Wat laat die grapjasse skater?

(Argieffoto)

Hulle laat ons gereeld op die verhoog, op die kassie of op die grootskerm skater. Maar wat laat bekendes soos Lizz Meiring, Melt Sieberhagen en Schalk Bezuidenhout lag? Maroela Media het gaan uitvind.

Die komediant Melt Sieberhagen reken lag is soos koffie …

Wat laat jou lag?

Melt Sieberhagen (Foto: Johan Prinsloo)

Sjoe, waar begin ek? Ek lag heerlik vir Kevin, my babakat, wat oor sy eie pote val terwyl hy met ʼn verestoffer baklei, en ek grinnik kennelik vir Dylan Moran se donker humor wat met ʼn glas wyn en ʼn uitdrukkinglose gesig aangebied word. Ek lees die heeltyd met ʼn glimlag aan goeie, pittige skryfwerk soos dié van Terry Pratchett, en ek kan nie anders as om te snorklag vir Pieter-Dirk Uys se slim en snydende satire nie. Ek lag uitbundig en amper lelik vir FailArmy-video’s van mense wat val en ek giggel heerlik in my mou vir aanlyn eksperts wat hulle name met planke slaan as hulle op die internet probeer slim lyk. Ek lag ook ʼn bietjie vir mense wat nooit die humor in enigiets kan sien nie. Ek lag vir skerp opmerkings oor ernstige sake, ek lag vir slim-vang-sy-baas-oomblikke. Ek lag vir myself as ek stupid goed doen.

Humor is subjektief. Elke ou lag vir iets anders, en selfs al lag ons vir dieselfde dinge, lag ons om verskillende redes daarvoor. Nie alles is vir almal ewe snaaks nie.

Lag is maar soos koffie. Almal hou daarvan, maar elkeen drink dit op die manier wat hy of sy verkies.

Wat sou jy sê is die één, héél belangrikste element van geslaagde komedie?

Weereens is my antwoord 100% subjektief, maar vir my is eerlikheid van die grootste belang. Enige emosie kan net soveel beter oorgedra word as dit vanuit ʼn plek kom wat dit geloofwaardig maak. En ek bedoel nie geloofwaardig soos in “dit het actually gebeur nie”. Solank die verteller of die grapmaker glo in dit wat voorgesit word, is dit net soveel meer toeganklik vir diegene op wie dit gemik is.

Watter uitdagings het jy in die grendeltyd ervaar, en wat het jy gedoen om ʼn bietjie humor in dié moeilike tye te bring?

My uitdagings op beide professionele en persoonlike vlak was seersekerlik nie moeiliker as enigiemand anders s’n nie. Ek het werk verloor en kon nie nuwe werk doen nie – nie juis ʼn ideale situasie as ʼn mens reeds vryskut en op-die-hond-se-stert van gig na gig oorleef nie.

Maar ek was gelukkig om ʼn lewensmaat te hê saam met wie ek die inperking kon oorleef en sy het darem heel gereeld gelag, so ek reken ek het darem ten minste iéts goeds gedoen – nie asof ek doelbewus probeer het nie! Dit was net ʼn welkome bonus om nou en dan iets te sê of te doen wat met ʼn uitbundige gelag begroet is.

Verder het ek maar hier en daar ʼn snaakse video gemaak, so nou en dan ʼn grappige status update probeer gooi, en ook ʼn ou eenmanvertoning op YouTube gelaai om op te maak vir die vertonings wat ek nie kon hou nie. Dit het selfs ʼn sent of twee ingebring!

Die grootste uitdaging was (en is nog steeds) net om te besef dat hierdie besig is om met almal te gebeur. Ek mag dalk kla oor een of twee vertonings ʼn week wat nie gebeur nie, maar die kelners, kroegmanne, kombuispersoneel en selfs die karwagte by die plekke waar ek skielik nie meer kon optree nie, het sewe dae per week se werk verloor. So wie is ek om te kla oor die feit dat ek nie kan twak praat nie? Pffft.

