Wat as ons armoede grootliks kan oorkom?

hh-armoede-luister

(Argieffoto: Helpende Hand/Verskaf.)

Deur dr. René Hattingh-Rust

In my vorige artikel is aangevoer dat die Christen-netwerk in Suid-Afrika die grootste dormante teëvoeter teen armoede mag wees. Dit mag klink na ’n naïewe antwoord vir ’n baie komplekse probleem, maar dit kan dalk waardevol wees om vanuit ’n ander hoek na die uitdaging te kyk.

(Grafika: Verskaf.)

Is ’n grootskaalse geestelike ontwaking moontlik?

In die konteks van ons huidige argument mag die onderskeidende suksesfaktor ’n nasionale herlewing, overgesetsynde ’n grootskaalse geestelike ontwaking wees.  Dit is nie vreemd aan ons land nie. In 1860 was daar in die Kaapkolonie ’n herlewing wat op Pinksterdag in die gemeente van ds. Andrew Murray (junior) begin het.

Die historikus, prof. Herman Giliomee skryf dat as deel van Brittanje se verengelsingsbeleid, is Engelssprekende Skotse predikante na die Kaap gebring, onder andere, die Murray-familie. Die gebruik van Afrikaans in eredienste, vir gebede of selfs vir persoonlike toewyding, is as onwaardig geag.

Andrew Murray senior, was jare lank predikant van die moedergemeente in Graaff-Reinet en het ’n onuitblusbare honger vir ’n geestelike herlewing gehad.

Die skrywer J. du Plessis[1] skryf dat Murray vir 36 jaar lank elke Vrydag gebid het vir herlewing in Suid-Afrika – dat God se almagtige teenwoordigheid geopenbaar sal word in ’n desperate land, met desperate uitdagings.

Sy seun, Andrew Murray junior, het ook predikant geword. Maar omdat hy te jonk was, kon hy aanvanklik nie aan ’n gemeente toegewys word nie. Hy is gestuur om die geestelike versorging te behartig onder die Afrikaanssprekende Trekboere. Op dié sendingveld het Andrew Murray noodgedwonge Afrikaans geleer – die “kombuistaal” wat as onwaardig vir godsdiensbeoefening beskou was, al was dit die enigste kommunikasiemedium vir die meerderheid Afrikaners. Later het hy die gemeente van Worcester bedien.

Op Pinkstersondag van 1860 het ’n geestelike herlewing in die Worcester-gemeente van Andrew Murray junior begin. Volgens berigte is die gebeure gekenmerk deur ’n spontane en algemene begeerte om God se aangesig opreg te soek en om vergifnis te smeek. ’n Onversadigbare soeke na God. ’n Opmerking in De Wekker-koerant was dat die hele samelewing verander is, letterlik op sy kop gekeer is.

Prof. N.J. Hofmeyr het die sosiale impak van die herlewing beskryf as niks minder nie as revolusionêr. Dorpe en gemeenskappe het in ’n ommesientjie ’n merkwaardige transformasie ondergaan. Die herlewing was nie tot een segment van die gemeenskap beperk nie, maar het grense van ras, geslag en ouderdom oorskry. Jongmense het oornag gedissiplineerde werkers geword wat hulself toegewy het om hul gemeenskap te verbeter en vir hul medemens in te tree, aldus Hofmeyr.

Op my drumpel, in die plakkerskamp in Wildernishoogte, sê ʼn jong bruin seun dat hy baie lief is vir die Here en net wil doen wat die Here wil hê hy moet doen. Hy dink die Here wil hê dat hy op skool goed moet presteer en daarom kom sy skoolwerk nou eerste.

Volgens Du Plessis was ’n merkwaardige kenmerk van die herlewing dat dit nie net beperk was tot dorpe nie. Daar was kragdadige, geestelike ontwaking op afgeleë plase waar manne en vroue in die teenwoordigheid van God was en die geestelike ontwaking vir dae aaneen voortgeduur het. Die skrywer, Vance Christie, meen dat die herlewing oorspronklik begin het op die plaas van David Naude. David se seun Jan, sy niggie mej. van Blerk en ’n werker Saul Pieterse het maande lank saamgebid vir ’n geestelike ontwaking.

Hierdie is ’n belangrike en bemagtigende insig, veral in die lig van die desperate kreun van die man op die radio-inbelprogram oor Suid-Afrika se korrupsie, naamlik “Ek kan dit nie meer vat nie, ek kan dit net nie meer vat nie!”

