Weldoeners gee 45 kinders nuwe kans op die lewe

Dr. Zweli Mkhize, minister van gesondheid, saam met Jacaranda FM se Martin Bester. (Foto: Verskaf)

Altesaam 45 kinders sal lewensreddende hartoperasies kan ondergaan danksy weldoeners wat dié week hul harte oopgemaak en in ʼn japtrap ʼn allemintige R1,8 miljoen vir hierdie verdienstelike saak geskenk het.

Die veldtog was deel van JacarandaFM se gewilde Good Morning Angels-insetsel en deel van die radiostasie se #GMAHeartsOfHope-inisiatief wat hy van stapel gestuur het ter viering van Mandeladag 2019.

Jacaranda FM het besluit om vanjaar die Nelson Mandela-kinderhospitaal te ondersteun en geld in te samel om behoeftige kinders die kans te gee om noodsaaklike hartoperasies te ondergaan. Dié hospitaal is ʼn gevorderde mediese instansie van wêreldgehalte waar dié delikate operasies uitgevoer word, maar geld word benodig om die operasies moontlik te maak vir kinders van behoeftige gesinne.

By die Nelson Mandela-kinderhospitaal kos só ʼn operasie gemiddeld R40 000, ʼn fraksie van wat dit in private hospitale kos, maar ʼn bedrag steeds buite bereik van duisende gesinne. Vir dié hartpasiëntjies kan so ʼn operasie die verskil tussen lewe en dood beteken.

Jacaranda FM het besluit om genoeg geld te probeer insamel om minstens tien kinders se hartoperasies te betaal en hulle só hoop op ʼn beter toekoms te gee.

Die radiostasie het egter Suid-Afrikaners se welwillendheid onderskat! Binne net drie uur wat die telefoonlyne oopgestel was vir skenkings, is R1,2 miljoen deur sakeondernemings en individue geskenk.

En dit het nie daar opgehou nie. Skenkings het aanhou instroom.

Die span van Jacaranda FM wat gehelp het om die fondse in te samel. (Foto: Verskaf)

Vanoggend is daar op die Breakfast with Martin Bester-program aangekondig dat ʼn allemintige R1,8 miljoen ingesamel is, genoeg om 45 hartoperasies uit te voer. Luisteraars het ook speelgoed, inkleurboeke, speelklei en leesboeke by die stasie afgelaai, genoeg om 200 geskenkpakkies vir kinders saam te stel.

Meer as 11 000 kinders word elke jaar in Suid-Afrika met hartdefekte gebore. Die meeste van hierdie kinders se gesinne kan nie private mediese sorg bekostig nie en is afhanklik van staatshospitale vir behandeling. Teaterlyste by staatshospitale is eindeloos en baie kinders sterf voor hul operasie aan die beurt kom.

Bester het gesê hy is oorweldig deur die ongelooflike ondersteuning wat dié veldtog ontvang het. “Dit sal my nooit ophou verbaas om te sien hoe ons luisteraars en Suid-Afrikaners oor die algemeen na vore tree wanneer daar ʼn oproep om hulp is nie. Ek kan aan geen beter manier dink om Madiba se nalatenskap te vier as om die lewe van Suid-Afrika se kinders te red nie. Hierdie jong hartjies kan eendag die verstand dryf van die volwassenes wat ons land en wêreld ten goede verander!”

Die publiek kan steeds geld aan die #GMAHeartsOfHope-inisiatief skenk deur hier te klik.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Maria ·

wooow dit n groot seening en geskenk . Baie baie….. dankie julle mag Here elkeen sal seen wat julle vir kinders gedoen het vir hoop. xx

Chantelle ·

ABSOLUUT FANTASTIES
ek het daai dag geluister
dit was amazing

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.