Weet stel skole-vasvra bekend

(Foto: Jhua-Nine Wyrley-Birch / Maroela Media)

Is jy die volgende kenniskampioen? Weet, die Afrikaanse e-naslaangids vir leerders, gaan elke kwartaal ʼn vasvrawedstryd saamstel en aan skole versprei.

Weet het tydens sy bekendstellingsgeleentheid ʼn vasvra-kompetisie tussen vier Pretoriase laerskole aangebied. Die opwinding was groot en die spanne het behoorlik geskarrel en gespook om eerste die regte antwoord in te dien.

Intussen het navrae vir nóg vasvrawedstryde ingestroom.

“Natuurlik wil ons ag slaan op die gemeenskap se versoeke en daarom gaan Weet elke kwartaal sulke vasvrae saamstel. Skole kan dan dié vasvrae vir interne algemenekennis-kompetisies gebruik,” het Petronel Fourie, projekbestuurder van Weet, gesê.

Fourie verduidelik dat die dertig vrae in die vasvra telkens kurrikulum-onderwerpe sal dek, maar ook die net wyer gooi met interessanthede wat kinders dalk nie op skool leer nie.

(Grafika verskaf)

“Al die antwoorde sal op Weet beskikbaar wees en deelnemers sal dus maklik die antwoord kan opsoek as hulle dit nie self ken nie.

“Die formaat van die vasvra is buigbaar, maar ʼn goeie metode is om ʼn tydbeperking van 10 of 20 minute te stel, waarbinne die deelnemende spanne soveel as moontlik vrae moet beantwoord.”

Weet is ’n aanlyn ensiklopedie en e-naslaangids vir leerders. Met dié platform wil ons aan leerders toegang gee tot goeie gehalte, betroubare inligting in Afrikaans, aanvullend tot die skoolkurrikulum, wat hulle in staat sal stel om naslaanwerk vir skooltake en -opdragte in Afrikaans te doen. Sodoende dra die projek by tot Afrikaans-moedertaalonderrig op skool.

“Skole, leerders en ouers word ook aangemoedig om ons te laat weet as hulle inligting soek en dit nie op Weet vind nie – ons skep graag inhoud wat aan ons mark se behoeftes voldoen,” het Fourie bygevoeg.

  • Kontak Weet as jou skool ook deel wil word van die Weet-kennis-kampioenskappe. Weet is ʼn inisiatief van Maroela Media. Besoek Weet.co.za om die e-naslaangids te gebruik.
uil-foto-banier-01.jpeg

Weet se gelukbringer wat nog ‘n naam moet kry!

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.