Wêreldwyd – AfriForum se tuiskomplek vir ons mense in die buiteland

(Foto: Unsplash)

Maart 2020, Suid-Afrika: Visums is onttrek, grense is gesluit en meer as 57 miljoen mense word onder volskaalse inperking geplaas. Die land is as ’t ware tot stilstand gedwing, en terwyl die wêreld asem ophou om te sien hoe die COVID-19-pandemie uitspeel, is talle Suid-Afrikaners in die buiteland vasgekeer.

In die agt maande waarin internasionale reise na en van Suid-Afrika opgeskort was, is Wêreldwyd, ’n inisiatief van AfriForum, oorval met honderde navrae van Suid-Afrikaners wat in nagenoeg 50 lande reg oor die wêreld gestrand geraak het.

Wêreldwyd is agt jaar gelede op die been gebring om aan Suid-Afrikaners wat in die buiteland woon, ’n platform te bied om steeds in voeling met hul geboorteland te bly. Volgens Sue-Ann de Wet, bestuurder van Diaspora, Skakeling en Identiteit by AfriForum en, meer spesifiek, aan die stuur van Wêreldwyd, het die skielike inperking en sluiting van grense vir honderde Suid-Afrikaners in die buiteland in ’n krisis ontaard.

“Wêreldwyd is oorval met honderde navrae van Suid-Afrikaners wat besig was om in die buiteland te toer, te kuier of te werk. Die sluiting van die land se grense het hierdie mense gestrand gelaat. In die ergste gevalle was hulle iewers met weinig toegang tot geriewe, kommunikasie, beskerming of lewensmiddele vasgekeer.”

Die verhale van mense – elk met unieke omstandighede – wat by Wêreldwyd om hulp aangeklop het, is legio, sê De Wet.

“Ons kan boeke skryf vol verhale van mense wat teruggekeer het uit die buiteland en daarna onder kwarantyn geplaas was; oor mense wat eenvoudig nie kon terugkeer nie; dié wat terug was en toe weer wou weg; mense wat familie aan die dood afgestaan het en begrafnisse in Suid-Afrika wou bywoon. Daar is soveel stories van mense wat ongekende ontberinge gehad het, soos die mense wat op skepe gestrand was, en telkens was Wêreldwyd daar met ’n antwoord of om Suid-Afrikaners by te staan in dié omstandighede.”

Terwyl Suid-Afrikaners gesukkel het om vanuit die buiteland terug te keer, het drakoniese kwarantynvereistes op plaaslike bodem boonop verdere uitdagings geskep. Ook op dié front het Wêreldwyd in samewerking met AfriForum en die regsfirma Hurter Spies Ing. ingespring om na die belange van Suid-Afrikaners om te sien.

“Danksy volgehoue druk deur litigasie wat Hurter Spies Ing. namens AfriForum gevoer het, het die staat uiteindelik sy kwarantynvereistes vir terugkerende Suid-Afrikaners uit die buiteland gewysig om verpligte kwarantyn vir terugkerendes uit te faseer,” verduidelik De Wet.

COVID-19 het ’n definitiewe rol gespeel in Suid-Afrikaners wat na Suid-Afrika teruggekeer het. Talle Suid-Afrikaners het boonop hul werk as gevolg van die pandemie en inperking verloor en sonder die nodige hulpbronne en ondersteuningsnetwerk, was die nagevolge daarvan noodwendig rampspoedig. De Wet hou egter vol dat Suid-Afrika nie gevrywaar is van ’n tweede vlaag van die virus nie en dat voorbereiding juis nóú noodsaaklik is.

“Hierdie pandemie het almal onkant betrap. Ons moet egter in gedagte hou dat so iets weer in ons leeftyd kan gebeur en dan moet ons voorbereid wees, en juis om dié rede sal Wêreldwyd poog om ons mense op hoogte te hou van die jongste regulasies, wetgewing, inligting en wenke.”

Wêreldwyd in ’n neutedop: Hoe jý daarby kan baat

Wêreldwyd bied reeds die afgelope agt jaar ’n aanlyn tuiste vir Suid-Afrikaners wat hulself in die buiteland gevestig het.

“Ons streef voortdurend daarna om Suid-Afrikaners op hoogte te hou van sake wat hulle as Suid-Afrikaanse ekspats en reisigers raak. Ons voorsien hulle van akkurate inligting en betroubare advies – of dit nou advies is oor ’n volgende reis of inligting aan persone wat emigrasie oorweeg, Wêreldwyd bied ’n eenstopdiens,” sê De Wet.

“Migrasie is ’n persoonlike keuse waarvoor elkeen self verantwoordelikheid moet aanvaar. Ons wil mense toerus en verseker dat die keuse om Suid-Afrika te verlaat, of hierheen terug te keer, ’n ingeligte besluit is wat op betroubare inligting berus. Ons sien daarna uit om dié tradisie voort te sit en wil alle Suid-Afrikaanse burgers na die beste van ons vermoë dien – ongeag waar jy jouself bevind.”

Word deel van Wêreldwyd se aanlyn gemeenskap en die Wêreldwyd-netwerk. Kom kuier saam met ander Suid-Afrikaanse ekspats van oor die wêreld heen en bly op hoogte van nuusgebeure in Suid-Afrika wat jou ook raak. Maak kontak en deel jou avonture!

Hierdie plasing is deur ʼn onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Deel van: Goeie nuus

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

2 Kommentare

jongste oudste gewildste
Stefaan

Ja ‘n tweede en derde vlaag word beplan .