Wenke om gemaklik in jou langer lengte te wees

Carina Nel (Foto: Stroopsoetfotografie/Facebook)

Vir vroue wat langer as 1,76 m is, is dit nie altyd maklik om selfversekerd in ʼn vertrek in te stap nie, want hulle is waarskynlik die langste vrou daar. Dit is ook nie so maklik om klere wat pas in die winkels te kry nie, want die klerebedryf gee nie genoeg aandag aan dié tipe mense nie. En asof dit nie erg genoeg is nie, maak vreemdelinge ongevraagde opmerkings oor jou lengte.

Carina Nel, ʼn mode- en voorkomsstilis van Pretoria, het onlangs ʼn beweging genaamd Tall Women Movement (TWM) gestig om langer vroue selfversekerd en gemaklik te laat voel in hul lengte.

Maroela Media het vroeër berig dat TWM ʼn platform is wat aandag gee aan die modebehoeftes van die langer vrou. Die beweging wil ook die emosionele skade uit die weg ruim wat veroorsaak word as gevolg van ongevraagde en onsmaaklike opmerkings oor hul lengte.

Nel het aan Maroela Media gesê sy wéét hoe dit voel om nie in die “normale” boksie te pas wat die wêreld as standaard stel nie, omdat sy self 1,87 m lank is. Daarom wou sy ʼn platform skep waar lang vroue bymekaar kan kom sonder om te voel of hulle nie inpas nie.

“Ons het verskillende persepsies van wat dit beteken om ‘lank’ te wees. In Suid-Afrika is jy ʼn lang vrou as jy 1,78 m en langer is, maar baie vroue sien ook hulself as lank as gevolg van hul familie of vriendekringe. Hierdie beweging staan op vir die regte van alle langer vroue,” het sy gesê.

Tall Women Movement (Foto: Stroopsoetfotografie/Facebook)

Nel het gesê dit het haar lank gevat om vrede te maak met haar lengte, en dat sy nou ander vroue wil help om dit ook te doen. Sy stel die volgende vyf stappe voor om gemaklik in jou langer lengte te word:

  1. Wees lief vir die vrou in die spieël

Dit is die grootste en moeilikste stap vir vroue oor die algemeen, nie net ʼn lang vrou nie.

Ons kyk met negatiewe oë, eerder as mooi oë na onsself, ons kyk altyd na wat vir ons lelik is. Baie vroue sukkel selfs om hulself te komplimenteer. Maar jy moet leer om vir die vrou in die spieël te kan kyk en vir haar te sê: “Ek is mal oor jou. Ek hou van alles van jou.”

Jy kan fisies niks aan jou lengte doen nie. Maak nie saak of jy jou hare plat maak en nooit hakskoene dra nie, jy kán nie korter word nie. Jy moet die vrou in die spieël se lengte aanvaar, en die enigste manier waarop jy dit kan doen, is om te verander hoe jy na jouself kyk.

  1. Vind uit wat jou bates is en beklemtoon dit

Goed, jy het nou voor die spieël gestaan en na jouself gekyk. Nou moet jy uitvind wat jou bates is.

Elke liewe vrou het iets mooi aan haar, of dit nou jou hare, boude, hande of voete is. Jy moet dit net gaan soek. Wanneer jy dit bepaal het, kan jy dit begin beklemtoon.

As jy byvoorbeeld mooi hande het, sorg dat jou naels mooi lyk of geverf is, dra mooi ring en armbande, sodat dit op só ʼn manier aandag na jou bates toe trek.

  1. Verander die mode‑nagmerrie in ʼn mode‑droom

Vir ons as lang vrou is enige klere-inkopies ʼn nagmerrie, want winkels voorsien nie in ons behoeftes nie. Ons behoeftes is langer broeke, rokke en hemde.

Maar as jy weet wat jou bates is en jy kyk met mooi oë na jouself, sal jou uitkyk op inkopies verander.

Kyk met ander oë na die klere, en maak dit pas. Kry iemand wat vir jou verstellings kan doen of verander sommer die hele patroon van die item, sodat dit beter pas. TWM begin ook binnekort met weeklikse stylwenke oor klere-probleme wat langer vroue ervaar.

  1. Neem eienaarskap van jou spasie

Carina Nel (Foto: Stroopsoetfotografie/Facebook)

Jy het niemand se goedkeuring nodig om te weet jy is waardig nie. Jy moet dit self besluit.

Baie langer vroue het emosionele bagasie as gevolg van opmerkings wat vreemdelinge oor hul lengte maak. As jy dag in en dag uit hoor hoe lank jy is, sal jy later begin glo dit is ʼn slegte ding.