Ons, dié wat desperaat is, is nie hulpeloos nie. Ons het die moontlikheid om gelowig te bid vir ’n herlewing. Niemand hoef met ons saam te stem nie. Niemand hoef ons te ag nie. Ons kan in ons oortuiging en desperaatheid onverbiddelik voortbeur. Ek weet daar sal kapsie gemaak word, en dat ’n mens moet ophou bid en eerder doen. Doen moet ons en sal ons, maar daar is tye wanneer ’n mens baie desperaat is.

Vir Dr. Peter Hammond was ’n gevolg van die 1860-herlewing dat Afrikaans later as ’n amptelike taal van Suid-Afrika erken is omdat dit die taal van die kansel geword het. In dié verband noem prof. J.C. Steyn[2]: “Die strewe na ‘n Afrikaanse Bybelvertaling het só tot die eerste georganiseerde taalbeweging gelei.”

Was dit ’n verengelsingsbeleid wat liederlik geboemerang het?

Die herlewing in die Kaapkolonie ten tye van die Murrays het punt-vir-punt-gebeure gehad wat as sneller gedien het. Punt-vir-punt-gebeure is dikwels sosiaal, ekonomies, staatkundig en polities van aard, daarvan het ons vandag ’n oorvloed in Suid-Afrika nodig.

’n Verdere gevolg van hierdie, sowel as die Pinksterherlewing van die vroeë 1900’s, is dat Suid-Afrika ’n Christen-netwerk as gemene deler oor ons diverse samelewing het. Tydens die Internasionale Konferensie vir Verantwoordelike Leierskap, gehou in 2012 by die Universiteit van Stellenbosch, het internasionale sakeskole, akademici en korporatiewe ondernemings bymekaargekom om te besin oor die fundamentele verskuiwings wat die wêreld nodig het om leierskap volhoubaar te maak.

Tydens hierdie werksessies het ons geopper dat Suid-Afrika kan baat by die toerusting van die Christelike netwerk om so ’n nuwe generasie verantwoordelike leiers op te lewer. Ons gespreksgenote van oor die wêreld heen, sommige wat erken dat hulle self nog nooit die binnekant van ’n kerk gesien het nie of van iemand weet wat kerk toe gaan nie, was verbaas oor die reusehulpbron wat deur die diverse bevolking van Suid-Afrika verweef lê.

Dat hierdie Christen-netwerk groot tekorte het, is beslis – ons weet dit, want ons het dit ons besigheid gemaak om hulle te ken. Die beskuldiging dat die Christen-netwerk in Afrika ’n myl wyd, maar ’n duim diep is, is in seker gevalle waar.

’n Laaste kantaantekening oor die potensiaal van die Christen-netwerk: die Instituut vir Rasseverhoudings (IRV) praat van die gematigde meerderheid Suid-Afrikaner.  Hul navorsing het gevind dat, ondanks doelbewuste rasse-aanhitsing, die meerderheid Suid-Afrikaners matige menings het en saamstem oor wat gedoen moet word om die land se probleme op te los. Dit is hierdie gematigde meerderheid wat die instituut meen weerstand moet bied teen die regering se druk vir algehele beheer en mag. Hulle meen dat politieke alliansies terdeë bewus is van die gevaar wat dit vir die partye sou inhou indien die gematigde meerderheid bymekaar sou kom. Dit is waarom dit voel of sommige partye rassespanning aanstook.

In die laaste artikel, Woensdag verskyn, sal gekyk word na praktiese aksies om ekonomiese ontwaking te bewerkstellig. Hierdie praktiese aksies korreleer met die stappe wat die Afrikaner ná 1939 geneem het, toe daar besluit is op ’n selfhelpveldtog om uit diep armoede te kom.

Voetnote:

[1]Du Plessis, J. 1919. The Life of Andrew Murray of South Africa. Afgelaai 6 November 2019. [https://archive.org/stream/cu31924011511205/cu31924011511205_djvu.txt]

[2] Strauss, P. 2016. Die geskiedenis, aanvaarding en impak van die Afrikaanse Bybel van 1933 – ‘n oorsig. In: Tydskr. geesteswet. vol.56 n.3, p. 733-745, Pretoria, Sep. 2016. Afgelaai 9 November 2019 [http://www.scielo.org.za/scielo.php?script=sci_arttext&pid=S0041-47512016000300001]

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

1 Kommentaar

jongste oudste gewildste
Wessel

Die Afrikaner was in armoede, tydens die depressie jare. Hy het homself daar uit, gewerk. Opheffing begin by die individu.