Wayde van Niekerk sê nee vir boelies

Wayde van Niekerk. Foto: Verskaf

Wayde van Niekerk. Foto: Verskaf

Die naelloper en wêreldkampioen Wayde van Niekerk het onlangs kragte gesnoer met Cartoon Network en ChildLine vir die internasionale anti-boelie-veldtog.

Dié veldtog, wat op 7 Mei van stapel gestuur word, moedig kinders en tieners aan om eerder die hand van vriendskap te reik as om ʼn boelie te wees. Die veldtog gaan ook poog om jong mense te bemagtig en standpunt in te neem teen boelies.

Dumisile Nala, ChildLine SA se uitvoerende hoof, sê boelie bly een van die grootste kwessies onder jong kinders omdat bykans 35% van alle kinders geboelie word. “Boelie is nie iets waarvan jong mense kan weghardloop nie. Dit gebeur nie net op die speelgrond by skole nie. Boelie word ook aangetref in selfoonboodskappe en op sosiale media. Vir sommige kinders lyk dit asof hulle net nie daaraan kan ontkom nie,” het sy gesê.

Cartoon Network, wat Suid-Afrika se gewildste televisiekanaal vir kinders is, gaan as deel van die veldtog hande neem met ChildLine om video’s te maak waar professionele mense gesels oor die anti-boelie-program. Die video’s gaan verskeie wenke gee en in vier verskillende tale, naamlik Sesotho, isiZulu, Engels en Afrikaans.

Wayde gaan in televisie-veldtog te sien wees wat op 7 Mei op Cartoon Network op DStv kanaal 301 uitgesaai word. Dié veldtog gaan in ʼn reeks programme ontwikkel word om te praat oor boelie, die persoon wat geboelie word en die gevolge daarvan.

“Ek het die geleentheid aangegryp om saam met Cartoon Network en ChildLine aan die veldtog te werk omdat ek weet hoe dit voel om geboelie te word. Ek hou van dié inisiatief omdat dit jong mense leer om eerder ʼn vriend te wees as ʼn boelie,” het hy gesê.

Jong mense wat geboelie word kan ook van 7 Mei aansluit by die veldtog se aanlynprogram, “Be a buddy”, waar direk vir professionele advies en wenke gevra kan word.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Eliza-beth ·

DIS hoekom ek jou bewonder – nie net is jy ‘n fantastiese atleet nie, maar gebruik ook jou bekendheid vir ‘n wonderlike saak! Mooi so Wayde, net goeie dinge lê vorentoe op jou pad!

Julius ·

Baie goeie idee. Ek was self ‘n slagoffer tot in my weermag tyd en moes self daaruit kom. Sterkte.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.