Wenner van FAK Geskiedenisolimpiade aangewys

Ziné Mostert en haar ouma, Gerda Malan. Ziné is as die wenner van die heel eerste FAK Geskiedenisolimpiade aangewys. (Foto: Verskaf)

Ziné Mostert, ʼn 12-jarige gr. 6-leerder aan die Laerskool Jan Cilliers in Randburg, is Vrydag as die wenner van die heel eerste FAK Geskiedenisolimpiade vir laerskole aangewys.

Die olimpiade het op 17 Augustus aanlyn plaasgevind in die vorm van ʼn vraestel met 80 meervoudige keusevrae wat binne 80 minute voltooi moes word.

Die tema was Suid-Afrikaanse geskiedenis en die leerders het hulle vir die aanlyn vraestel voorberei deur die Patriot Troefkaarte-speletjie te speel en die idiomeboekie Klopdisselboom: Idiome oor waens en trekdiere te gebruik.

Leerders van 24 laerskole landwyd, asook van die Urenui School in Nieu-Seeland, 10 tuisskole en verskeie leerders verbonde aan Voortrekkerkommando’s, het vanjaar deelgeneem.

Euphorbia Christelike Onafhanklike Skool in Mookgopong (Nylstroom) is as die algehele wenskool aangewys.

“Ek het die olimpiade regtig baie geniet en ook baie geleer,” het Ziné vertel toe sy die nuus hoor dat sy gewen het. Haar geskiedenisonderwyseres, Karen Swanepoel, het hulle hele klas vir die olimpiade ingeskryf.

Ziné vertel sy het elke aand twee of meer idiome geleer om dit onder die knie te kry. Haar ma, Sarina, sê hulle het as gesin almal baie saamgeleer terwyl haar dogter vir die olimpiade voorberei het.

Ivan Louw het die tweede plek behaal. (Foto: Verskaf)

Ivan Louw (11), ʼn gr. 5-leerder aan die Laerskool Tygerpoort in Pretoria, het die tweede plek behaal. Hy het vanjaar deelgeneem danksy sy ma, Erna, ʼn Voortrekker-offisier. Hy is ook ʼn trotse Voortrekker van die Bronberg-kommando.

Ivan sê hy gaan sy prysgeld spaar om vlakvarke te jag, want “my ma hou baie van vlakvarkvleis”.

Elzani Vermaak van die CVO Skool Pretoria het die derde plek behaal.

“Die Geskiedenisolimpiade vir laerskole was die volgende stap om aan leerders die Afrikanergeskiedenis oor te dra, en ek is bly dat ons dit vanjaar reeds kon doen,” sê Chrisna Nel, projekorganiseerder van die FAK Geskiedenisolimpiade.

“Natuurlik is dit ʼn riem onder die hart om internasionale inskrywings te ontvang.”

Nikita (10) en François (8) van Driel het vroegoggend vanuit Nieu-Seeland agter hulle rekenaarskerms ingeskuif om die aanlyn toets aan te pak, waar die ander deelnemers eers daardie aand die vraestel geskryf het.

Hulle ma, Lydia, vertel die gesin bly al 15 jaar lank in Nieu-Seeland. Nikita en François is albei daar gebore. Die gesin woon noord van New Plymouth, naby Urenui, op die weskus van die Noord-eiland in die pragtige Taranaki-provinsie.

“Nikita het verlede jaar self besluit om aan die FAK Internasionale Afrikaans-Ekspo deel te neem, en sy en haar boetie het toe vanjaar weer deelgeneem. Toe het Ma maar besluit hulle kan gerus ook die Geskiedenisolimpiade aanpak. Ons is lief vir ons taal en kultuurerfenis, trots daarop en wil dit graag oordra aan ons kinders.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Elinette ·

Darem jammer ons geslag het nie sulke geleenthede gehad toe ons op skool was nie ….

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.