Deur Lindie Strydom
Ons skole is lankal nie meer suiwer akademiese instellings nie. Hulle funksioneer soos gemeenskapsentrums, wat intree vir allerhande leemtes in ons gemeenskappe en gesinne. Skole is ʼn veilige toevlug en hawe, waar almal in ʼn eenvormige uniform bymekaar kom sonder dat enigeen hoef te weet of jy vanaand in ʼn wendy-huis, karavaan of dubbelverdiepinghuis slaap.
Waar ʼn predikant 52 Sondae in ʼn jaar die Woord met ʼn getroue kerkganger kan deel, het onderwysers 200 keer per jaar geleentheid om die Woord te leef as voorbeeld vir ons kinders. Hulle raak betrokke by elke fasset van ons kinders se opvoeding en verander die wêreld ver bo verwagting óf die vergoeding vir hul tyd en moeite.
Tydens GROOTfm 90.5 se #HOOPstoot vir Helpende Hand se tassieprojek, het ʼn onderwyseres van Laerskool Rachel de Beer verduidelik die tekort aan skryfbehoeftes by behoeftige kinders raak nie net haar opvoedingstaak nie, dit raak ook haar sak.
My nuutste voorbeeld van inspirerende onderwys is ʼn gewone graad 3-juffrou van Laerskool Louis Leipoldt, Anita Dique. Sy het met haar klas begin gesels oor waterbesparing en die kinders aangemoedig om ʼn 2 liter bottel bad-, stort of reënwater saam te bring skool toe om onder meer vir die toilette te gebruik. Op 24 Oktober het hulle “Operasie Gryswater” met 22 liter water begin. My tuisondderrig in waterbesparing het ook daardie dag ingeskop met ons dogtertjie, Nina, wat ons tuis kom leer: “Het mamma geweet ʼn toilet gebruik tussen vyf en agt liter water om te spoel?”
Binne ʼn week het die daaglikse bydraes gegroei tot 200 liter per dag, behalwe die 50 liter reënwater wat hulle by die skool se geute opgevang het. Teen 2 November het die geinspireerde kinders die skool reeds 5000 liter water gespaar! En glo my, hierdie projekkie steel geensins van die belangrike wiskunde-leertyd nie, want die som van hoeveel water hulle spaar word elke oggend opgewonde uitgewerk op die swartbord in die klas!
Mamma word ook ingespan om Nina te help dra aan haar 20 twee liter bottels water en ek moet fyn trap op ons grasprek, waar sy elke Tupperbak in die huis uitgepak het vir moontlike reënwater wat sy kan opvang!
Wie weet of die volgende minister van omgewingsake nie dalk in Juffrou Anita se klas gebore word terwyl sy haar passie met jong kinders deel nie! Soveel passie vir die saak dat hierdie roeping-gedrewe onderwyseres nou vir haar eie verjaarsdag geld insamel om vir die skool ʼn JoJo tenk te koop!
Klop gerus aan by jou naaste skool (en dan sommer met ʼn 2 liter water onder jou kieliebak) en hoor hoe jy hierdie sentrum kan help met ʼn veel groter roeping wat eintlik nooit deel was van hul taak nie. Ek eer ons onderwyser vir elke dag se ekstra myle en wil graag saam met elke “gemeenskapsentrum” (skool) en “gemeenskap(wonder)werker” (onderwysers) in die toekoms van ons land belê!
Dis nou sommer ‘n lekker positiewe storie. Ons moet almal probeer om water te bespaar…..soos dit op die oomblik is, staan Konstruksie eenhede feitlik stil, want volgens die Minister van Water en Sanitasie is daar nie werk vir hierdie mense nie (om bv nog damme/kanale te bou. Kan dit waar wees, in hierdie tye wat water so skaars is???
Slaan my dronk….
weer ons witmense en kinders wat planne maak, terwyl ander klippe gooi en afbrand
Dis nou sommer ‘n slim plan. As al die skole dit kan doen, hoef hulle nie hul rugby en sportveld met sprinkel besproeiing nat te lei nie. Die water kan ook hul skool tuine en velde in stand hou. Ek doen so by die huis, en my tuin is nog in goeie kondisie. Ek hoop dit inspireer alle skole om so iets te doen. Slim kinders en juffrou! Bravo!
Ek is so trots om n Leipie ouer te wees