Wenverhaal in US Woordfeesbundel bekend

Die 22ste Toyota US Woordfees met die tema “Iets anders” is vanjaar van 1 tot 7 Oktober op Suid-Afrika se eerste opwip-TV-kanaal uitgesaai. Gehore kon in die gemak van hul huise na ʼn uitgesoekte kunsteprogram kyk.

Tydens die fees is Coen Basson as die algehele wenner van die sesde Woordfees-kortverhaalbundelkompetisie aangewys. Prysgeld van R30 000, geborg deur Du Toitskloof Wyne, is aan Basson se kortverhaal getiteld “Eenzaamheid” toegeken.

Volgens Suzette Kotzé-Myburgh, wat sedert 2016 die sameroeper van die beoordelaarspaneel is, was daar met die meeste vorige bundels ʼn dominante tema of temas wat na vore gekom het. Sy sê dit was egter nie vanjaar die geval nie.

“Daar is wel verhale met Covid-19 as onderwerp, maar dit oorheers glad nie; selfs nie te midde van ʼn wye verskeidenheid temas nie.”

Kotzé-Myburgh sê verder dat, soos met die vorige bundels, die gehalte van verhale hoog is en om net 24 kortverhale en ʼn uiteindelik wenner te kies, was ʼn moeilike taak.

Vir vanjaar se bundel, die sesde in die reeks, is 288 inskrywings ontvang. Die ander 23 skrywers wie se verhale ook in die bundel opgeneem is, ontvang elkeen R5 000 van Du Toitskloof Wyne en die US Woordfees. Valda Jansen en Marius Swart was saam met Kotzé-Myburgh die keurders vir die bundel.

“Goeie stories word gedeel om die tafel,” sê Ed Beukes, woordvoerder van Du Toitskloof Wyne.

“Dit is hierdie tafel wat vir Du Toitskloof nog altyd ʼn plek was waar mense bymekaar kan kom om ʼn glasie te kan klink op mekaar. Geluk aan al die talentvolle skrywers wie se kortverhale opgeneem is in die bundel en dankie ook aan elkeen wat hul storie ingeskryf het.”

Gerda Taljaard is die enigste skrywer wie se kortverhaal vir ʼn sesde agtereenvolgende jaar in die bundel opgeneem is. Ander skrywers wat in die bundel opgeneem word, is Brian Fredericks, Lynthia Julius, Wessel Pretorius en Deborah Steinmair.

Iets anders sal binnekort aanlyn bestel kan word. Belangstellendes wat graag die bundel wil aanskaf, kan hierdie vorm invul. Hulle sal dan in kennis gestel word sodra die 2021-kortverhaalbundel beskikbaar is.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.