Waterskenking bring verligting aan KZN-vloedslagoffers

Water word in Brits op ʼn vragmotor gelaai. (Foto verskaf)

Die Solidariteit Beweging se Krisisfonds kon danksy onlangse skenkings sorg dat meer as 43 000 liter drinkwater na rampgeteisterde gebiede in KwaZulu-Natal gestuur word.

Die Krisisfonds is reeds in 2020, aan die begin van die Covid-19-inperkings, op die been gebring om mense in staat te stel om deur betroubare gemeenskapstrukture ander in nood by te staan. Solidariteit Helpende Hand bestuur die fonds sonder enige inmenging van die regering.

Solidariteit het ná die onlangse oorstromings in KwaZulu-Natal soveel as R250 000 aan hierdie fonds geskenk en Helpende Hand het self ook R100 000 beskikbaar gestel. Virseker het ʼn bykomende R150 000 geskenk waarmee Helpende Hand water aangekoop en vervoer het.

La Vita Water in Brits, Noordwes, het dié natuurlike mineraalwater teen R10 vir ʼn bottel van vyf liter verskaf. Nagenoeg 44 ton water is die afgelope twee weke na KwaZulu-Natal gestuur waar takke en ondersteuners van Helpende Hand dit in Afrikaanse gemeenskappe versprei het.

(Foto verskaf)

Die vervoermaatskappye Route Management en Transport Sox het aangebied om die water op hulle eie onkoste te vervoer. Dit is ʼn verdere skenking van nagenoeg R40 000.

Marlene Basson, Helpende Hand se streeksorganiseerder van die Oos-Kaap en KwaZulu-Natal-Suid, sê die ontvangers van die water is baie dankbaar.

“Die water word nou by verskillende plekke, van Durban tot Amanzimtoti, uitgedeel. Ons het ʼn lang lys van netwerke wat ons met die verspreiding help,” sê Basson.

Die grootste nood tans is steeds toegang tot vars en veilige drinkwater, aangesien die oorstromings munisipale infrastruktuur weggespoel het.

“Ouer persone, wat reeds swaar trek, moet ten duurste water gaan aankoop en dit maak die druk op hul finansies nog groter. Weens die stadige en sporadiese herstel van infrastruktuur word waterbeurte tans toegepas. Dit het egter ʼn negatiewe effek op skole wat weens ʼn tekort aan water moet toemaak.”

Om ʼn meer volhoubare oplossing vir die waterprobleem te vind wil Helpende Hand watertenks by sleutelpunte oprig wat met boorgatwater gevul kan word. In Port Shepstone het Helpende Hand reeds twee watertenks aan ʼn kompleks waar ouer persone woon voorsien.

Mense wat die fonds wil ondersteun kan www.krisisfonds.co.za besoek.

Helpende Hand deel die water uit aan inwoners van Durban en Amanzimtoti. (Foto verskaf)

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.