Video: Weet bring kennis op punte van kinders se vingers

Gerhard Viviers, Elandri Coetzee, Landi van Wyk en Moné Steynbberg, almal gr. 7-leerders aan Laerskool Constantiapark, was die wenspan van die eerste Weet-vasvra. (Foto: Jhua-Nine Wyrley-Birch / Maroela Media)

Dit was die vinnigste vingers eerste in ʼn naelbytstryd van ʼn vasvrakompetisie waarin vier Pretoriase laerskole mekaar uitgedaag het om te kyk wie kan algemene kennisvrae die blitsigste beantwoord.

Die kennisfoendi’s van Laerskool Constantiapark in die ooste van Pretoria het die Weet-uitdaging die vinnigste onder die knie gekry en die meeste vrae vlot en akkuraat in die finale ronde van die kompetisie beantwoord. Die slim gr. 7-span het ook weggestap met die eerste Beterwetertjie-trofee.

Laerskole Monumentpark, Hennopspark en Bakenkop het ook aan die kompetisie deelgeneem wat deel was van die bekendstelling van die nuwe Afrikaanse e-naslaangids, Weet. Die pragtige ou biblioteek van die Afrikaanse Hoër Seunskool in die hartjie van die Jakarandastad het die nodige statigheid aan die vasvra-kompetisie en bekendstelling verleen, terwyl die akteur Johny Klein die leerders gepeper het met vrae en grappies om die spanning te verlig.

Volgens Susan Lombaard, uitvoerende hoof van Maroela Media, is dit ná afloop van die kompetisie duidelik dat kinders nou geen verskoning meer het om hul huiswerk in Afrikaans te doen nie. Dié Afrikaanse e-naslaangids vir gr. 4- tot 7-leerders is ʼn inisiatief van Maroela Media.

“Weet is nie net daar om kinders se skoolwerk te vergemaklik nie. Dit vul ook die gapings wat die kurrikulum dalk laat en gee verskillende perspektiewe op alledaagse kwessies. Weet wil kinders help om dieper te dink, verder te soek, meer te leer – en dít in verstaanbare taal én boonop in hul moedertaal, Afrikaans.”

Die leerders van Laerskool Hennopspark het elkeen ‘n rugsak van Weet ontvang. (Foto: Elsabé Erasmus / Maroela Media)

Lombaard het benadruk dat Weet gratis beskikbaar is omdat dié mediahuis glo alle leerders moet toegang hê tot goeie inligting ongeag hul finansiële status.

Petronel Fourie, projekbestuurder van Weet, sê die e-naslaangids dek tans alle onderwerpe wat in die gr. 4- tot 7-leerplan verskyn.

“Dit was vir ons besonder belangrik dat Weet ʼn betroubare bron van inligting vir kinders is. Elke artikel is behoorlik nagevors en bevat inligting van drie of meer bronne. Dit is nagegaan deur vakkundiges op elke gebied en twee keer krities taalversorg voor plasing.”

Laerskool Monumentpark het Constantiapark die stryd aangesê in die finale ronde van die Weet-vasvraekompetisie. (Foto: Jhua-Nine Wyrley-Birch / Maroela Media)

Fourie voeg by dat daar nie maklik aan die inligting van die artikels gepeuter kan word nie, en dat dit boonop geskryf is op ʼn manier wat 10- tot 13-jariges vinnig kan begryp.

Lombaard en Fourie sê die volgende stap is nou om Weet uit te brei en bykomende onderwerpe op die e-naslaangids by te werk. Weet bevat reeds meer as 300 artikels, en beplan om nou ʼn skatkis van geskiedenis vir leerders te word. Later sal die Weet-span ook onderwerpe uit die leerplan vir hoërskole wil dek.

Maroela Media het Weet met die steun van die Afrikaanse gemeenskap oor die afgelope 18 maande geskep. Vennote soos die Afrikaanse Onderwysnetwerk (AON), die Solidariteit Skoleondersteuningsentrum (SOS), die Virtuele Instituut vir Afrikaans (VivA), die Erfenisstigting, Akademia, die Vriende van Afrikaans en Kraal Uitgewers ondersteun die projek.

  • Elke kind wat moeg is vir swoeg en sweet, kan uitvind by Weet! Besoek die webwerf by weet.co.za

Kyk Maroela Media se video van Weet, die Afrikaanse e-naslaangids vir leerders, hier:

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Conrad ·

Dit laat my dink aan wat ons destyds gebruik het, Mieliestronk. Dit gaan leerders baie help, veral omdat die maklikste bron om inligting te verkry tans Wikipedia is – wat nie juis betroubaar is nie. Dankie aan Maroela en als wat jul vir ons taal doen!

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.