Weldoener waag lewe om man te red

Henco van Rooyen (Foto: Facebook)

ʼn Gautengse man ontvang lof van talle mense op sosiale media nadat hy Maandag sy eie lewe gewaag het om ʼn visserman te red wat byna in die Hartbeespoortdam verdrink het.

Henco van Rooyen, ʼn onderhoudsbestuurder van Hartbeespoort, word as ʼn held bestempel nadat hy sonder ʼn reddingsbaadjie tussen digte waterhiasinte ingespring het om ʼn verdrinkende man uit die water te help.

Dit was pure instink, vertel Van Rooyen in ʼn onderhoud met Maroela Media. Daar was nie tyd om te dink of om vergelykings te trek nie – as hy nie onmiddellik in dié water ingespring het nie, het daar ʼn moontlikheid bestaan dat die visserman kon sterf.

Volgens Van Rooyen, wat op ʼn landgoed langs die Hartbeespoortdam werk, het hy ʼn oproep ontvang om hom na die dam te haas omdat twee mans glo besig was om te verdrink.

“Die vrou [wat my gebel het] het aan my gesê ʼn fietsryer het glo twee mans by die dam om hulp hoor skree. Ek het my na die dam gehaas, en by my aankoms op die toneel was een van die mans reeds uit die water. Hy was paniekbevange en ek kon sien dat hy vir sy vriend se lewe vrees,” vertel hy. “Die ander man het reeds ophou skree – ek het in daardie stadium die ergste vermoed, maar nietemin steeds in die water gespring.”

Van Rooyen tydens die voorval (Foto: Facebook)

Van Rooyen sê hy het op daardie oomblik glad nie aan sy eie veiligheid gedink nie – soos onder meer dat die water baie diep is en dat dit gevaarlik sou wees om tussen die hiasinte te swem. “ʼn Mens dink nie aan sulke dinge nie,” sê hy. “Ek het ingespring omdat ek besef het dat hy besig was om onder die water verdwyn. Ek het geskree: ‘Ek kom! Ek kom!’ Die man se stem het weer duideliker geword en ek het sy stem gevolg.

“Toe ek in die water by hom aankom, het hy aan ʼn stuk polistireen vasgeklou. Ek het vir hom gesê om die polistireen te los sodat ek hom na buite die water kon trek en kon darem daarin slaag om hom na veiligheid te bring,” sê hy.

Volgens Van Rooyen was die twee mans besig om vis te vang op die dam. “Hulle is bestaansvissers wat vir ʼn lewe moet visvang – dis hoe hulle geld maak om vir hul gesinne te voorsien.”

Hy sê die man was glo “koud en bang”, maar het nié enige beserings opgedoen nie.

Van Rooyen sê hy is net dankbaar dat hy “op die regte tyd op die regte plek was”. “ʼn Mens dink nie daaraan dat jy nou heldhaftig gaan wees nie. Wanneer jy iemand om hulp hoor skree is dit maar instink wat inskop. Dán dink jy aan niks anders as om die ander persoon te probeer help of om sy lewe te probeer red nie.”

Zwai Mzwandile, ʼn inwoner van The Islands-landgoed langs die Hartbeespoortdam, het op Facebook geskryf Van Rooyen se heldedaad het sy geloof in die mensdom herstel. “Hierdie brawe man, Henco van Rooyen, het sy eie lewe gewaag om twee vissermanne van verdrinking te red in die Hartbeespoortdam – dít sonder ʼn reddingsbaadjie. Ná hierdie voorval het hy gesê: ‘As dit gedoen moet word, moet dit gedoen word.’ Leiers word gebore en nié gemaak nie. Hierdie land het mense soos jy nodig.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

Louis ·

Zettie, kan jy niks goed sien in die helde daad nie? Wat het stem keuse hiermee te doen?

Moet altyd negatief wees en bollie uitspoeg…..

Lydia ·

Well done Henco!!! Sooo trots op jou!! Man met ‘n hart van goud

Essa ·

Hoe nou Zettie? Meen jy die redder moes eers seker gemaak het van hulle party politiek en afhangende van die antwoord hulle uitgehelp of gelos het? Ek verstaan seker verkeerd.

JA wohl ·

WORD DIT OP HOOFSTROOM media berig of liewer die man wat met sy huishulp seksuele dade uitgevoer word? JY is ‘n HELD HENCO . mag God jou seen vir ‘n LEWE wat jy gered het. Want God het lewe gegee, ook die man s’n en jy het nie ‘n oomblik gedink om jou lewe in gevaar te stel vir ander nie … BAIE DANKIE .. jy is ‘n absolute held en voorbeeld van UBUNTU, van hoe die reenboognasie EINTLIK moet lyk.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.