Wen ʼn studiebeurs saam met DZL en Gameways

Gameways-wildplaaskursus (Foto verskaf)

Die manne van die duo-groep DZL is bekend vir hulle liefde vir die natuur; as hulle nie ʼn olifant bystaan wat ʼn stropingspoging in Kenia oorleef het nie, is hulle besig om die publiek rakende die aanslag op Suid-Afrika se leeubevolking bewus te maak. Andries Hendrik Potgieter en Wiaan Fourie het nou hulle passie vir diere en die buitelewe ʼn stappie verder geneem deur hande te vat met Gameways om ʼn studiebeurs ter waarde van R19 500 beskikbaar te stel.

“Hierdie projek lê ons baie na aan die hart want nie net skep ons bewusmaking rondom die geleenthede binne die land se natuur- en toerismebedryf nie, ons gee ook vir iemand die geleentheid om sy of haar passie uit te leef en ʼn toekoms vir hulself te bou,” vertel Andries. “Die lewe is so negatief en baie mense is bekommerd oor hulle toekoms. Met hierdie projek wil ons veral jongmense wys dat daar soveel groei binne hierdie spesifieke bedryf is en dat hulle ʼn suksesvolle loopbaan hiervan kan maak.”

ʼn Gelukkige wenner het die geleentheid om voltyds vir drie weke lank ʼn wildplaasbestuurkursus by Gameways saam met die DZL-manne by te woon. Gameways is bekend vir hulle omvattende en praktiese kursusse wat toekomstige wildplaasbestuurders voldoende opleiding gee in al die belangrike fasette waaruit wildplaasbestuur bestaan.

(Foto verskaf)

“Ons vind daar is ʼn groot leemte aan praktiese ondervinding onder nuut opgeleide wildplaasbestuurders sowel as nuwe plaaseienaars,” verduidelik Lourens van Coppenhagen, eienaar en direkteur van Gameways. “Tydens die kursus plaas ons klem op die praktiese sowel as teoretiese opleiding. GameWays se hoofdoelwit is om nuwe wildplaasbestuurders aan die mark beskikbaar te stel wat ervare, opgelei, vaardig, selfversekerd en verantwoordelik is.”

Die wildbedryf in Suid Afrika bied baie opwindende moontlikhede aan persone met die nodige kennis en liefde vir die natuur. Wildplase alleen beslaan ongeveer 25% van die grondoppervlakte van Suid-Afrika en elkeen van daardie plase benodig hardwerkende, passievolle wildplaasbestuurders met die nodige vaardighede en kennis. Terselfdertyd is daar vele ander beroepe wat swaar op die wildbedryf steun. Ekoloë, veeartse en veearts-assistente, veldgidse, professionele jagters, toergidse, teen-stropingspesialiste, gasvryheidbestuurders, wildvangers en taksidermiekundiges het almal een ding gemeen – liefde en respek vir die natuur en ʼn passie om dit te bewaar.

“Gameways se wildplaasbestuurskursus waarborg om jou uitkyk op die natuur vir altyd te verander. Hierdie kursus onderneem om elke student toe te rus met die nodige teoretiese kennis en praktiese vaardighede rakende die belangrikste aspekte van wildplaasbestuur.”

Gedurende die drie weke opleiding gaan die DZL-manne en die wenner onder andere meer leer oor wildvang, finansies, habitat, genetika, voeding, hoe om wild hans groot te maak, siektes, nadoodse ondersoeke en vele meer.

Gameways-wildplaaskursus (Foto verskaf)

“Ons gaan ook vir drie weke lank hierdie kursus saam met die wenner bywoon en elke aspek van die teorie en praktiese gedeeltes ervaar,” voeg Wiaan by. “Ons het sommer al klaar begin oefen om ʼn geweer ordentlik te hanteer en gaan ʼn paar keer voor die kursus tyd op die skietbaan deurbring. Ons wil nie soos amateurs lyk nie,” lag hy.

Die wenbeurs sluit ook studiemateriaal, praktiese opleiding, voltydse verblyf, etes, uniforms en vele meer in. Diegene wat in aanmerking wil kom vir die studiebeurs kan ʼn e-pos aan [email protected] stuur waarin jy motiveer hoekom jy die beurs wil wen. Persone wat inskryf moet beskikbaar wees om van 5 – 26 Januarie 2019 die kursus voltyds by te woon. Die sluitingsdatum vir inskrywings is 7 Desember 2018 en die wenner word op 14 Desember 2018 aangekondig.

Hier is ʼn video van ʼn oorsig van die wildplaasbestuurkursus:

Onlangse DZL-nuus:
Andries Hendrik Potgieter en Wiaan Fourie wat ook as die ‘renostermanne’ bekendstaan vir die werk wat hulle vir renosterbewaring doen, het pas teruggekeer van Thailand waar hulle Suid-Afrikaanse toeriste se aandag gevestig het op die uitbuiting van olifante binne die toerismebedryf.

“Een van die groot toeriste-aantreklikhede in Thailand is die land se olifante en veral om op hierdie olifante te ry. Vir slegs R300 kan jy twee ure op ʼn olifant se rug deurbring. Toeriste is egter nie bewus van die feit dat daardie olifante van jongs af mishandel word net sodat jy op sy rug kan klim nie. In die laaste jaar het Suid-Afrikaanse toeriste na Thailand met sowat 17.8% gestyg en nagenoeg 100 000 Suid-Afrikaners besoek dié Suidoos-Asiese land op ʼn jaarlikse basis. Dit is dus belangrik vir ons om vir Suid-Afrikaners te waarsku oor die realiteite en wat om te vermy,” verduidelik Andries.

Olifante word van kleins af met swepe en stokke geslaan om hulle te leer om gehoorsaam te wees. Die baba-olifant se gees en liggaam word fisies gebreek deur ʼn proses wat as phajaan bekendstaan. Die olifantjie verduur van jongs af ondraaglike omstandighede wat ook gebrek aan water en kos insluit. Andries en Wiaan het net buite Phuket een van die etiese parke besoek waar hulle die geleentheid gegun is om saam met baba-olifante te swem.

“Dit was een van die beste en kosbaarste ondervindings van ons lewe! Om so naby aan ʼn massiewe dier te kom en net saam met hom die seewater te geniet was ongelooflik. Jy kan sommer sien die olifant geniet hom terdeë en soms raak hulle sommer skelm en spuit jou nat. Ons gunsteling was ʼn olifantjie genaamd Ya Ya,” lag Wiaan.

Kontak DZL
Twitter
Facebook
Instagram
Webwerf

Kontak Gameways
Webwerf
Facebook

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.