Wenner van eerste Jan H. Maraisprys aangewys

By die dinee waar die aankondiging gemaak is. Prof Andreas van Wyk, voorsitter van Het Jan Marais Nationale Fonds, sy vrou Magdaleen, mnr Ton Vosloo (naasregs), uittredende voorsitter van Naspers en sy vrou, Anet Pienaar-Vosloo (regs). Foto: Anton Jordaan

By die dinee waar die aankondiging gemaak is. Prof Andreas van Wyk, sy vrou Magdaleen, Ton Vosloo (naasregs), en sy vrou, Anet Pienaar-Vosloo (regs). Foto: Anton Jordaan

Prof. Hermann Giliomee, historikus en kenner van die Suid-Afrikaanse politiek, is vandeesweek aangekondig as die eerste ontvanger van die Jan H. Maraisprys vir ʼn uitstaande bydrae tot Afrikaans as wetenskaptaal.

Die gesogte toekenning ter waarde van R500 000 sal op 30 Mei, die verjaardag van wyle Jannie Marais, tydens ʼn funksie op Stellenbosch aan hom oorhandig word.

Die Jan H. Maraisprys is in 2015 ingestel deur drie van die belangrikste instansies wat hulle bestaan te danke het aan die erflating van Johannes Henoch Marais (1850-1915), toonaangewende Stellenbosser en voormalige inwoner van Kimberley waar hy sy welvaart opgebou het. Die instansies is Het Jan Marais Nationale Fonds, Naspers (Media24) en die Universiteit Stellenbosch.

Die prys word jaarliks toegeken as erkenning vir  ʼn uitstaande bydrae tot Afrikaans as wetenskaptaal deur wetenskaplike werk en publikasies op hoё vlak en van hoё gehalte in Afrikaans.

Jannie Marais. Foto: Verskaf

Jannie Marais. Foto: Verskaf

Prof. Giliomee  se wye kennis en belangstellings het baie vermag om by Suid-Afrikaners, en veral by die Afrikaanssprekende gemeenskap, ʼn kritiese ingesteldheid te kweek. Hy het ook  ʼn belangrike rol in die bevordering van ʼn verantwoordelike diskoers oor lewensbelangrike kwessies in ons land gespeel onder apartheid en in die huidige bestel.

Sy werk toon die relevansie van die verlede vir ons hede en die moontlikhede vir ʼn rasionele omgang met daardie verlede. Giliomee se lewenslange verbintenis tot onafhanklike denke en sy akademiese insette in Afrikaans maak van hom ʼn waardige ontvanger van die eerste Jan H. Marais-toekenning.

Hoewel hy ʼn vrugbare navorser en skrywer is, is hy grootliks bekend vir sy boek Die Afrikaners:  ʼn Biografie in 2003.

Die keurkomitee van die toekenning het bestaan uit prof. Andreas van Wyk, oudrektor van die Universiteit Stellenbosch, as voorsitter; Christoff Heyns, regsgeleerde van Pretoria; Piet Steyn, voormalige navorsingsdirekteur van die Universiteit Stellenbosch; Arnold van Zyl, universiteitsrektor van Stuttgart, Duitsland; en dr. Johan van Zyl, oudrektor van die Universiteit Pretoria en voormalige hoof van Sanlam.

Die prys van R500 000 sal weer in 2017 toegeken word. Die aanwending van die prysgeld is in die hande van die ontvanger.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

toenou ·

Kan die boek nie vir Hoërskool spesifiek Afrikaanse Privaat skole ver-en ingewerk word as AFRIKAANSE TAAL GESKIEDENIS.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.