Weet jy wat om te doen in ʼn noodgeval?

Almal van ons het al ʼn krisis beleef. Party ernstiger as ander. Dink maar self hoe vinnig iets verkeerd kan loop. Weet jy wat om te doen in ʼn noodgeval?

Die Suid-Afrikaanse Noodhulpliga glo almal moet noodhulpopleiding ontvang, omdat mens nooit weet wanneer jy dit gaan benodig nie. Dit is een ding om bevoeg te raak in noodhulp, maar dit is ʼn ander om selfversekerd te wees om dit te kan toepas.

Dink byvoorbeeld aan onderwys: dit is veel meer as om net oor vakkennis te beskik of as au pair om seker te maak dat kinders wel hul gesonde middagete eet, huiswerk doen en sport bywoon. Dit is ook ʼn verantwoordelikheid en belangrik dat jy moet weet hoe om noodhulp toe te pas.

Wie reageer eerste as jou kind ʼn besering op die sportveld opdoen? Die noodhelper – ons moet almal weet hoe om in ʼn krisis op te tree.

Boonop raak geweld in die Suid-Afrikaanse samelewing al meer en mense word helder oordag beroof en aangerand. Die waarde van die regte opleiding, deur te weet wat om in ʼn noodgeval te doen, kan nie oorbeklemtoon word nie.

Foto: SA Noodhulpliga

Jy kan maar soveel video’s kyk as wat jy wil, maar niks kan jou so goed voorberei vir optrede in nood as die ware Jakob van praktiese opleiding nie. Gegewe hoe belangrik basiese noodhulpkennis in ʼn krisis kan wees, word daar eintlik deur baie min mense moeite gedoen om opleiding hierin te kry.

Die Noodhulpliga glo dat lewens beskerm kan word en verdere beserings vermy kan word, deur in opleiding te belê.

Die doel van noodhulpopleiding strek wyer as om net mense se koppe met kennis te vul. Die doel is om mense die vaardighede te gee om ʼn lewe te kan red. Dit gee selfvertroue aan die noodhelper, vir die pasiënt se familie skep dit hoop en die wete dat daar iemand is wat vir hulle geliefde in krisis omgee.

Terugvoer wat sommige van ons studente aan ons gegee het na onlangse opleiding, was die volgende:

“Die fasiliteerder het die boek en meer behandel. Ek vertrou in sy uitbundige en wye kennis oor die kursus en as hy dit doen, sal meer mense beter ingelig wees.”

“Die ervaring het die druk van die onbekende weggeneem.”

Opleiding en onderrig in noodhulp is beslis van groot belang en die Noodhulpliga strewe daarna om sy doelwit te bereik deur middel van wetenskaplik gefundeerde, pasiënt georiënteerde opleiding. Dit moet prakties en eenvoudig weergegee word, ten einde elke persoon in hierdie land wat daarna streef om doeltreffend te wees in die vaardighede van noodsorg, te help om hul doel te bereik.

Foto: SA Noodhulpliga

Dit is die droom van die Suid-Afrikaanse Noodhulpliga dat elke persoon ten minste die basiese lewensreddende noodhulpopleiding moet ontvang. In hierdie verband is ons eerste prioriteit elke ouer, onderwyser of persoon wat na ʼn kind omsien en tweedens elke werker wat met die nodige vaardighede die lewe van ʼn medewerker kan red.

Ons bied eerstehulpkursusse aan op jou of ons perseel, op datums wat jou pas.
Ons verkoop eerstehulptoerusting en Regulasie 7-eerstehulp-metaalkiste en -sakke.
Ons bied eerstehulp by geleenthede.
Ons fasiliteer eerstehulpkompetisies.

Die Noodhulpliga is geregistreer by die departement van arbeid en is ten volle geakkrediteer by HWSETA. Die liga hou ook by die huidige riglyne wat deur die Resussitasieraad van Suider-Afrika neergelê is en is by hulle geaffilieer.

Kontak die Suid-Afrikaanse Noodhulpliga:
Tel: 012-6440918
Stuur ‘n e-pos: [email protected]
Besoek die webwerf
Sluit aan by die Facebook-blad

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.