Weldoeners maak Comrades-droom waar

Joseph Pokwane. (Foto: Christine Henrico/Met vergunning van GrootFM 90.5)

Wanneer die skoot Sondagoggend by die wegspringlyn klap vir die begin van die 2019 Comrades-marathon, sal ʼn vasberade Joseph Pokwane (47) tussen die tienduisende hardlopers wees. Teen gister het hy nog nie eens geweet het hoe hy in Durban gaan kom om aan dié uitmergelende marathon deel te neem nie.

Totdat Roelien Potgieter oor sy pad gekom het.

Potgieter is die algemene bestuurder van GrootFM 90.5 en self ʼn ywerige hardloper met drie Comrades-marathons op haar kerfstok. Potgieter se pad het met dié van Pokwane gekruis toe sy en haar man vroeër vanjaar aan ʼn marathon in Edenvale gaan deelneem het.

“Joseph het saam met ons by die wegspringplek gestaan en ons het met hom aan die gesels geraak toe hy opgemerk het my vriendin is in dieselfde hardloopklub as hy, die Agape-atletiekklub,” vertel Potgieter. “Ons het hom uitgevra en hy het gesê hy is besig om voor te berei om die Comrades vanjaar te hardloop.”

Joseph Pokwane. (Foto: Christine Henrico/Met vergunning van GrootFM 90.5)

Dit sal vanjaar die tweede keer wees dat Pokwane aan die Comrades deelneem. Sy eerste marathon verlede jaar het hy in sewe uur 21 minute kafgedraf.

“Joseph het ons vertel hy moes die dag voor die wedloop in Edenvale ʼn trein van Mamelodi af neem omdat hy nie geld vir ʼn taxi gehad het nie. Hy het daardie aand in die badkamer van ʼn nabygeleë vulstasie gaan slaap sodat hy die volgende oggend betyds kon wees om weg te spring.

“My hart was geraak om te dink Joseph het daardie oggend van ʼn koue sementvloer af opgestaan om sy marathon te kom hardloop – sonder ʼn goeie nagrus of ʼn bord warm pap in sy lyf, sonder enige aanvullings of ʼn Vitamiene B-inspuiting,” sê Potgieter.

Pokwane het gevra of hy ʼn saamrygeleentheid terug Pretoria toe kon kry ná die wedloop en dit is tydens dié rit wat Potgieter hom beter leer ken het.

Lindie Strydom van GrootFM deel die nuus met Joseph Pokwane dat hulle gaan help om sy Comrades-droom te bewaarheid. (Foto: Christine Henrico/Met vergunning van GrootFM 90.5)

Pokwane werk tans as ʼn veiligheidswag by ʼn winkelsentrum in Murrayfield. Hy werk 12 uur-skofte vir vier of vyf agtereenvolgende dae en het dan twee dae af. Hy is die pa van drie kinders. Omdat hy sulke lang ure werk, is dit vir hom meestal nie moontlik om op werksdae te oefen nie en moet hy die meeste van sy oefening op sy afdae inpas.

“Dit is harde werk om vir iets soos die Comrades voor te berei, maar vir iemand soos Joseph is dit nog harder. Wanneer my wekker om 04:30 afgaan en ek uit my warm bed moet opstaan om te gaan hardloop, kry ek myself vreeslik jammer. Maar teen daardie tyd het Joseph al klaar geoefen, want hy moet ʼn taxi vang om teen 06:00 by die werk te wees,” sê Potgieter.

“Hy hardloop sonder aanvullings of energiestafies of spoggerige oefenklere. Dan hardloop hy nog beter tye as ons ook! Hy is net so ʼn goeie voorbeeld vir ander van as daar ʼn wil is, is daar ʼn weg.”

Boonop het Pokwane geen idee gehad hoe hy in Durban sal kom vir die Comrades, of waar hy sou vertoef as hy daar is nie. Hy het egter sy inskrywing gehad en was vasbeslote om die marathon te voltooi.

Joseph Pokwane hou sy kospakkie vas wat hy ontvang het. (Foto: Christine Henrico/Met vergunning van GrootFM 90.5)

Dit is toe dat Potgieter besluit het om met behulp van Groot FM se #JouMenseMyMense-inisiatief vir Pokwane te help.

Walter Vilakazi van Atletiek Gauteng-Noord het vervoer en drie dae se akkommodasie beskikbaar gestel, en die koste van Pokwane se reis-en-verblyf vir die naweek is deur Capitol Singers gedek. Spar het ʼn heerlike kospakkie vir Pokwane saamgestel vir die naweek en Potgieter en haar gesin het gehelp met die aanvullings wat nodig is vir die dag van die marathon.

