Wat as ons armoede ’n nekslag kan toedien?

bedelaar-armoede

Argieffoto.

Deur dr. René Hattingh-Rust

Die bekende historikus prof. Hermann Giliomee het gesê daar kom tye wat ons nie bloot net kan aanvaar dat ons die armes altyd by ons sal hê nie, maar dat ons nodig het om stil te gaan sit en te kyk hoe armoede lyk. Hy is van mening dat mense soms só in armoede vasgevang is, dat hulle bloot net nie daaruit kan kom nie. Hierdie was ’n opmerking van hom ten opsigte van die Afrikaner-armoede en die Ekonomiese Volkskongres (EVK) van 1939.

Die beeld van armoede

In ’n poging om na armoede in Suid-Afrika te kyk, let op die volgende elementêre voorstelling.

Aan die voet van ’n baie hoë krans is ’n skare wat opkyk na ’n kleiner groep wat afkyk na hulle. Die onderste groep verteenwoordig tipies die meerderheid Suid-Afrikaners se posisie ten opsigte van ons ekonomie. Ons ekonomie het die meerderheid Suid-Afrikaners agtergelaat. Hulle bondel heel onder saam. Die groot vraag is, hoe gaan hulle dit regkry om bo uit te kom? Wat gaan hulle doen?

Die groep bo kyk af na dié wat onder is met ’n oorweldigende gevoel van hopeloosheid; daar is te veel daar onder, te min hier bo, en die krans is te hoog. In die stilligheid is hulle dankbaar dat hulle bo is, maar ook vol skuld oor hul dankbaarheid.

Die verhouding tussen dié “bo” en “onder”, het benewens die reuse-ekonomiese verskil wat aan die toeneem is, ook met ’n uiters komplekse verhouding te doen. Die verhouding is gelaai met faktore wat polities, histories, sosiaal en rasgedrewe van aard is, en sluit grootskaalse bedrog en wanbestuur in.

Die krans van armoede word met hierdie skets voorgestel. (Grafika: Verskaf.)

Suid-Afrika is ekonomies ’n baie ongelyke samelewing[1]  Dis ’n historiese, maar ook ’n ontplooiende ongelykheid. Die ongelykheid tussen swart Afrikane onderling is groter as by ander minderheidsgroepe en is die grootste bydraende oorsaak vir Suid-Afrika se huidige ongelykheid.

Na aanleiding van Giliomee se opmerking, is die skare aan die onderpunt van die “krans” diegene na wie ons wil kyk om armoede te verstaan.

In Suid-Afrika is ongeveer 55,2% jongmense werkloos[2]. Sestig persent van Suid-Afrikaanse kinders word sonder ’n pa[3] groot. Baie kinders word groot tussen volwassenes wat werkloos is, met geen rolmodel vir die dag wanneer hulle self moet werk nie. Hulle verstaan nie werketiek nie. ’n Groot persentasie van die mense aan die voet van die krans se enigste maandelikse inkomste is die staat se kindertoelaag. Die man wat vir sy Desembervakansie na die Oos-Kaap gaan, sê daar is elke jaar meer kinders en so word meer druk op sy “black tax” geplaas. Suid-Afrika se onderwysstelsel faal ons kinders totaal en daarom leer hulle nooit die vaardighede om suksesvol tot die ekonomie toe te tree nie.

As ons na die beeld van armoede kyk, dan weet ons dit kan en mag nie so voortgaan nie. Ons weet dit is nie ’n gogga-maak-vir-baba-bang-storie nie, maar ’n tydbom, ’n situasie van groot menslike smart en vernedering.

As gelowiges weet ons ook dat wanneer die Here ons bewus maak van iets wat Hy wil hê ons moet doen, dan is dit betyds. Ons weet ook dat wat vir ons onmoontlik is, in sy naam, moontlik is. Ons Boek is immers vol van onmoontlikhede: ’n pad op die bodem van die see, brood wat Hy vermeerder wat aanhou en aanhou voed.

Hierdie is ’n opvolgartikel wat poog om praktiese riglyne te gee wat in die artikel “Sê wie?[4]” ontbreek. Die eerste artikel gee die konteks waarbinne hierdie een verstaan moet word.

  1. Die aannames wat as begronding dien, is eerstens dat verskeie navorsers bevind het dat ekonomiese groei en entrepreneursontwaking die onbeplande byproduk van ’n persoonlike ontmoeting met Christus is – ’n vrug wat raakgesien en benut moet word.
  2. Tweedens, die feit dat die Christen-netwerk, ten spyte van al sy foute, die grootste gemene deler en die vinnig groeiendste netwerk in Suid-Afrika is. ’n Netwerk wat strek oor rassegrense, ekonomiese-, sosiale- en opleidingsvlakke – ’n ongelooflike potensiaal wat benut kan word.

