Wêreldwye applous vir dokumentêr oor renosterstropery

bedreigde-spesies-03

Bonné het Asië besoek om self uit te vind waarvoor die lande se mense renosterhorings gebruik. Foto: Verskaf.

STROOP – Journey into the Rhino Horn War, die plaaslik vervaardigde dokumentêre rolprent oor renosterstropery, is steeds besig om wêreldwyd opslae te maak en pas gekeur om by nóg vier vooraanstaande Amerikaanse filmfeeste vertoon te word.

Maroela Media het berig die rolprent het in Augustus die 2018 Green Tenacity-toekenning van die beoordelaars van die agste jaarlikse San Francisco-filmfees ontvang nog voor sy wêreldpremière by die fees van 6 tot 14 September plaasgevind het.

Die dokumentêr sal nou in Oktober en November by die Santa Cruz-, Glendale-, San Diego- en St. Louis- internasionale filmfeeste vertoon word.

“Ons is verheug oor die welkome ontvangs wat ons rolprent tot dusver internasionaal ontvang het en die aantal uitnodigings wat aan ons gebied word om die rolprent by verskeie feeste te vertoon.

“Dit is belangrik dat soveel as moontlik mense hierdie rolprent sien om bewusmaking te skep oor die benarde situasie van renosterstropery en die gevaarlik lae aantal renosters wat nog vry in die natuur rondloop,” het Bonné de Bod, die vervaardiger en aanbieder van STROOP, gesê.

STROOP – Journey into the Rhino Horn War vertel die skokkende verhaal van die ongekende stroop van renosters en die handel in die dier se gesogte horings.

De Bod en regisseur Susan Scott het hul huise verkoop, werk verlaat en by hul ma’s ingetrek om die rolprent wat ʼn passieprojek vir hulle albei is, deur te voer en op film vas te lê – alles om hierdie ikoniese dier van die Afrika-vasteland van ongetwyfelde uitwissing te red.

stroop-01

STROOP – Journey into the Rhino Horn War word in Februarie die eerste keer in Suid-Afrika vertoon. Foto: Verskaf.

Hulle het aanvanklik ses maande vir hierdie projek opsy gesit, maar dit was gou duidelik dat dit ʼn gevaarlike ekspedisie is wat hierdie passievolle tweemanskap dikwels in gevaar sou bring. In ʼn eksklusiewe eerste het De Bod en Scott die spesiale veldwagterseenhede in die Krugerwildtuin en die tuiste van die witrenoster, die Hluhluwe-iMfolozi Park, verfilm.

Hulle het ook in die gevaarlike agterkamers van wildsmokkelaars en -handelaars in China en Viëtnam gaan verfilm. Die uiteinde is ʼn kragtige, op die man af dokumentêre rolprent wat kykers diep gaan raak soos reeds te siene is aan die uitnodigings na Amerikaanse filmfeeste.

Scott en De Bod het die rolprent onafhanklik met die hulp van skarebefondsing vervaardig – ʼn rolprent wat wys hoekom hierdie geteikende spesie verdien om met waardigheid te lewe, vry van die uitbuiting deur onwettige handelaars, stropers, geldgieriges en korrupte regerings.

STROOP – Journey into the Rhino Horn War se Suid-Afrikaanse première is in Februarie 2019 ná sy vertoning by die verskeie internasionale filmfeeste verby is.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Paul ·

Wonderlik, wonderlik, wonderlik. Dis net uitsonderlike mense met ‘n onuitblusbare passie vir bewaring en die natuurlewe wat sulke projekte aanpak, ‘n voorbeeld is en ‘n verskil aan die wêreld maak, ek hoop julle raak almal se ingestelheid, dat die nageslag hierdie pragtige diere in lewende lywe kan ervaar. Laat daar ‘n ontpoffing van aktiviste oor die wêreld heen wees.

Johnnie ·

Hoop hulle bring dit vinnig na ons kant toe dat ons ook daarin kan deel. Mense soos die moet in alles ondersteun word, want dit wat hulle doen is van uitstaande gehalte werk en verdien die hoogste los van al die diere liefhebbers. JULLE IS CHAMPS!!!!!!!!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.