Wêreldwye erkenning vir innoveerder wat haaie red

SharkSafe Barrier is omgewingsvriendelike tegnologie wat magnetiese en visuele stimuli kombineer om haaispesies af te skrik. (Foto: SharkSafe/Facebook)

Die SharkSafe Barrier wat deur ʼn Innovus-afwentelmaatskappy van die Universiteit Stellenbosch ontwerp is, word deur die Wêreld Ekonomiese Forum (WEF) se digitale platform, UpLink, gereken as een van sy beste oseaan-innoveerders.

SharkSafe Barrier is omgewingsvriendelike tegnologie wat magnetiese en visuele stimuli kombineer om haaispesies wat as gevaarlik vir mense beskou word, af te skrik.

Dit het verlede jaar reeds die gesogte NSTF South32’s Lewis Foundation Green Economy-prys gewen vir uitstekend bydraes tot wetenskap, ingenieurswese, tegnologie en innovasie in Suid-Afrika. Die uitvinders van die tegnologie, wat ʼn eerste van sy soort is, is Michael Rutzen, dr. Sara Andreotti, dr. Craig O’Connell en prof. Conrad Matthee. Andreotti en Matthee is verbonde aan US se Departement Plant- en Dierkunde.

Volgens Matthee is die span trots daarop dat SharkSafe gekies is as een van die 11 innovasies wat potensiaal het om van die belangrikste uitdagings tans in die mariene omgewing die hoof te bied.

“In die volgende paar maande sal UpLink SharkSafe bystaan om die impak van die tegnologie te verhoog deur mentorskap, werksessies vir kapasiteitsbou, blootstelling en sigbaarheid, asook bekendstellings aan potensiële beleggers, waar van toepassing. SharkSafe het nou formeel aangesluit by ʼn groeiende gemeenskap van UpLink-innoveerders wat voordeel trek uit die platform,” het Matthee gesê.

(Foto: Verskaf)

UpLink is die digitale platform van die WEF wat innovasie en vooruitgang dryf in die rigting van volhoubare ontwikkelingsdoelstellings. Dié platform se doel is juis om die volgende generasie missie-gedrewe entrepreneurs en jong innoveerders in staat te stel om kragte saam te snoer en ʼn beduidende impak in hulle veld te maak. Dit identifiseer ondernemings soos SharkSafe en lig die ondernemings uit as een met groot potensiaal om die Verenigde Nasies (VN) se doelwitte vir volhoubare ontwikkeling te versnel.

Die WEF glo voorts die gesondheid van oseane is belangrik om die mens se gesondheid in die toekoms te verseker.

“Dit is van kardinale belang om belowende oseaan-innovasies, waar dit ook al mag wees, te vind en te verhoog, om hulle te verbind en om hulle te help gedy, om te verseker dat ons een van ons waardevolste bates van die planeet beskerm. Die WEF is van mening dat hierdie innovasies die potensiaal het om aandag te gee aan enkele van die belangrikste geleenthede in die oseaanruimte vandag,” het die organisasie in ʼn verklaring gesê.

Anita Nel, hoofdirekteur vir Innovus, die US se kommersialiseringsafdeling wat die universiteit se kantoor vir tegnologie-oordrag huisves, sê sedert hulle betrokke geraak het by die kommersialisering van SharkSafe, toon die maatskappy ongelooflike groei. “Die Technology Innovation Agency (TIA) het in die verlede in hulle belê. Dit is ʼn groot pluimpie en ʼn bewys dat SharkSafe ʼn innoverende onderneming is wat goed bestuur word, en so die aandag van die wêreld op hulle gevestig het.”

Hierdie erkenning is verleen tydens die tweede Ocean Solutions Sprint en dit word deur die internasionale unie vir natuurbewaring (IUCN); die natuurbewaringsgebied (TNC); die internasionale koraalrif-inisiatief (ICRI) en die Seychelles- bewarings- en klimaat-aanpassingstrust (SeyCCAT) ondersteun.

(Foto: Verskaf)

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.