Met ’n hipotese dat hierdie twee gegewens tot onverwagse en ongekende ekonomiese uitkomste mag lei, vra ons die volgende vrae:

Hoe kan ’n armoedeplan dan lyk?

‘n Gematigde pad vir die verligting van armoede waar elke groep kan sien die vorige groep het reeds vordering gemaak. (Grafika: Verskaf.)

Hierdie is ’n sigsigpad met ’n gematigde helling, waarop groepies mense teen verskillende pas vordering maak. Die belangrike element is dat elke groep ’n ander groep kan sien wat reeds ’n bietjie verder gevorder het, en dit bring motivering en duidelike aanwysings van hoe om tot daar te vorder. Hierdie benadering breek ’n onmoontlike situasie op in meer haalbare uitdagings. Dit verseker klein oorwinnings en daarom bevorder dit momentum en hoop. Gebrek aan hoop maak dat ’n mens nie kan presteer nie.

Ekonomies moet ons ’n opwaartse beweging bewerkstellig, maak nie saak as dit aanvanklik klein is nie. Ons moet net onverbiddelik wees en aanhou voortbeur in hoop.

Dit mag wys wees om te kyk na die Christen-netwerk en vandaar te begin met ’n plan wat tot ’n mate met die selfhelpveldtog van die Afrikaner in 1939 ooreenstem.

Ons begin dan by die geestelike leier van 80 of 100 lidmate. Die voorstel mag ooroptimisties klink omdat daar geestelike leiers is wat kitsoplossings vir arm en behoeftige mense aanbied en in die proses eie voordeel soek. Dit mag juis die simptoom wees van die haglike posisie waarin die mense hulle bevind. Arm mense gryp desperaat na uitkomste sonder kritiese onderskeiding en dit bied die geleentheid vir uitbuiting. Die uitdaging is om met die eerbares te begin en die res van die geestelike leiers in ’n volhoubare toekoms-strategie te betrek.

  • In twee opvolgartikels, wat Dinsdag en Woensdag op Maroela Media verskyn, sal praktiese riglyne gebied word hoe ons hierdie netwerk kan bemagtig om grootskaalse ekonomiese ontwaking in Suid-Afrika teweeg te bring.

Voetnote:

[1] https://hsf.org.za/publications/hsf-briefs/does-the-world-banks-gini-index-show-that-south-africa-is-the-most-unequal-society-in-the-world

[2] https://www.worldbank.org/en/country/southafrica/overview

[3] https://citizen.co.za/parenty/2123231/the-cycle-of-fatherlessness/

[4] https://maroelamedia.co.za/debat/meningsvormers/se-wie/

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Vriendelike Frikkie ·

Rein gedagte maar nie moontlik nie. Die draad van die armes loop baie duidelik regdeur die Bybel. Die armes sal altyd met ons wees. Daar word egter in talle gevalle gesê ons moet die armes help. Jy sal ‘n skat in die Hemel hê, maar hulle gaan nie weggaan nie. “Nekslag toedien”? Jammer!

werner ·

Armoede ,kan ons nie dalk dankie se daarvoor aan films ,kyk na diebv: avenger reeks ,capt america ,wees eerlik dis n amazing reeks wat gedoen word,sport op die sewende dag,INTERNET n deur oopgemaak van laatnag wakker bly moeg in die oggend,selfs in jo armste gebiede is n daar n INTERNET n TV n MOVIE huis,ouderdom wat teen jou tel ja,ouers wat kinders verkoop uit wanhoop,dwelms,daar is so baie duisende redes,is die hoof rede nie maar,ONS HET LIEWE JESUS,opsy geskyf en HOM as n kits VERLOSSER begin gebruik,wie is die meeste mense in shelters,is oumense en middelklas mense wat hulle werk verloor het asgv menigte redes ,en kinders saam gebring,het ons as n Afrikaner volk maar net eenvoudig in n gat geval en is te bang om saam te staan,TE BANG OM OP TE STAAN EN SAAM HANDE TE VAT SAAM DIE ARME SHELTER MENS SONDER TANDE EN SAAM TE STAAN,onder en met GELOOF tot en met ons nie GELOOF eerste dan ons BANGGYT los en nie saam hande vat ,sal ons nooit bo uitkom.

katerinadiekat ·

Om te veel kinders in die lewe te bring verminder ook nou nie mens se armoede nie. Dis n eenvoudige feit wat meeste SA burgers nou maar net nie wil verstaan nie.

Annatjie ·

Die grootste probleem is die wreedheid en geweld in ons land. Die armoede moet aangespreek word maar hoe verander jy geweldadige mense waar jy nie eers in vrede gelaat word as jy gaan golf speel.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.