Weldoeners gee 67 hartpasiëntjies weer hoop

’n Reusebedrag van R2,7 miljoen is Woensdagoggend aan die Nelson Mandela-kinderhospitaal op Jacaranda FM se Good Morning Angels-insetsel oorhandig.

Good Morning Angels en hul gaste (Foto: Verskaf)

Danksy Good Morning Angels se weldoeners in samewerking met Round Table se Boikanyo Bug-inisiatief kan altesaam 67 kinders van die Mandela-kinderhospitaal noodsaaklike hartoperasies ondergaan.

Maroela Media het vroeër berig van die Good Morning Angels-span wat Julie vanjaar die #GMAHeartsOfHope-inisiatief van stapel gestuur het ter viering van Mandeladag om genoeg geld in te samel om aanvanklik tien hartpasiëntjies te kan befonds.

Meer as 11 000 kinders word jaarliks in die land met hartdefekte gebore. Die meeste van hierdie kinders word in gesinne gebore wat nie private mediese sorg kan bekostig nie en is afhanklik van staatshospitale.

Jacaranda FM se Martin Bester het Woensdagoggend aan Maroela Media vertel dat hulle verwagtinge heeltemal oortref is met die bedrag van R1,8 miljoen wat deur hulle luisteraars ingesamel is. “Ons word elke keer verras met die vrygewigheid van ons luisteraars. Mense raak al hoe meer vrygewig, ten spyte van hul eie nood,” vertel hy.

Round Table se Boikanyo Bug, ’n Volkswagen Kewer, het op Mandeladag ’n 14 500 km-reis deur Afrika onderneem ten bate van dié jong hartpasiëntjies. Met Leigh Michael en Alex Staniland aan die stuur, het dié reis op Mandeladag by die kinderhospitaal afgeskop.

Bester vertel dat dié pikante motor egter nie teruggekeer het Suid-Afrika toe nie. “Die reis het by die Internasionale Round Table-konferensie by Dracula-kasteel in Transsilvanië in Roemenië geëindig. Die Kewer is verkoop en nou by sy nuwe eienaar in Noorweë.”

Ná byna ’n maand is altesaam R900 000 deur dié unieke fondsinsamelingsinisiatief ingesamel.

Vanoggend het die Good Morning Angels-span die goeie nuus in die ateljee met die twee bestuurders van die Boikanyo Bug, asook dr. Krubin Naidoo en prof. Hopewell Ntsinjana van die Nelson Mandela-kinderhospitaal gedeel.

Bester sê dit was vir hom ’n emosionele ervaring om die Nelson Mandela-kinderhospitaal te kon besoek en te sien waardeur die kinders gaan. “Dit is vir my altyd lekker om te sien hoe ons deur sulke inisiatiewe vir mense hoop kan gee.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.