Welkome hupstoot aan tuinier wat regte studeer

Robert Mapose saam met sy twee seuns. (Foto: Verskaf)

Robert Mapose, ʼn inwoner van Mamelodi-Oos in Pretoria, het reeds vroeg geleer om beperkte geleenthede ten beste te benut.

Omdat Robert (43) self uit ʼn arm familie kom, was hy vasbeslote om ʼn beter lewe vir sy vrou, Hitahlula, en hul twee seuns, Wonderful en Timothy, te bou.

Sy werk as tuinier en stukwerk het hom die finansiële ondersteuning gebied sodat hy op 28-jarige ouderdom matriek kon slaag. Daarna het hy beslis nie die gras onder sy voete laat groei nie en sommer dadelik begin om regte te studeer.

Ondanks talle struikelblokke het Robert alle verwagtinge oortref en onlangs sy LLB-graad aan Unisa met lof verwerf.

Die uitdagings hou egter nie hier op nie: Sonder ʼn voertuig is dit vir Mapose besonder moeilik om ʼn goeie werk in die rigting te kry.

Dit het Jonathan Smith (23) genoop om ʼn skarebefondsingveldtog op BackaBuddy te begin om Robert te help. Hy werk reeds die afgelope 15 jaar vir die Smiths as tuinier.

Jonathan Smith het ‘n skarebefondsingveltog vir Robert begin. (Foto: Verskaf)

Jonathan wil met die veldtog genoeg geld insamel om Robert, wat tans net ʼn fiets besit, met ʼn tweedehandse voertuig te verras. Die motor sal hom ook help om in aanmerking te kom vir meer werksgeleenthede terwyl hy voorberei op sy raadseksamens.

“Ek was bevoorreg om voor Robert groot te word. Toe ek jonger was, het hy altyd tyd gehad om vir my stories te vertel en my toegelaat om hom in die tuin te help.

“Soos ek ouer geword het, het ek sy vriendelike gees net meer waardeer en ek is ongelooflik trots op wat hy reeds bereik het. Ek weet as hy net ʼn klein kans gegun word, sal hy ʼn reusesukses daarvan maak,” het hy gesê.

Jonathan se veldtog het reeds oorweldigende steun ontvang en R44 141 van die doelwit van R60 000 is vir Robert se stel wiele ingesamel. Sowat 85 donateurs het al ʼn skenking aan dié veldtog gemaak.

“Ons is so opgewonde om die boodskappe van ondersteuning van elke skenker met Robert te deel en hom te laat weet dat ons in die geheim vir hom ʼn motor gekoop het. Hy het so lank en ywerig gewerk, hy verdien regtig al die lof.”

Volgens hom sal die bykomende geld wat deur die veldtog ingesamel word, gebruik word om vir Robert ʼn skootrekenaar en netjiese werkklere aan te skaf sodat hy sy professionele loopbaan op ʼn hoë noot kan afskop.

Robert met sy gradeplegtigheid. (Foto: Verskaf)

Ondersteuningsboodskappe vir Robert:

  • “So ʼn inspirerende verhaal. Weggeblaas deur jou toewyding en volharding. Ek wens jou al die sukses toe wat jy verdien.” – Caz Lea
  • “Jy is een van die min wat ʼn deur bou waar daar nie eers een is om aan te klop nie. Welgedaan en sterkte.” – Christine
  • “Dankie vir al jou harde werk en dat jy na my omgesien het. Jy verdien dit! Ek is trots op jou.” – Ina Smith
  • “Elke terugslag is ʼn geleentheid vir om terug te keer en jou terugkeer is niks minder as uitstaande nie. Aan ʼn man wat die omstandighede getrotseer het, wens ek jou niks anders as net die beste toe nie.” – Tatton
  • “Robert, jy is ʼn inspirasie! Ek is dankbaar vir die geleentheid om jou droom te ondersteun.” – Leah Scholtz.

Jy kan Jonathan se veldtog vir Robert ondersteun deur BackABuddy se platform hier te besoek.

Robert Mapose het sy LLB-studies met lof aan Unisa geslaag terwyl hy tuin- en stukwerk gedoen het. (Foto: Verskaf)

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Noels244 ·

Dit is waaroor ons land moet gaan, help jou naaste ongeag wie of wat die persoon is. Nie al hierdie elemente wat net haat aanmoedig nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.