Wen: Versamelaars vergader by Comic Con Africa

Comic Con Africa vind vanjaar in September plaas. (Foto: verskaf)

Talle entoesiastiese versamelaars van enigiets van strokiesprentboeke tot aksiefigure en grafiese romans sien jaarliks met groot afwagting uit na die Comic Con-byeenkoms waar hulle die passie kan uitleef.

Vanjaar kan plaaslike versamelaars in die vreugde van hul stokperdjie deel tydens Comic Con Africa wat van 22 tot 25 September by die Johannesburg Expo Centre plaasvind.

Zaid Motale is een van dié kranige versamelaars en het sy inligting hieroor met Maroela Media gedeel.

“Ek het nog altyd daarvan gehou om sekere goed te versamel en om maniere te vind om dit uit te stal. Ek het intussen meer oor die stokperdjie geleer, en is nou meer georganiseerd in die bou van my versamelings.”

Motale se versameling het begin met ’n Batman-figuur wat hy in 1997 by Checkers gekoop het.

“ʼn Mens moet altyd eers ʼn bietjie tyd bestee om te bepaal waarom jy die versameling wil begin. Is dit vir persoonlike genot? Wil jy dit later verkoop? Is dit ’n bietjie van al twee? Om hierdie goed te weet sal jou lei in die besluit oor wat jy wil versamel.”

Sy voorstel is om klein te begin en eers ʼn bietjie navorsing te doen oor die versameling wat jy wil begin.

“Dit moet vir jou pret wees. As dit nie is nie, is daar nie werklik ’n punt nie.”

Motale verduidelik dat dit dikwels moeilik is om geldwaarde aan verskillende versamelings te heg. Dít wat mense versamel kan strek van bottelproppies tot duursame kunswerke.

“Ek is bevoorreg genoeg dat ek al ’n hele paar versamelstukke kon verkoop. Nietemin sal ek nooit voorstel dat mense dit sien as ʼn gewaarborgde manier om te spaar met die hoop dat jou versameling vir jou op jou oudag gaan sorg nie.”

Hy benadruk dat dit soms moeilik vir Suid-Afrikaanse versamelaars is om toegang tot sekere versamelstukke te kry.

“Die randwaarde wat so swak teenoor ander geldeenhede is pootjie ons. Daar is ook talle mense wat versamelaars probeer uitbuit.”

Hy stel voor dat mense wat graag deel van die versamelaargemeenskap wil word, geduld en versigtigheid aan die dag moet lê.

Motale sê Suid-Afrikaners was nog altyd kranige versamelaars.

“Geleenthede soos Comic Con Africa laat val beslis ’n groter kollig op versamelaars. Dit is bemoedigend om te sien hoe verskillende mense bymekaar kom om ’n passie te deel.”

  • Kaartjies vir Comic Con Africa kan hier aangeskaf word.

Wen!

’n Gelukkige Maroela Media-leser staan die kans om ’n stel van twee naweekkaartjies na Comic Con Africa te wen.

Al wat jy moet doen, is om jou besonderhede in die kompetisievorm onderaan hierdie artikel in te vul.

Die sluitingsdatum vir die kompetisie is Maandag 22 Augustus om 23:45.

Die kompetisie het gesluit.

Bepalings en voorwaardes

  • Die kompetisie sluit op 22 Augustus om 23:45.
  • ’n Wenner sal lukraak gekies word.
  • Deelnemers moet ouer as 18 jaar wees.
  • Die beoordelaars se beslissing is finaal en geen korrespondensie sal daaroor gevoer word nie.
  • Die trekking sal direk ná die sluitingsdatum plaasvind waarna Maroela Media per e-pos en/of telefonies met die wenner in verbinding sal tree.
  • Sodra die wenner gereageer het, sal die persoon se naam op Maroela Media bekendgemaak word.
  • Die prys(e) kan nie vir kontant omgeruil word nie.
  • Wenners is self vir reis- en verblyfreëlings verantwoordelik.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.