Weggooi-hond gered: ‘Daar was nie manier wat ek sou opgee’

Estelle Smith en Zeke, die pitbull wat rehabiliteer en aangeneem is nadat hy vermoedelik deur 'n vragmotor of ander swaarvoertuig raakgery is. (Foto: Verskaf)

Estelle Smith en Zeke, die pitbull wat rehabiliteer en aangeneem is nadat hy vermoedelik deur ‘n vragmotor of ander groot voertuig raakgery is. (Foto: Verskaf)

“Toe ek vooroor buk en sy gesig in my hande vat, het hy opgekyk na my en daar het trane uit sy oë gekom. Daar en dan het hy in my siel ingeklim en ek het geweet dié hond gaan dit maak. Daar was nie ʼn manier wat ek sou opgee op hom nie.”

Só sê Estelle Smith, eienaar en stigter van die Underdogs SA Pitbull-rehabilitasiesentrum in Pretoria, oor Zeke, ʼn pitbull wat sy verlede jaar gered het nadat ʼn verbyganger die hond in ʼn veld naby ʼn brandweerstasie in Pretoria-Wes sien lê het.

“Ek het ʼn oproep ontvang dat die hond al vir drie dae daar lê. Die vrou wat my gebel het, het gesê sy het aanvanklik gedink die hond is dood, maar toe sy hom uiteindelik van nader bekyk, het sy gesien hy leef nog en het ʼn kombers oor hom gegooi,” sê Smith.

Die vrou was egter doodbang vir Zeke, soos hy later gedoop is, en het gewag tot Smith haar te hulp kon snel om die hond te red.

Zeke waar hy teen die muur in 'n veld in Pretoria-Wes gevind is. Estelle Smith is hier by hom. (Foto: Verskaf)

Zeke waar hy teen die muur in ‘n veld in Pretoria-Wes gevind is. Estelle Smith is hier by hom. (Foto: Verskaf)

“Toe ek daar aankom, het dit gereën en dit was koud. Die hond het teen ʼn muur gelê en het gegrom en snaakse geluide gemaak. Ek het vir die vrou gevra om my te help om hom op te tel sodat ek hom in my kar kon laai, maar sy was te bang. Ons het toe vir ʼn paar van die brandweermanne by die stasie daar naby gevra om te help. Omdat hulle ook bang was die hond byt hulle, het hulle eers handskoene gaan haal,” vertel Smith.

Uiteindelik het Smith met Zeke, wat vermoedelik deur ʼn vragmotor of ander groot voertuig raakgery is, na die Noag se Dierekliniek in Moreletapark in Pretoria gejaag. Sy heupe was gebreek en sy tong was middeldeur gebyt.

“Die veearts het gesê indien Zeke se tong nie weer heeltemal heg nie, sal hy nooit weer normaal kan eet of drink nie en sal hy van kant gemaak moet word. Maar ek kon nie laat hy vir Zeke uitsit nie. Die hond het aan my hart gevat en ek het vir hom gesê al is daar net ʼn 10%‑kans vir Zeke op oorlewing, is dit goed genoeg vir my.”

Zeke, wat in Hebreeus beteken “God gee krag”, is geopereer om sy tong te heg en sy heupe te herstel. Volgens Smith het sy elke dag wat hy daar moes bly om aan te sterk by hom gaan kuier en hom in sy hok vasgehou. Zeke is ʼn paar dae later ontslaan, maar kon steeds nie loop nie omdat sy heupe verder moes herstel.

Sy het hom tuisgemaak in een van die hondehokke op die perseel van haar rehabilitasiesentrum, met infrarooiligte en komberse om seker te maak hy bly warm. Sy het hom ook gereeld gehelp om te beweeg en met sy voorbene te stap. “Ek het my arms onder sy heupe gesit sodat hy nie daarop kan trap nie, maar hy moes oefening kry, al was dit net 50 meter op ʼn slag,” sê Smith.

Smith het kontak gemaak met Heather Whitfield van die Paws-itive Paws-ibilities veeartsenykundige fisieke rehabilitasiesentrum in Centurion, waar Zeke een keer per week begin het met hidroterapie. “Hy het naderhand so opgewonde geraak elke Woensdagoggend as hy geweet het hy gaan vandag ry,” lag Smith.

