Wêreldrekord boorgat in Noord-Kaap geboor

Torque Africa het onlangs die diepste lugdruk eksplorasie gat ter wêreld in die Noord-Kaap geboor.

Nardus Bezuidenhout, uitvoerende direkteur van Torque Africa, sê dié gat is 1 019 m diep en het slegs nege dae geneem om te voltooi. Die vorige rekordboorgat van sy soort is deur Australiërs geboor en was 868 m diep.

Dit was Bezuidenhout se tweede rekordgat nadat hy verlede jaar Afrika se diepste lugdruk gat in Beaufort-Wes geboor het.

Bezuidenhout vertel dat dit ʼn affêre was om die gat te boor omdat die naaste dorp sowat twee en ʼn half uur se grondpadry van die werkstasie af was. Hulle moes hul logistieke reëlings fyn beplan om genoegsame voorsiening te maak vir wat hulle als mag nodig het.

Hy en ʼn span van tien het sowat vier kilometer van die gat af, op ʼn boer se plaas uitgekamp om nader aan die werksarea te wees.

“Die gemiddelde dagtemperature was 40°C tot 43°C, so ons het later nagskofte begin werk omdat dit nie so warm in die aand is nie,” vertel hy.

ezuidenhout vertel dat hy en sy span vyf ton water gedrink het terwyl hulle besig was met dié rekordgat.

Bezuidenhout sê dit is vir hom ʼn groot pluimpie om die diepste boorgat van sy soort ter wêreld te kon boor.

“Dis ʼn groot ding vir my, ek is net 40 jaar oud en ek is die eerstegenerasie boorkontrakteur in my familie. Dit is nie algemeen om as ʼn junior opgeroep te word nie, gewoonlik gebeur dit net as jy spesiale vaardighede het of as jou pa kontakte het,” skerts hy.

Dié gat sal vir mynboudoeleindes gebruik word.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Kosie ·

En, waarvoor soek julle in die Noord-Kaap? Ek hoop nie dit is weer ‘n agterbakse poging om skalie-gas te kry nie…

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.