Lizz Meiring (Foto: Janie Monsieur/Maroela Media)

Die veteraanaktrise Lizz Meiring sê sy beskou haarself glad nie as ʼn komediant nie. As aktrise wat dikwels komiese rolle vertolk, weet sy egter dis belangrik om dit “doodernstig” te doen.

Wat sou jy sê is die één, héél belangrikste element van geslaagde komedie?

Komedie het ritme. Net soos musiek het woorde ritme. Een woord te veel of te min of een woord op die verkeerde plek en die funny one-liner of die funny line val plat. Dis verskriklik belangrik om dit te besef. ʼn Meester van die ritme van komedie skryf in Suid-Afrika is natuurlik Willie Esterhuizen of iemand soos Pieter-Dirk Uys. Hulle verstaan absoluuts intrinsiek daai ritme van komedie.

Wat laat jou lag?

Ekself hou van slim, fyn humor. Ek hou van ironie, ek hou van satire. Ek is nie lief vir slapstick of fisiese humor nie, hoewel ek geweldig respek het vir die mense wat dit kan doen. Dit is ʼn ongelooflike talent. In ons bedryf het ons ʼn gesegde: If you can play comedy, you can play anything. Die belangrikste ding van komedie speel, is om dit doodernstig te doen, want daardie karakter in daardie situasie dink nie dis snaaks nie. Dis vir die kyker of die gehoorlid of die leser of die luisteraar snaaks. Bob Hope, die briljante Amerikaanse komediant, het gesê: “Comedy is simply a funny way of being serious.

Hoe voel jy oor komedie en politieke korrektheid (PC)?

Nie komedie óf humor kan PC wees nie; iewers gaan jy iemand beledig. ʼn Blondinegrappie is beledigend teenoor blondines. Daar gaan altyd ʼn mate van vooroordeel of -isme – rassisme, seksisme, enige -isme waaraan jy kan dink – in ʼn grap wees. So, die persepsie wat ons tans het – veral op televisiekanale – dat humor niemand moet beledig nie, is totaal onmoontlik, want dit is nie die aard van humor nie. Dan ook, humor is subjektief. Wat vir een ou snaaks is, is vir ʼn ander absoluut beledigend. Wat vir een kultuur snaaks is, is vir ʼn ander beledigend. Almal in die wêreld huil oor dieselfde goed, maar almal lag nie oor dieselfde goed nie. En dit gee humor sy byt.

Schalk Bezuidenhout. (Foto: Verskaf)

Die komediant Schalk Bezuidenhout het die uitdaging van die grendeltyd met albei hande aangegryp en mense met sy aanlyn vertonings en sosialemediaplasings laat skater.

Wat laat jou lag?

Mense laat my lag. Dit is tog waarop die meeste komedie neerkom. Mense en hul dinge.

Wat sou jy sê is die één, héél belangrikste element van geslaagde komedie?

Daar is nie één, héél belangrike ding nie. Dis wat komedie so ongelooflik maak. Dit voel soms informeel en off the cuff, maar dis kompleks. Daar is nie reëls nie. Ons sê altyd “the only rule is: be funny”. As die mense lag, maak dit nie regtig saak wat jy doen nie, want jy het geslaag in wat jy moes doen, en dit is om die mense te laat lag. Of dit nou met slim geskrewe materiaal of met puns is, al gly jy op ʼn piesangskil. As die mense lag, het jou komedie geslaag.

Watter uitdagings het jy in die grendeltyd ervaar, en wat het jy gedoen om ʼn bietjie humor in dié moeilike tye te bring?

Natuurlik was die feit dat ons nie lewendige vertonings kon doen nie ʼn groot uitdaging. Ek het vinnig die sprong na online gemaak. Ek het video’s gemaak wat ek op Instagram en Facebook gedeel het en ook shows gedoen waar mense kon inskakel. Ek kon natuurlik niemand sien of hoor nie en die eerste een was natuurlik weird. Maar ná die tweede of derde show was ʼn mens daaraan ook al gewoond. Die terugvoer was net nie onmiddellik soos met ʼn lewendige vertoning nie, maar mense sou ná die tyd boodskappe stuur om te vertel hoe hulle gelag het. En dit was vir my spesiaal om te voel dat ek dit vir mense in sulke tye kon bied. Daar was natuurlik komediante wat gesê het hulle sal nooit voor ʼn laptop optree waar hulle nie die gehoor kan sien of hoor nie. En ek het net gedink: Oh well, your loss. Alle industrieë moes in die grendeltyd aanpas en ons industrie was nie anders nie.

