Wenner van Entrepreneur van die Jaar-kompetisie aangewys

Marita Bezuidenhout van Magies vol Liefde is as AfriVriendelik, ʼn inisiatief van AfriForum, en Akademia se Entrepreneur van die Jaar aangewys. Foto: Verskaf.

Marita Bezuidenhout van Magies vol Liefde is as AfriVriendelik, ʼn inisiatief van AfriForum, en Akademia se Entrepreneur van die Jaar aangewys. Haar passie vir haar onderneming, besigheidskennis en innemende geaardheid het beslis in haar guns getel.

Die wenners van die kompetisie is op 31 Oktober by Mangwa Valley Lodge bekendgemaak.

Sowel beoordelaars as finaliste moes na elke finalis se voorlegging kyk. Die finaliste is verras met twee ander pryse: die prys vir die publiek se gunsteling (waarmee Anelia Prinsloo en Rhona Erasmus van Pienkvoet-Pret weggeloop het), asook die prys vir die finaliste se gunsteling (waarmee Karla Swanepoel van Flink weggestap het).

Die beoordelaars by vanjaar se kompetisie was:

  • Daniël Malherbe, eienaar van Lumico, ’n digitale agentskap wat nasionale en internasionale ondernemings se digitale ekostelsels bestuur;
  • Danie Marais, senior kredietbestuurder by Absa wat spesialiseer in die vervoerbedryf en die regruk van ondernemings;
  • Marco van Niekerk, uitvoerende hoof van Outdoor Investment Holdings, Suid-Afrika se grootste vertikaal geïntegreerde groot- en kleinhandelaaronderneming wat op die buitemuursportwarebedryf fokus;
  • Minette van der Walt, inhoudregisseur van, onder meer, Winslyn (kykNET), ’n informatiewe program wat aktuele kwessies in die sakewêreld aanroer en op entrepreneurs, ondernemings en tegnologie fokus; en
  • Rina Lombard, eienaar van Is Moz Bos, wat muskietafwerende produkte formuleer en wêreldwyd aan handelaars verskaf.

Akademia het die bekende Sakeplan-kompetisie vir vier jaar lank (2013 tot 2016) aangebied. AfriVriendelik bied die Entrepreneurskompetisie sedert 2017 aan. Meer as 250 entrepreneurs het intussen aan dié kompetisie deelgeneem en meer as 8 000 lede van die publiek het vir hul gunstelinge gestem.

Sanderien van der Walt, bestuurder van AfriVriendelik en AfriForum Netwerk, is baie opgewonde oor hul tweede entrepreneurskompetisie.

“Daar is groot pryse op die spel, maar wat hierdie kompetisie veral uniek maak, is die platform wat dit aan die wenner bied. Die wenner se produk of diens word wyd op verskillende sosialemediaplatforms versprei, asook op nuuskanale soos Maroela Media en Pretoria FM, en in die Forum Nuus en Forum Tydskrif,” sê Van der Walt.

“Ons wil plaaslike entrepreneurs aanmoedig en beloon. Ons sien hul harde werk raak en harde werk is noodsaaklik om in Suid-Afrika suksesvol te wees.”

Paul Vogel, operasionele bestuurder by Akademia, vertel dat dié instansie ’n trotse vennoot is van die Afrikaanse entrepreneurskompetisie, wat elke jaar nóg groter en beter raak.

“Dié kompetisie skep die ideale geleentheid vir entrepreneurs wat ’n publisiteitshupstoot nodig het en uitstekende advies van kundiges in die gebied wil ontvang.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Fanie ·

Dis fantasties! Stel voor dat julle laerskole ook betrek! Groete

Alana ·

Daar is reeds ‘n kompetisie vir laerskole – soek Besigheidsbytjies om meer te wete te kom of die alleroulikste wenners van 2019 te sien!

Stefanie Tredoux-Malian ·

Ek het nou die artikel drie keer deurgekyk, nêrens staan wat die wenner doen nie. Is die artikel swak geskryf of lees ek dit mis?

Sune van Heerden ·

Dagsê Stefanie

Marita Bezuidenhout is van die maatskappy “Magies vol Liefde” wat tuisgemaakte baba- en kleuterkos vervaardig.

Groetnis
Suné
nms Maroela Media

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.