Lindie Strydom van GrootFM het die blye nuus gister met Pokwane gedeel en die emosie op sy gesig spreek boekdele.

“My wens was om vir hom ʼn fantastiese ervaring te gee hierdie Sondag, dat hy uit ʼn warm bed uit sal opstaan na ʼn goeie nagrus en ʼn lekker bord kos. En ʼn span mense het saamgewerk om dit vir Joseph moontlik te maak,” sê Potgieter.

Lindie Strydom van GrootFM omhels vir Joseph Pokwane. (Foto: Christine Henrico/Met vergunning van GrootFM 90.5)

Pokwane is sprakeloos oor die goedhartigheid van vreemdelinge om hom te help. “Ek is so bly, so, so bly. Ek kon dit nie glo nie,” sê hy aan Maroela Media.

Hy vertel hy het eers in 2017 begin om kompeterend te hardloop toe hy by die Agape-atletiekklub aangesluit het, maar nou is dit sy grootste passie. “Ek ken geen ander sport behalwe hardloop nie. En ek is lief daarvoor om te hardloop, so dit is nie vir my moeilik om gemotiveerd te bly nie. Op my afdae moet ek ure lank hardloop om genoeg vir my marathons te oefen, maar ek is mal daaroor.”

Pokwane meen hy is slaggereed vir Sondag se 87 km. “Ek is gereed. Ek gaan goed hardloop. Ek wil net graag my vorige tyd verbeter, maar ek voel gereed.”

En hoewel Potgieter nie vanjaar saam met Pokwane die marathon sal aanpak nie, klop haar hart warm om te weet dat die ervaring vir hom besonders gaan wees. “Dit is hoekom ek so baie van hardloop hou,” sê sy.

“Vir my is dit die hartklop van Suid-Afrika. Daar is baie hardlopers wat soos Joseph nie die nodige hulpbronne of ondersteuning het wanneer hulle hierdie marathons aanpak nie. Maar wanneer ons by daardie wegspringplek aantree, loop dieselfde bloed deur ons are en het ons almal dieselfde hoop vir ons land.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

14 Kommentare

Comrades Novice ·

Sit ek nou met ‘n knop in my keel hierdie berig en lees. Hierdie is my eerste Comrades en ek sien baie daarna uit en het lankal alles beplan, maar ons vergeet hoe dit vir mense moet wees wat nie die alles haarfyn kan beplan nie a.g.v finansies of wat ookal. Dankie vir die mense daar buite wat met ‘n klein gebaar ‘n GROOT verskil in mense se lewens kan maak!

Kwaaitjie ·

Sterkte vir jou eerste Comrades.
Mag dit ‘n baie geseënde race wees.

???? leser ·

regtig ‘n knop in die keel stuk, dankie aan almal wat dit vir pokwane moontlik maak en besonder vir lindie, sys een uit baie miljoene, pragtig

Maria ·

Sjoe mooi en dankie al die ondersteuning dit maak regtig n mens verskil in die lewe. Glo my persoon sal nooit vergeet wat goeie dade mense gedoen nie dit so gebrand merk.

Meraai ·

Sit ek nou lekker en huil. Dankie vir almal se goedhartigheid.
Mag jy jou beste ooit hardloop.

wielie ·

Wow ……. my hart klop sommer warm. Sterkte vir die maraton. Lekker hardloop !

cha ·

Sjoe, baie dankbaar dat daar hulp is vir mnr Pokwane. Waarom sou die Agape klub(nogal ‘n groot klub) waarvoor hy hardloop dit nie in hul harte vind om hom te help nie?

SAmaritaan ·

So mooi gebaar!!! Wens news24.com wil sulke tipe berigte publiseer.

Flip ·

‘n Wonderlike storie.
Joseph Pokwane is ‘n lid van Comrades gemeenskap. Dit is so goed dat hy dit hierdie jaar behoorlik kan doen.
Hardloop, Joseph! Hardloop jou hart uit. Hier is mense wat vir jou omgee.

Andriette ·

Sterkte Joseph. Jy het meer moed as ek. Ek glo dit sal goed gaan.

Amelia ·

My beste wense vergesel jou Joseph.Ek wil ook hier vir Mattheus Olyn van Upington sterkte toewens hy is ook oppad Durban toe vir daai wedloop van 92km…..Aan almal baie sterke!!!

BOKKIE LANGEVELDT ·

Ons het meer van sulke mense in ons deurmekaar land nodig. Baie sterkte, Joseph.

Angela Hooman ·

Waar kan ek n bydrae gee vir die leeu van n man…. Sien ons as suid afrikaners moet die eerste tree gee en wys ons sien nie kleur of taal raak as ons goed sien in ander. Pay it forward. Sterkte ou Leeu.

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.