Wen ‘n les uit elke verloorslag

tic-tac-toe-1777855_1920As jy reeds jou kind se spogfoto met te min arms vir al die baie trofees, medaljes, balkies en sertifikate op Facebook kon plaas, is ons almal regtig verskriklik bly vir jou onthalwe! Of soos die onderwyser by my kinders se prysuitdeling gesê het: “Dis nie rede om trots te wees nie. Net dankbaar!” Ons is saam met jou dankbaar. Prys die Here vir daardie wenslag!

Maar, namens die res van ons, leer ek ook in hierdie tyd: “Prys die Here vir teleurstelling!”

Prys Hom vir die pryse wat jy nie hierdie jaar by die prysuitdeling gekry het nie, want dit beteken God het gevoel die “verloorslag” of die “teleurstelling” is nou méér nodig vir jou mondering en karakter as die wenslag.

Niemand hardloop mos om te verloor nie – maar dit gebeur. Niemand swot om onnodig foute te gaan maak in die wiskunde-eindeksamen nie of gaan staan voor die paaltjies om vir die eerste bal uitgeboul te word nie – maar dit gebeur en die eintlike “wen” kom juis uit hoe ons daai “verloor” hanteer!

Op die webblad www.squarewheels.com gee Darren Roberts ʼn paar voordelige winste en lesse te “wen” uit ons “verloor”.

  1. Ja, dit bou karakter!
  2. Dit gee ons ervaring en ʼn basis van waar af ons kan verbeter.
  3. Dit laat ons soek na nog moontlikhede, ander oplossings, beter alternatiewe – lekker laterale denke!
  4. Dit stroop ons van vals selfvertroue en voorgee tot daar waar ons uiteindelik kan werk aan ons swakpunte en soos met tennis ʼn “vol game” kan ontwikkel waar ons nie elke keer om die rughand probeer hol nie!
  5. Enigeen wat al teleurstelling geproe het, sal weet: jy werk net eenvoudig nog harder, oefen nog langer, beplan nog beter en kweek ʼn nodige dik vel …

Molly Green skryf in Beeld oor die atleet, Ernst van Dyk. Hy is sonder bene gebore en die dokter se aanbeveling vir sy ouers was “sit hom in ʼn inrigting”. Hy het soveel teleurstellings in sy leeftyd beleef, maar uiteindelik sy honneursgraad in sportwetenskap behaal, die Boston-marathon 10 keer gewen én ʼn goue medalje in die rolstoelmarathon vroeër vanjaar by die Paralimpiese Spele in Rio.

Ernst se verlies het hom eintlik soveel laat wen in die lewe. En so is daar vir elkeen van ons iets te wen uit elke verloorslag.

Ek glo God gee en God neem. Soos Tree 63 sing: “You give and take away, You give and take away. My heart will choose to say – Lord blessed be Your name.” Of U gee en of U neem, of ek wen en of ek verloor – Prys u Naam, Here!

Meer oor die skrywer: Lindie Strydom

Lindie Strydom is ‘n bekende radio- en TV persoonlikheid, skrywer en spreker met ‘n passie vir haar gemeenskap! Sy is getroud met Johann Strydom en die ma van drie kinders, Paul en ‘n tweeling, Hugo en Nina.

Deel van: Goeie nuus, Rubrieke

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.