoorlike skuldinvorderingsprogram moet gebruik word om agterstallige heffings te beperk. Lede moet seker maak dat hulle die jaarvergadering van die regspersoon bywoon, want dit is die beste manier om vas te stel waarvoor jy moet en wil betaal en enige kwessies te bespreek.

Trustees

Die trustees wys die bestuursagent aan en neem mense in diens. Hulle moet seker maak dat hulle genoeg geld het om hul funksies te vervul en toerusting te huur of koop om die kompleks in stand te hou. Dit beteken die instandhouding van geriewe, soos ‘n swembad, tuine en grasperke wat vir algemene gebruik is en ander dienste wat nodig is. Hulle moet dan die geld wat nie dadelik benodig word nie, belê. Die trustees is ook verantwoordelik vir die uithuur van die gedeelde eiendom aan inwoners, soos parkeerplekke en die toegang tot ekslusiewe areas vir instandhouding. Sekere pligte kan aan spesifieke trustees toegewys word.

Hulle bepaal die heffings, vorder dit in en administreer dit en hou die bankrekening in stand, verseker alle verbeterings, hou algemene eiendom in stand, hou rekord van alles wat met die regspersoon verband hou en hou die jaarvergadering, waar hulle ook verslag moet doen van die administrasie en finansies. Die finansiële rekords is baie belangrik en moet geoudit word deur ‘n professionele rekenmeestersfirma en geteken word deur die trustees en regspersoon.

Mense wie se heffings meer as 60 dae agterstallig is, wat volgens wet as gesstelik versteurd verklaar is, gesekwestreer is of skuldig bevind is aan ‘n oortreding wat met oneerlikheid verband hou, mag nie as trustees dien nie.

Waar om te kla

Die kantoor van die Ombudsman vir Gemeenskapskemas is gestig in terme van die Wet op Gemeenskapskemas om die gedrag van al die partye in gemeenskapskemas te reguleer en goeie bestuurspraktyke te verseker. Besoek die ombudsman se kantoor by www.csos.org.za as jy wil kla of meer inligting wil hê.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

foxi ·

Ons woon in n kompleks waar daar net ses eenhede is. Ons behoort nie aan n (body corporate) nie. (Free standing) eenhede. Elkeen vir homself. As die hek of elektriese heining n probleem gee, sukkel jy jou agterend af om n skamele R20 uit jou bure te kry. Niemand maak voor hul deure skoon nie, al het hulle bediendes. Die komleks se sypaadtjie voor lyk soos n moeras, vuilgoed van die asblikke lê rond, sowel as gemorspos. Die gemorspos word net so uit die posbus uitgetrek en op die grond gegooi. En niemand sal die moeite doen om krag te koop vir die hek nie. (Prepaid) Die een buurman wag en kyk of die ander buurman nie miskien sal koop nie. Almal wag tot dit stil gaan staan. Hier in die kompleks sal niemand jou groet nie en jy word skeef aangekyk. Jy sal aangeval word….niemand sal eens die moeite doen om jou te kom help nie. Ons het als alleen probeer doen….maar het opgegee. Nou my punt is dit…….MENSE, BEHOORT EERDER AAN N BODY CORPORATE, DAN WEET JY DIE WERK MOET GEDOEN WORD! EN GLO DIT OF NIE…..HIER BLY ALMAL WIT MENSE! Ek kry skaam vir hul slegtheid en hoogmoedigheid en dan wil hulle klippe gooi oor hoekom die land so vuil is…………Vee eers voor jou eie deur buurman. SO SPYT ONS BEHOORT NIE AAN N BODY CORPORATE NIE!!! Se maar net………..

Alida ·

Ai Foxi ek voel vir jou. Ons het trustees by ons kompleks en hul werk regtig hard om almal gelukkig te hou. Alles wat jy sê is so waar. Sleg witmense is darem sleg. By jul sal n plan gemaak moet word. Sterkte! Wens jy was ons bure.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.