WAT het op 95 nog ‘digitale huppel’ in sy stap

(Foto: Woordeboek van die Afrikaanse Taal/Facebook)

Woordeboek van die Afrikaanse Taal (WAT) het op 6 Mei sy 95ste verjaardag gevier met die bekendstelling van deel (van “SRP”, die afkorting vir “sekuriteitereguleringspaneel”, tot by “Szonditoets”) van WAT.

“ʼn Woordeboekprojek is dinamies en word gekenmerk deur ontwikkeling en verandering,” sê prof. Rufus Gouws, ondervoorsitter van die WAT-direksie.

Gouws meen dat so ʼn projek net relevant kan bly indien die dinamiese aard gekoester word en die veranderinge daartoe lei dat die projek homself herhaaldelik herskep.

Die 16de deel van WAT is voltooi en dit laat slegs agt jaar oor van die plan vir die voltooiing van WAT.

“Die einde is werklikwaar in sig,” sê Gouws.

Sowat 80% van WAT se inkomste is afkomstig van donasies. Gouws het sy opregte dank aan ankerdonateurs van WAT uitgespreek en ook die publiek bedank vir hul volgehoue ondersteuning, veral by projekte soos WAT se Borg ʼn woord-projek.

Dr. Willem Botha, hoofredakteur en uitvoerende direkteur van WAT, ontvang deel XVI van WAT. (Foto: Woordeboek van die Afrikaanse Taal/Facebook)

Dié projek is begin uit ʼn nood wat ontstaan het toe die staat subsidie aan woordeboeke drasties ingekort het. Dit is een van die suksesvolle geldwerwingsinisiatiewe van WAT wat in 2010 van stapel gestuur is met David Kramer as beskermheer. Kramer is opgevolg deur Charlene Truter (Lackay), Marita van der Vyver, Nataniël, Dave Pepler, Deon Meyer, Karen Zoid, Hemelbesem en Tracey Lange.

Die doel van Borg ʼn woord-projek is om mense bewus te maak van die waarde van woorde en die rykdom, kleurrykheid en verskeidenheid van die Afrikaanse taal. Dit laat mense dink oor wat hul gunstelingwoorde is en watter woorde net eenvoudig vir hulle mooi is.

Oor die vraag of slegs bestaande woorde geborg kan word, vertel dr. Willem Botha, hoofredakteur en uitvoerende direkteur van WAT, soos volg: “Jy kan enige denkbare woord borg. Dit hoef in geen woordeboek te wees nie.” Enige nuutskeppings wat dus tussen familie, vriende en sosiale omgewings ontstaan het, kan ook geborg word.

Gouws brei verder uit oor die strewe van WAT om onder meer die Afrikaanse taal in sy wydste omvang te weerspieël.

“Dit beteken dat nie net Standaardafrikaans nie, maar ook die ander variëteite soos Kaaps en Namakwalands ʼn tuiste in die woordeboek sal vind. Ons sal altyd daarna streef om Afrikaans op ʼn positiewe en inspirerende wyse te bevorder.”

ʼn Paar bekendes het reeds hul steun aan WAT se Borg ʼn woord-projek toegesê deur die volgende woorde te borg:

  • “Pa” – Julian Jansen, joernalis en skrywer
  • “Sprokie” – Marita van den Vyver, skrywer
  • “Strafjaart” – Theo Kemp, skrywer
  • “Masekin” – Bettina Wyngaard, skrywer
  • “Ghantang” – Conrad Steenkamp, uitvoerende hoof van die Afrikaanse Taalraad
  • “Pieker” – Joan Hambidge, digter en letterkundige
  • “Brokkel” – Clinton du Plessis, digter
  • “Vywervrou” – Chanette Paul, skrywer
  • “Xhoulag” – Lynthia Julius, digter
  • “Broos” – Keina Swart, joernalis en skrywer
  • “Baie” – David Kramer, sanger en liedjieskrywer

Klik hier om die volledige bekendstelling op WAT se YouTube-kanaal te kyk. Indien jy ʼn woord wil borg, gaan na www.wat.co.za en klik op Borg ʼn Woord.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

M-woord ·

Dalk kan julle vir maroela media en ander instellings net help asseblief. Wat is die k-woord wat hulle so gebruik? Is dit n amptelike afrikaanse woord? Dis ook nie iewers in die reg omskryf nie. So wat is dit?

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.