Wees wakker en lééf!

Argieffoto (Foto: Myriams-Fotos, Pixabay)

Dis verstommend (of dalk ontstellend) dat ons as flukse en hardwerkende mense wat ʼn verskil wil maak in ʼn tyd met soveel kennis en tegnologie, energie (of ten minste pille vir energie) en ondanks al ons slim innoverende planne en kreatiwiteit en hope ander bronne so min impak maak! So min trefkrag het!

Ons is besig en ons hardloop en ons gô is behoorlik uit in die aand, maar wat kan ons wys daarvoor? Wat wys die hond vir al die inspanning om sy eie stert te probeer vang?

Dit laat my dink aan die 1999-wetenskapfiksiefilm The Matrix. Dit beeld ʼn wêreld uit waar dit wat vir ons voel na realiteit, eintlik ʼn nabootsing of simulasie-realiteit is wat hulle “The Matrix” noem. Dis ʼn valse realiteit wat geskep is om die mens te onderdruk en dalk op daardie manier te oorheers, want hy is eintlik verlam, amper soos iemand in ʼn koma. Sy kop is op een plek terwyl sy liggaam besig is om hitte af te gee en daardie elektriese aktiwiteit wat sy liggaam genereer, word dan gebruik as ʼn tipe energiebron. Die rekenaarprogrammeerder, Neo (Keanu Reeves), kom dit agter en sluit dan aan by ʼn groep mense wat ook al ontsnap het uit hierdie droomwêreld …

As jy dink waarvoor jy jou lewe, jou tyd, jou geld, jou energie en jouself gee – is dit vir ʼn onwerklike droomwêreld of selfs ʼn tydelike wêreld wat verby sal gaan? Of is jy besig om met jou alles impak te maak binne die realiteit van dit waarvoor God jou geskape het?

Baie van ons se liggame is hier – soos iemand wat in ʼn Matrix-koma is – maar ons is bewusteloos van God se stem, sy roeping en sy uitnodiging om by Hom aan te sluit in die werk waarmee Hy besig is, werk met ewigheidswaarde. Die kern van gehoorsaamheid is hoor-en-doen, hoor-en-doen, maar ons doen nie – nie dit wat God van ons vra nie – omdat ons nie hoor nie of omdat ons dalk net te besig is met ons rekenaarspeletjie-lewe in ons kop terwyl die battery nog hou …

1 Petrus 5:8 sê “Wees nugter, wees wakker!” maar my pleidooi is: Word wakker uit die koma van ʼn doellose lewe!

Ek glo regtig die probleem is nie ons gewilligheid of ywer nie. Dis waarop ons dit mors wat saak maak en hoekom ons net nie die verskil maak wat ons kan nie! Wees wakker – word wakker!

 

Meer oor die skrywer: Lindie Strydom

Lindie Strydom is ‘n bekende radio- en TV persoonlikheid, skrywer en spreker met ‘n passie vir haar gemeenskap! Sy is getroud met Johann Strydom en die ma van drie kinders, Paul en ‘n tweeling, Hugo en Nina.

Deel van: Goeie nuus, Rubrieke

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.