Dít is wanneer vrou krom begin loop of nooit hakskoene dra nie, omdat hulle só minder spasie opneem. Die wêreld sê ook vir vroue dat hulle nie ʼn man of ʼn kêrel kan hê wat korter is as hulself nie.

Die wêreld pak hierdie bakstene op ʼn langer vrou se rug, en dit kan dalk daartoe lei dat jy baie wonderlike mans miskyk omdat jy dink jy kan nie in ʼn verhouding wees met ʼn korter man nie. Ek is al 34 jaar lank getroud met ʼn man wat korter as ek is. Ek het ʼn keuse gemaak om ʼn Goddelike man, eerder as bloot ʼn langer man vir my te kies en jy kan ook.

Jy hoef nie jouself kleiner te maak nie. Hou jou kop omhoog, neem jou volle spasie op, want dit is wat God van jou verwag.

  1. Raak deel van TWM

Ek nooi lang vroue uit om deel te raak van wat TWN aanbied. Ons hou landwyd funksies waar lang vroue bymekaar kan kom, mekaar in die oë kan kyk en kan voel asof hulle iewers hoort.

Dáár is jy nie die langste een in die vertrek nie, ons kan foto’s neem sonder om af te buk en ons kan almal hoë hakke dra. By dié funksies wil ons lang vroue bymekaarbring en hulle aanmoedig om die mooi in hulself raak te sien.

TWM gaan ook binnekort hul eie modieuse klerereeks vir lang vroue uitbring.

Vir meer inligting oor TWM, besoek hul Facebook-blad.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

9 Kommentare

Ek ·

Ek self is lank, ‘n hele volle rondte 1.63 maar hierdie dames is bietjie langer as ek.

HONOURABLE MEMBER ·

Ek geniet my lang lengte. Dis kort mense wat mens altyd so spot is gewoonlik so jaloers want hulle wys mos maar baie gou as hulle gewig optel. Gun elke mens sy plekkie in die son.

Zaks ·

Ek al opgelet mense le net n eier as hul sien die persoon is rustig en n nie terug byterig nie. Byt terug en kyk hoe kwyn opinies weg. Flight or Fight..

MJ ·

My lengte is 1.72 m en ek is die kortste in my familie… Het nog nooit gewens om langer of korter te wees nie. Soos Gouelokkies se pap.. net reg!

Janine ·

Ek het verlede week die voorreg gehad om vir hierdie ongelooflik talentvolle vrou model te speel by een van haar funksies wat sy aangebied het op die MSC Musica. Die spesifieke praatjie was nie noodwendig gemik op lang vroue nie, maar sy het dit kunstig ingewerk as deel van haar praatjie en mode vertoning en styl voorstelle was wonderlik en positief ontvang deur al die dames teenwoordig! Sluit gerus aan by haar groep/blad – julle sal nie spyt wees nie. Dis haar ‘mission’ om lang vroue anders na hulself te laat kyk. Die vrou ken haar storie ….

? leser ·

‘n lang vrou, gewoonlik skraal, is inderdaad ‘n wins vir die oog, trek jou spykerskoene aan, jou mooi klere, beklemtoon jou kurwes en wees net jy, jys altyd pragtig

Biebie ·

My 15-jarige dogter is 1.8 meter, sy is slank, sportief en pragtig. Sy dra haar lang lenige lyf met grasie en ek is soo trots op haar (en soms jaloers). Sy haal vir my goedjies van hoë rakke af by die huis en in winkels. Wat ñ bonus?

Miekie ·

Ek is presies 1,5 en ek moet se ek is nie regtig gepla nie. Het ‘n leertjie by die huis. As ek in die winkel is en iets van die boonste rakke wil he vra ek net iemand en almal is gewoonlik baie vriendelik. AL probleem is as jy klere koop en daai mense maak nie die rokke of broeke korter nie moet jy dit maar laat doen want dit is baie lang stukke wat hulle afsny. Die een vrou het eenkeer gese sy sal vir my ‘n camisole laat maak met die materiaal wat oorbly. Dit het ek nie waardeer.

Va-va-voom ·

Ek was vreeslik skaam as kind op laerskool en tiener op Hoërskool oor my lengte (1.74m). Dis eers nou in my 40’s dat ek vrede gemaak het daarmee. Ek koop mooi en gemaklike 9mm hoëhakskoene en geniet dit gate uit om “neer te kyk” op my manlike kollegas, base en klase :-) Ek versorg my hare en naels en maak seker my grimering is elke dag mooi sag aangewend. My lengte pla my glad nie meer nie – net jammer dit he my so lank gevat om daaroor te kom … :-)

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.