Weldaad bewys aan gebaretaaltolk

Danielle van Staden, Martin Bester en Nicoline du Toit wys hoe die woord “liefde” in gebaretaal lyk. (Foto: Verskaf)

Haar naam lui nie noodwendig ʼn klokkie nie, maar Nicoline du Toit se vriendelike gesig is een wat die afgelope twee jaar diep in talle Suid-Afrikaners se harte gekruip het. Sy is een van twee gebaretaaltolke wat help om gehoorgestremde Suid-Afrikaners ingelig gehou tydens die president en ander politici se inligtingstoesprake oor die Covid-19-pandemie.

As ʼn “coda” (child of deaf adult) en gekrediteerde gebaretaaltolk van die Suid-Afrikaanse Vertalersinstituut (Sati) dien sy die dowe gemeenskap basies nog haar hele lewe lank en is sy passievol oor hul bemagtiging. Om egter kwesbaar te wees en self vir hulp te vra is nie iets wat sy maklik sal doen het nie. Tóé gryp haar dogter en ʼn paar “engele” in.

Du Toit se dogter, Danielle van Staden, is ʼn kleuterskoolonderwyseres en was een van verskeie mense wat onlangs na Jacaranda FM se Good Morning Angels uitgereik het om haar ma by te staan. Du Toit is ’n tipe 1-diabeet wat insulien moet kry en ernstige katarakte het wat verwyder moet word.

Weens die uitdagings wat met vryskutwerk gepaard gaan, wat dikwels neerkom op geen werk, geen betaling, het sy eers onlangs by ʼn mediese fonds aangesluit. Hoewel die mediese fonds ʼn deel van haar uitgawes dek het sy steeds ʼn bybetaling van R15 000 vir haar oogoperasie nodig. Boonop is ʼn skaars vorm van beenmurgkanker by dié enkelma van twee ook onlangs gediagnoseer, waarvoor sy in Maart behandeling sal ondergaan.

“My ma sal altyd ʼn glimlag op haar gesig hê, ongeag enige persoonlike stryd wat sy dalk deurmaak. Sy sal nooit skroom om ander te help nie, maar sy is die een wat nou hulp nodig gehad het,” het Van Staden, wat ook ʼn jonger broer het, aan Jacaranda se luisteraars vertel.

Good Morning Angels het R30 000 aan ʼn emosionele Du Toit geskenk op hul roerende tranetrekker-insetsel verlede week op dié Gautengse radiostasie se ontbytprogram.

Nicoline het nooit gedink gebaretaal sal haar loopbaan word nie. (Foto: Verskaf)

“Ek is so dankbaar dat hulle gekies het om my te help, veral as ʼn mens luister na Good Morning Angels en voel dat ander se uitdagings soveel groter as jou eie is. Dit is vir my verstommend om hierdie tipe liefde en omgee van mense wat ek glad nie ken nie te ontvang. Mense se terugvoer op sosiale media oor my beroep het my ook opnuut geïnspireer om aan te hou om my roeping uit te leef,” sê sy.

Albei Du Toit se ouers is doof en haar pa was destyds ʼn prominente figuur in die dowegemeenskap as uitvoerende hoof van die dowe federasie van Suid-Afrika (DeafSA). Sy kon gebaretaal gebruik voordat sy woorde kon gebruik, maar het nooit gedink dit sal haar loopbaan word nie.

“Ek wou verpleegkunde gaan studeer en het destyds gesê ek sal nooit in die dowe gemeenskap werk nie, maar die Here het ander planne gehad. Dankie tog daarvoor, want ek is totaal versot op my werk en geseënd om my roeping uit te leef.”

Die behoefte was groot, maar opleidingsgeleenthede skraps toe sy haar professionele loopbaan as tolk by ʼn sentrum vir dowes in Mpumalanga begin het. Sy was later ook deel van die Universiteit van die Vrystaat (UV) se bekendstellingsprogram vir gebaretaalopleiding, en hoewel daar verskeie tolke is wat Suid-Afrikaanse gebaretaal goed praat en verstaan, is sy een van slegs 12 amptelike Sati-geakkrediteerde gebaretaaltolke in die land.

Die geleenthede vir tolke is so breed soos die behoeftes daaraan – van die kraamsaal tot die begraafplaas en alles tussensin –  maar die vergoeding daarvoor is egter steeds ʼn uitdaging.

“Baie mense sien gebaretaaltolkdienste as ʼn maatskaplike diens en die stigma wat daaraan kleef is dat dit dan mos gratis behoort te wees. Maatskappye stel ook dikwels tolke aan wat nie geakkrediteerd is nie om geld te bespaar en besef nie hoe nadelig dit vir die dowegemeenskap is nie. Dink maar net aan voormalige president Nelson Mandela se begrafnis,” skerts sy.

Omdat elke tolk nie noodwendig elke taal verstaan nie, verg dit dikwels spanwerk. “Met die Covid-19-vergaderings is dit veral belangrik dat ons meer as een persoon is. Dr. Nkosazana Dlamini-Zuma hou byvoorbeeld daarvan om tale te meng. My spanmaat wat Zoeloe verstaan volg dan ook haar toespraak en tolk dan vir my in gebaretaal. Ek dra my interpretasie daarvan dan weer oor.”

‘n Skermgreep van een van verskeie inligtingstoesprake oor die Covid-19-pandemie wat Nicoline moes tolk. (Foto: Youtube)

Sy verduidelik dat die algemene struktuur van gebaretaal universeel is, maar dat elke land en elke streek of provinsie binne daardie land ander dialekte sal hê. Daar is nie ʼn gebaar vir elke woord nie en gebaretaal se grammatika en sinskonstruksie verskil ook van “gewone” tale. Gesigsuitdrukkings word gebruik om iemand se stemtoon uit te beeld en ʼn individue se “gebaretaalnaam” word vir hom of haar gegee gebaseer op ʼn kenmerkende eienskap van daardie persoon. Op Good Morning Angels het Du Toit verduidelik dat Martin Bester se naam byvoorbeeld ʼn gebaar oor hare sal wees omdat hy gereeld aan sy hare vat.

Hoewel Suid-Afrika nog ʼn ver pad het om te stap om gehoorgestremde mense te akkommodeer, was iets soos die uitsending van die Covid-19-vergaderings volgens Du Toit baanbrekerswerk.

“Nie eers Biden het ʼn gebaretaaltolk tydens sy Covid-19-aankondigings in die VSA gehad nie.”

Sy benadruk ook dat sy nie “vir” gehoorgestremdes praat nie, maar eerder ʼn kanaal vir hulle is wat hulle inlig en bemagtig. “Ek glo sterk in selfverteenwoordiging en dat gehoorgestremdes hul eie stemme het en vir hulself kan praat. Ons moet hulle net deel van die gesprek maak.”

Lesers wat graag vir Du Toit wil ondersteun kan ʼn skenking by haar BackaBuddy-blad maak.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.