Staan nader, videospeletjie- en rugbygeesdriftiges, want die wêreld van rugby-videospeletjies het pas nog interessanter geraak met die uitreiking van RUGBY 22, met ons eie Springbok-rugbyspeler, Cheslin Kolbe, wat op die omslag pryk.
Die jongste weergawe van hierdie gewilde speletjie is einde Januarie op eie bodem uitgereik. Die speletjie is amptelik vir die Playstation 5, Playstation 4 en die Xbox Series X|S Xbox One uitgereik.
“Ons is trots daarop dat een van ons plaaslike sterre wêreldwye erkenning kry deur so prominent gebruik te word in ’n gesogte spelvermaakproduk soos RUGBY 22,” sê Mario dos Santos, uitvoerende hoof van GameFinity Suid-Afrika.
Oor die feit dat hy op die omslag van ʼn internasionale PlayStation-speletjie pryk sê Cheslin: “Dit is ʼn massiewe voorreg. Ek sou nooit kon dink ek sou op die omslag van ʼn rugbyspeletjie verskyn nie. Ek het altyd ander spelers op vorige speletjies gesien en gespeel. Dit is super spesiaal en ek kan nie wag om hierdie een te begin speel nie.”
Net soos sy voorgangers, RUGBY 18 en RUGBY 20, bied dié nuwe weergawe ook ’n opwindende interaktiewe ervaring, maar ’n paar noemenswaardige veranderinge is aangebring om dié videospeletjie nog meer outentiek te maak.
Nuwe groot nasionale spanne is nou ook vir die eerste keer deel van hierdie RUGBY-handelsnaam, insluitend die Wallabies van Australië en Nieu-Seeland se All Blacks. Albei dié spanne is bekend vir hulle kompeterende en fisieke eienskappe en die betowering wat hulle na die sport bring.
Die ateljee het ook besluit om fotogrammetrie te gebruik om ’n meer realistiese voorkoms aan die spelers van laasgenoemde, asook die Franse span, se gesigte te gee.
RUGBY 22 bied aan spelers al die elemente wat deel uitmaak van moderne rugby: Bekende amptelike spanne, taktiese veranderinge voor en tydens die spel, spesifieke spelpatrone, spel ná kontak en verskillende kombinasies. Alle rugbygeesdriftiges sal die grondbeginsels van die sport in die speletjie vind.
Kenmerke van RUGBY 22:
- Speel as jou gunstelingspan – RUGBY 22 beskik oor ’n groot verskeidenheid nasionale spanne, met hulle huidige spelers en truie: Nieu-Seeland, Australië, Frankryk, Fidji, Ierland, Italië, Skotland, Wallis, Japan en Georgië.
- Speel alleen of saam met ander – Enkel- of veelvuldige speleropsies is plaaslik en aanlyn beskikbaar deur verskillende verstellings wat selfs meer realistiese spel bied.
- Ontdek die loopbaanfunksie – Begin jou eie klub, klim die punteleer, bou jou droomspan en ding mee met die beste spanne in die wêreld.
- Speel soos ’n kenner – Geniet realistiese rugby-simulasie met regte taktiese diepte. Speel as ’n pod, bepaal jou vleuel se posisie, beplan jou verdediging en stel slim kombinasies saam om jou teenstander uit te oorlê.
- Outentieke ervaring – RUGBY 22 bied ’n intense en realistiese rugby-ervaring met fotogrammetrie om die gesigte van ster-spelers meer eg te maak en spesiale animasie wat so na as moontlik is aan die regte spelers se beweging, danksy bewegingvasleggingstegnologie.
- Oefen – Te danke aan nuwe instruksievideo’s wat in die speletjie ingebou is, kan spelers die basis van die sport leer en oefen om die beste speler te wees.
Wen: Een gelukkige Playstation 5-speler en een gelukkige Playstation 4-speler staan die kans om elk ʼn RUGBY 22-speletjie te wen. Die speletjie sal in die vorm van ʼn speletjiekode aan die wenner verskaf word. Die kompetisie sal op Vrydag 4 Maart om middernag sluit en die wenners sal op Maandag 7 Maart aangekondig word en per e-pos in kennis gestel word.
Die kompetisie het gesluit.
Bepalings en voorwaardes
- Twee deelnemers word lukraak as wenners aangewys.
- Een Playstation 5-speler en een Playstation 4-speler wen elkeen ʼn RUGBY 22-speletjie.
- Maroela Media sal die speletjiekodes aan die wenners verskaf.
- Die beoordelaars se besluit is finaal en geen korrespondensie sal gevoer word nie.
- Die pryse kan nie vir kontant geruil word nie.
- Maroela Media mag met deelnemers kontak maak vir vrywillige ondersteuning.