Zeke tydens sy hidroterapie by Paws-itive Paws-ilibities in Centurion. (Foto: Verskaf)

Zeke tydens sy hidroterapie by Paws-itive Paws-ilibities in Centurion. (Foto: Verskaf)

Zeke het ongeveer 10 ure se rehabilitasie in die vorm van hidroterapie, wat swem in ʼn onderdakwarmwaterswembad, onderwatertrapmeul en spa bad insluit. Hy het ook terapeutiese ultraklankterapie ontvang en daar is wondgenesing en spierstimulasie vir sy balans gedoen.

“Met rehabilitasie fokus ʼn mens nie net op een ding nie, ons kyk holisties na die hele pasiënt,” vertel Whitfield.

“Ons kyk na die pasiënt se gedrag en probeer alles doen om hom so geheel as moontlik te rehabiliteer. Ons het gim-werk en terapeutiese oefeninge soos op byvoorbeeld Pilates-balle gedoen om sy bene weer sterk te maak. Zeke het ook huiswerk gekry om te doen saam met Estelle.”

Daarna het hy vir ʼn maand lank by Smith se huis gewoon. Zeke se tong het ook wonderbaarlik ten volle herstel. Volgens Smith het sy hom gehelp met behulp van ʼn speelding en grondboontjiebotter om sy tong te oefen en versterk.

“Zeke het hier by my in die tuin gespeel en ook geswem. Hy kon by Heather al mooi begin loop en het hier by my soos ʼn kind in die beddings en tussen die blomme gespeel. Hy het in my huis in die gastekamer op die dubbelbed geslaap en as dit gereën het en die wind waai, het ek hom vasgehou tot hy slaap. Daai hond was my hele wêreld en ek was so hartseer toe ek hom moes laat aanneem.”

Zeke en Heather Whitfield oefen op die Pilates-balle. (Foto: Verskaf)

Zeke en Heather Whitfield oefen op die Pilates-balle. (Foto: Verskaf)

Op ʼn dag het ʼn diereverpleegster, Jessica Roux, haar gekontak. Sy het Zeke se storie op sosiale media gesien en was dolverlief op die hond.

“Sy het vir my gesê sy en haar man is besig om hulle huis te restoureer, maar dat sy baie graag vir Zeke wou aanneem. Ek het huisbesoek afgelê, want ek wou seker maak hy gaan ʼn goeie heenkome kry. In die 35 jaar wat ek met honde werk, het Zeke die diepste in my hart gekruip.

“Ek het egter ook geweet Jessica sou ʼn goeie aanneemma vir hom kon wees, omdat sy as diereverpleegster dadelik vir hom die hulp kon bied wat hy sou nodig hê indien iets met hom sou gebeur,” sê Smith.

“As ek nou daar gaan kuier, dan kom sit hy op my skoot soos ʼn baba en soen my. Hy onthou my só goed. Jessica en haar man bied vir hom die liefdevolste huis en ek is so beïndruk met hulle. Hy is maats met hulle kat en Franse poedel.”

Zeke en sy nuwe maats, 'n kat en 'n poedel. (Foto: Verskaf)

Zeke en sy nuwe maats, ‘n kat en ‘n poedel. (Foto: Verskaf)

Whitfield beaam dit. “Hy is deur ongelooflike mense aangeneem. Hulle stuur kort-kort vir ons foto’s van hom aan en ʼn mens kan sien die outjie is dolgelukkig saam met sy nuwe beste maats, die kat en die poedel,” lag Whitfield.

“Zeke was relatief skaam en skugter toe hy hier by Paws-itive Paws-ibilities aangekom het en was in sóveel pyn, maar sy hele houding was: ‘Ek gaan enige iets oorkom en ek gaan sterker word’. Ek het so verlief geraak op hierdie hond se fenomenale karakter. Hy het hard gewerk en gespeel en is baie liefdevol. Hy was so dankbaar en mens kon sommer sien hy sal nie sommer opgee nie, nie op ons nie en nie op homself nie,” voeg sy by.

Volgens Smith is dit uiters belangrik dat die publiek moet besef dat die pitbull-ras se bloedlyne suiwer gehou moet word. “As jy hulle van kleins af reg grootmaak, is hulle die wonderlikste honde. Die honde is soos kinders in die liggaam van ʼn dier – hulle kan ook buierig raak, maar sal enigiets doen vir liefde en aandag. Dit is ʼn ongelooflike honderas.

“Mense wat pitbulls inteel en nie die bloedlyne suiwer hou nie en nie seker maak hulle word deur geregistreerde telers geteel nie, ondervind later probleme. Net omdat hy lyk soos ʼn pitbull, beteken dit nie hy is opreg nie. Jy moet seker maak jy kan sy stamboom en geskiedenis opvolg en naslaan. ʼn Pitbull is nie net ʼn hond wat jy koop en jy sit hom op die erf nie – hulle kort baie liefde, aandag en spesiale opvoeding.”

