Wees ’n Kersvader vir ’n kind hierdie feesseisoen

(Foto: Kira auf der Heide/Unsplash)

Kersfees is om die draai en jy het die geleentheid om ʼn kinderhart gelukkig te maak deur ʼn spesiale Kersgeskenkpakkie aan ʼn pleegkind of kind in ʼn versorgingshuis te gee.

“Ons besef dat Covid-19 ’n blywende uitwerking op ons kinders gaan hê. Kersfees 2020 gaan beslis ook baie anders wees as vorige jare en daarom is dit belangrik dat elke kind vanjaar soveel te meer spesiaal en geliefd sal voel op Kersdag. Ons kan nie toelaat dat Covid-19 ook ons kinders se Kersfees en Kersvreugde wegneem nie,” sê Dinah Bronkhorst, uitvoerende hoof van Care Protect Invest South Africa (CPI SA), ʼn maatskappy wat maatskaplike dienste verskaf.

CPI SA wil graag vir 295 kinders elkeen ʼn spesiale Kersgeskenkie gee en vra die publiek om hul harte oop te maak deur by die Wees-Kersvader-vir-’n-Kind-veldtog betrokke te raak.

Jy kan moeiteloos ʼn verskil maak aan die lewens van kinders wat dit die nodigste het:

  • Gee ʼn klein geskenkpakkie toegedraai in eenvoudige bruinpapier met ’n briefie toegevou wat sê “Kinder-liefie, vandag dink iemand ook aan jou…” of enige bemoedigende boodskap wat ʼn kind se hart van vreugde sal laat oorloop en hul weer spesiaal sal laat voel.
  • Elke geskenkpakkie moet asseblief een klein pakkie koekies van jou keuse insluit.
  • Geskenkies mag nie meer as R100 kos nie.

Wat kan jy by die geskenkpakkie insluit?

  1. Bemoedigende briefie
  2. Enige pakkie koekies van jou keuse
  3. Ondersteuner se keuse van die volgende items:
  • Skryfbehoeftes
  • Toiletware vir tieners
  • ʼn Dagboek vir tieners
  • Karretjies
  • Poppies
  • Haarstrikkies
  • Mooi hempie
  • Kort broekie; en/of
  • Inkleurboeke
  1. Geskenkpakkie moet in eenvoudige bruinpapier toegedraai word en nie meer as R100 kos nie.

Waar kan jy jou geskenkpakkie aflewer?

Kontak die volgende persone om die nodige reëlings te tref:

  • Gauteng (Pretoria) – Dinah Bronkhorst: 072 126 1158
  • Vrystaat (Bloemfontein) – Sulene Odendaal: 081 588 8510
  • Wes-Kaap (Kaapstad) – Melani Lategan: 084 517 2438
  • Geskenkpakkies kan ook by die Centurion-teater in Amkorweg 123, Lyttelton in Centurion afgelaai word. Bel vir Susan of Marlene by 012 664 8710/072 245 4390 vir meer inligting.
  • Intercape-busdienste sal ook help om geskenkpakkies te vervoer. Skakel Dinah Bronkhorst vir meer inligting by 072 126 1158.

Voltooi die vorm op CPI SA webtuiste om ʼn kind te kies aan wie jy ʼn geskenk wil gee. Spertyd om geskenkpakkies af te lewer is Donderdag 10 Desember 2020.

Die publiek kan dan ʼn foto van hul toegedraaide geskenkpakkie op sosiale media plaas en hul vriende en volgelinge uitdaag om dieselfde te doen en sodoende CPI SA se Wees-Kersvader-vir-’n-Kindveldtog ondersteun deur gebruik te maak van die hutsmerke: #WeesKersvaderVirNKind #BeSantaToSomeone.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.