Wêreldwye kunsprojek bring gemeenskappe byeen

Tot 50 mense skilder gewoonlik aan een kunswerk, waarna ʼn kunsontleder die kunswerk ontleed. (Foto: Facebook)

Paint the World is ʼn samewerkende kunsbeweging met die doel om gemeenskappe wêreldwyd byeen te bring deur kreatiwiteit aan te moedig.

Hoewel die koronavirus (Covid-19-pandemie) die wêreld bykans tot stilstand gebring het, kan mense oor die wêreld steeds deel wees van Paint the World se nuwe virtuele samewerkingsbeweging.

Dié kunsbeweging behels normaalweg dat skoon skilderdoeke oor die wêreld op vooraf-geïdentifiseerde plekke geplaas word. Tot 50 mense skilder gewoonlik aan een kunswerk, waarna ʼn kunsontleder die kunswerk ontleed. Die kunswerk word dan op veiling-grondslag verkoop tydens ʼn geleentheid wat deur die gemeenskap aangebied word.

Tot 100 mense per groep kan deelneem aan die Paint the World: Covid-19 Edition-projek. Die tema vir die projek is “A beautiful lesson learnt from the Covid-19 pandemic”. Die kunstenaar Bernice Lemmer is die projekleier in Suid-Afrika. Lande soos Nederland, die VSA, Noorweë, Swede en Tsjeggië neem ook deel aan die projek.

“Die doel is om uiteindelik foto’s van ʼn klomp groepe te ontvang wat ek dan sal gebruik om ʼn collage van die landsvlag mee te vorm,” verduidelik Lemmer.

Tot 50 mense skilder gewoonlik aan een kunswerk, waarna ʼn kunsontleder die kunswerk ontleed. (Foto: Facebook)

“Die projek is daarop gemik om mense weer bewus te maak van die belangrikheid van kreatief wees en om mense te help om kreatiwiteit in hulself te herontdek. Ons werk graag met groot groepe mense oor die wêreld om gesamentlike kreatiwiteit aan te moedig. Deur so saam te skep, inspireer ons mekaar, help mekaar oplig, besef ons dat ons nie alleen is nie en vind sodoende genesing,” sê sy.

“Ons kan nou wel nie fisiek bymekaarkom om te skep soos voorheen nie, maar tegnologie help ons om dit steeds moontlik te maak. Jy hoef glad nie ʼn kunstenaar te wees nie, en ons nooi absoluut enigiemand van enige ouderdom en agtergrond om deel te neem,” voeg Lemmer by.

Volgens Lemmer is kreatiwiteit iets waarmee almal gebore word en wat beskikbaar is vir almal. “Kreatiwiteit en die kunste help om van die linkerbrein, wat alles wil verklaar, ontleed en liasseer, te skuif na die regterbrein, wat die vermoë het om buite die boks te dink en dinge vanuit ander perspektiewe te bekyk.

“Dit help om die opgehoopte gevoelens wat dikwels soveel spanning en stres in die lyf veroorsaak, vry te laat op ʼn positiewe manier, wat hierdie opgehoopte gevoelens verplaas na iets tasbaars. So kan dit ook ʼn bron van plesier skep, wanneer mense kan sien waartoe hulle in staat is om te skep. En hierdie proses lei dan ook tot probleemoplossing en denkverskuiwing wat dalk vashaak in die negatiewe, maar tog nuwe opsies ontgin van hoe om dinge anders te benader.

“Kreatiwiteit en kuns is beslis genesend. En dit kan enigiets skeppends behels: van tuinmaak, kosmaak, tafeldek, tuisskool en ouerskap tot sing in die stort, dans op die maat van jou gunstelingmusiek terwyl jy huis skoonmaak, tot geskrewe teks of gedigte van jou ervaringe, verf en teken. Daar is soveel maniere,” sê Lemmer.

Vir volledige aanwysings en inligting oor die Paint the World: Covid-19 Edition-projek, bel Bernice Lemmer by 072 632 5656 of stuur ʼn e-pos na [email protected]. Besoek ook die Facebook-blad vir meer inligting.

Inskrywings het op 21 April geopen en sluit op 21 Junie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.