* WEN! Drie gelukkige lesers kan elkeen ʼn Montego-geskenkpak, spesifiek vir jou troeteldier, ter waarde van R500 wen. Daar is drie kategorieë waaruit jy kan kies (honde, katte en ander diere) om in aanmerking te kom vir die prys en ʼn wenner sal in elkeen van die kategorieë aangewys word. Skryf nou in.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

19 Kommentare

Estelle Smith ·

My liefste seun! Soos ek belowe het net die beste vir jou en al my ander Underdogs SA pitbull kinders. ❤
Ek sal altyd julle pitbull mamma bly
“Voice for the voiceless”
“CARE IN ACTION”

VanAfrika ·

Ek is so bly vir sy onthalwe. Lyk soos n goedige ou hond, wens alle diere kan so gehelp word.

toy ·

My hart is seer en bly. Dit is so mooi. Kan dink daai oe kyk in mens se siel.

Martie ·

Jislaaik nou tjank ek sommer lekker. Zeke skies jyt so seer gehad. Estelle dankie dankie. Ek wens mense wil ophou om van die arme Pitties die demone te maak. Hulle is soos die mens hulle grootmaak. En Estelle is doodreg….jy neuk nie met die bloedlyne nie.

Johanna ·

n Ongelooflike hart roerende gebeurtenis. Zeke jy is pragtig verby! Dankie aan almal wat soveel liefde gee. N pragtige hond.

Vania ·

Weet jy – daar is nog stories wat mens se hart warm maak mens laat smile. aan die dame wat Zeke gered het, Zeke is geseend, maar glo my, jy gaan soveel meer liefde kry van hom. Ek is diere lief hebber alby my honde gered en twee keer was my lewe deur hul beskerm, die vreugde die lag die wardeering wat die 4 poot kinders wys is onbeskryflike gevoel… jy is goeie mens, jy gaan dubbel seeninge ervaar met Zeke en in jou lewe… goeie en mooi nuus die

Marichelle ·

Ons het vir Misty, ons pibble, gekry deur Underdogs, die amazing werk wat Estelle doen is onveskryflik goed. Sy is regtig n engel vir hierdie honde wat al soveel keur teleurgestel was deur mense en hul onkunde. Hulle is almal net gretige sponsies wat enige liefde sal vat wat hulle kan kry als te danke aan Estelle en haar amazing werk.
Dankie weereens Estelle

Diereliefhebber ·

Moet nooit enige hond onderskat nie. PitBulls word altyd beskuldig van die slegste goed. Pak die skuld op die eienaars. Dis hoe jy jou dier grootmaak. Diere is oor die algemeen so omdat hulle geen liefde kry nie. ‘n PitBull is eintlik ‘n wonderlike dier.

Elsabé Hardy ·

Wonderlik om sulke goed voel stories te lees. Bietjie meer van dit, en heelwat minder van ons vrot politiek en moord.

Piet Pompies ·

en waar is die Pitbull haters nou = beste honde ooit – jy het ‘n partner for life en dankie vir jou omgee

Helene ·

Pragtige storie~ so bly die maklike uitweg is nie gekies deur Zeke aan die slaap te maak nie. Aan almal betrokke ….. BAIE DANKIE!!

Annetjie ·

Awesome storie, trane loop sommer hoe kan mense hul kinders so weg gooi hy s ‘n pragtige dier . Wie dit ook al aan Zeke gedoen het sal ni ongestraf bly ni , SKAAM JUL . Net baie dankbaar hy het so goeie en liefdevolle huis gekry het . Baie dankie aan almal wat hom so mooi gehelp het . Zeke jys pragtig eks sommer lief vi jou !

Natan ·

Baie mooi verhaal. Almal wat gehelp het met Zeke se behandeling en herstel, pragtig, dit spreek boekdele van jul moraal. Sulke mense verdien hoë poste in die samelewing want so word hul werk en land geseën. Shalom.

Willie ·

Pragtige verhaal, sommer trane in die oe… Welgedaan, julle is engele..

bambi ·

Jip ek sit ook en pik n traantjie of 2 weg nou! Dankie dankie vir julle ongelooflike liefde vd praghond! mooiste verhaal; sommer my dag opgehelder!

Tash ·

Wat n mooi verhaal! Welgedaan, en dankie dat julle nie opgegee het nie!

koos ·

Awesome. Soos ook die perd Zulu. Dank die Vader vir sulke mense.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.