Annelize_Lyntjie_Lynden2.jpg

Annelize Brits (Maroela Media), Lyntjie Jaars (Lara FM) en Lynden Jafta (Paarl FM).

Lyntjie Jaars, medeaanbieder van die program OppieStoep op kykNET, het ook nie in die grendeltyd stilgesit nie. Afgesien van haar TV-aanbiederswerk het sy ook mense op Facebook laat skater.

Wat laat jou lag?

Stories, memes, flou jokes, en rêrig komiese mense, veral daai oom of antie wat so iets in die verbygaan sê. Oor die algemeen vind ons as Suid-Afrikaners selfs in die moeilike tye ʼn rede om te lag – kyk maar na die memes ná ʼn presidensiële familievergadering.

Wat is vir jou die belangrikste element van ʼn humoristiese storie?

Vir my is dit die stemtoon, die oordrag en om die heeltyd in die storie by te bly; jy weet jy word behoorlik ingetrek, en natuurlik die punchline. Dit smaak jy wil skaars asemhaal, want jy wil niks mis nie.

Watter uitdagings het jy in die grendeltyd ervaar, en wat het jy gedoen om ʼn bietjie humor in dié moeilike tye te bring?

Ek het in die algemeen ʼn fantastiese grendelperiode gehad. Ek was tuis by dr. Beryl Botman en ons het ʼn fees gehad – van tema-aande tot fyn uitvat vir The Phantom of the Opera, sommer net daar in die sitkamer.

Ek het Facebook-video’s gemaak dat dit klap en so met mense gesels en van myself ghaai gemaak (gek geskeer), kos gemaak en ook op FB live gedemonstreer, en altyd gesê ek is ʼn klaar vrou.

Ek het ook TikTok-video’s gemaak met langarmmusiek. Was dit nou heerlik – en vir baie mense was dit onthou-jy-nogs.

Johny Klein is op sy gelukkigste op die verhoog. (Foto: Facebook)

Die stemkunstenaar Johny Klein het in die grendeltyd soms hardop met homself gepraat en grappies gemaak.

Wat laat jou lag?

Mense met karakter. Komieklike, eksentrieke karakters. Karakters met ʼn snaaksigheid in hul houding. Hul manier van praat. Vir my kom lag uit jou hart. Ek lag partykeer wanneer ek nie weet hoe om te reageer nie.

Wat is die geheim om ʼn grap góéd te vertel?

As iemand vir my ʼn grappie moet vertel, lê die lag vir my in sy tydsberekening; hoe hy die punchline oordra, die storie vertel. Karakterisering. Dan kan jy amper vir enigeen enige grappie vertel.

Hoe het humor die grendeltyd vir jou draagliker gemaak?

Ek het baie musiek geluister. Ek bly op my eie en ek hou daarvan om my te verbeel ek speel in ʼn musical. Dan act ek alles uit. En omdat ek nie eintlik kan sing nie, verander die karakters altyd vir my in iets komies. Ek hou ook daarvan om hardop met myself te praat. Ek sal byvoorbeeld iets in verskillende stemme hardop lees en dit dan op verskillende maniere uit-act. Dis nogal ʼn lekker manier om jou kop net van die worries af weg te vat.

  • Ter viering van Maroela Media se tiende verjaardag in 2021 is ons op soek na die Grootste Afrikaanse Grap van Alle Tye. Kom stem nou vir jou gunstelinge in die top-50 hier op Maroela Media!

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Wessel ·

Goeie humor is in werklikheid vir my baie ernstig en diep.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.