ʼn Mens sê of belowe soms op die ingewing van die oomblik iets sonder om mooi daaroor te dink en weke of maande later haal dié woorde jou in. Dit herinner ʼn mens aan die spreekwoord “Belofte maak skuld”.
Só het Chris Denysschen, hoof van Hoërskool Waterkloof, verlede jaar tydens sy toespraak by die matriekafskeid ʼn belofte gemaak wat hy nou moet nakom.
“As julle [die Klofie-matrikulante] 1 000 onderskeidings in die eindeksamen behaal, sal ek vir een dag in ʼn Faf de Klerk-broekie op die skool se dak deurbring,” het hy skertsend gesê. De Klerk is ʼn oudleerder van die skool.
Maar Denysschen kom dié belofte lag-lag na, het hy in ʼn onderhoud met Maroela Media vertel. Die Hoërskool Waterkloof in Pretoria se matriekgroep het gesamentlik sowat 1 046 onderskeidings behaal en is as die topskool in Gauteng aangewys.
Karla Reinecke is die toppresteerder in Gauteng en eerste in die land met fisiese wetenskappe en alpha-wiskunde. Kort op haar hakke is Carla Dippenaar wat die algehele tweede plek in Gauteng behaal het.
“Jy het geen benul hoe ongelooflik trots ek is nie. Buitendien gaan hierdie uitdaging oor veel meer as die faffie op die dak,” sê Denysschen. “Dit gaan vir my daaroor dat ons saam die wa deur die drif kon trek, harde werk beloon is en ons [die onderwysers] daardeur ʼn band met die kinders kon bou.”
Denysschen verklap dat dié belofte egter nie deel van sy toespraak was nie en dat dit, soos die meeste van sy ander optredes, spontaan opgeduik het.
Op sy eerste dag as Klofie-hoof het Denysschen nie by die skool ingestap nie, maar met ʼn valskerm uit ʼn helikopter gespring en op die rugbyveld geland. Wat ʼn vreesaanjaende ding om te doen, veral as jy boonop soos Denysschen hoogtevrees het!
“Kyk, ek gaan nie gou weer 11 000 voet valskermspring nie,” sê hy. “Maar dit is soms nodig om iets heeltemal onkonvensioneel te doen. My boodskap aan die Klofies was: As ek my vrees vierkantig in die oë kon kyk, kan hulle dit ook doen.”
Denysschen streef daarna om uit die boks te dink, om spanwerk te bevorder en om leerders met goeie lewensvaardighede te kweek wat ʼn verskil in die gemeenskap sal maak.
Die Klofies is in rep en roer om reëlings te tref vir Denysschen se daksitdag wat na verwagting volgende week sal plaasvind. Denysschen verklap nie veel oor dié geleentheid nie, maar sê dat dit iets besonders gaan wees om te aanskou.
Kosbaar om so n hoof te kan hê. Hoop julle gaan dit met almal vlg week deel.
Wat ń awesome skoolhoof!!!
Ons benodig meer sulkes! Give that man a faffie broekie!
Onthou die sonskerm ;)