Werklose van Victoria-Wes benoem as beste akteur

Christopher op die fliekstel. (Foto: Carl Pfeil)

Deur Elize Perrin

Vir Christopher Hadebe, ʼn inwoner van Victoria-Wes en werklose pa van drie, het die uitdrukking oor verborge talent nuwe betekenis gekry toe hy meer as vyf jaar gelede ʼn rol in ʼn fliek aangebied is.

Christopher is een van vyf akteurs wat tydens die afgelope Kanadese filmfees benoem is vir die prys as beste akteur in sy rol in die plaaslike rolprent getiteld ixesha elichithwe neekati aliyo ncitha xesha – Time with Cats is Never Wasted. Die ander akteurs was van Rusland, Turkye, Armenië en België.

ʼn Gewone dag as begin van ʼn avontuur

“Ek was besig om my gras te sny toe ʼn plaaslike inwoner en ʼn onbekende man my genader het,” vertel Christopher. “Hulle wou weet of ek sou belangstel om in ʼn fliek te speel. Ek het ingestem.”

Die onbekende man was Clive Will, ʼn bekende in reklamekringe wat emosioneel op ʼn laagtepunt was en na iets gesoek het om van sy frustrasies ontslae te raak.

“Ek het na baie ou rolprente gekyk en begin dink oor hoe ek ʼn besonderse fliek op die goedkoopste manier kan maak,” sê hy. “Toe ek besluit het wat ek wou sê, moes ek ʼn interessante manier vind om dit te sê.”

Die filmspan. (Foto: Clive Will)

Die naakte skoonheid van die Karoo was Clive se keuse om gestalte aan sy storie te verleen. Ná besoeke aan verskeie Karoodorpe het ʼn plaaslike inwoner se entoesiasme hom oorreed om sy rolprent op Victoria-Wes te skiet.

Clive het van huis tot huis gegaan om potensiële akteurs te werf. Hy het vir Christopher en verskeie ander kandidate genooi om aan ʼn fotosessie deel te neem. Daar is nie dadelik op ʼn hoofkarakter besluit nie. Clive erken dat Christopher aanvanklik nie voldoen het aan die hoofkarakter wat hy in gedagte gehad het nie. Eersgenoemde het met ander professionele mense in die rolprentbedryf gesels en foto’s van Christopher aan hulle gewys. Hy is gewaarsku dat dit ʼn waagstuk sou wees om Christopher in die hoofrol te gebruik. Tog het hy ʼn goeie gevoel oor Christopher gehad.

“Ons sou ʼn paar skote skiet en gesels oor wat in tonele moes gebeur. Christopher het telkens sy beste gegee,” onthou Clive. “Hy het my vertrou. Ek moes hom ook vertrou.”

“Ek het dreadlocks gehad. Clive het gevra of ek bereid sou wees om dit af te skeer. Hy het gesê ek moet my natuurlike hare wys,” vertel Christopher. “Ek het ingestem.”

ʼn Lang proses

Clive Will. (Foto: Verskaf)

“Dit was harde werk en vreeslik warm,” vertel Christopher, wat geen dramaopleiding het nie, oor die verfilmingsproses. “Clive het my stuk vir stuk opdragte gegee. Hy is baie geduldig. Ek het nooit gedink ek sal so iets kan doen nie. Dit was baie lekker.”

Afgesien van een persoon was al die akteurs en die meeste van die filmspan inwoners van Victoria-Wes.

Die rolprent, Time with Cats is Never Wasted, het ongeveer vyf jaar geneem om te voltooi.

“Benewens die klank moes ek meestal alles self doen,” sê Clive. “Aan die einde het ek kollegas gehad wat gehelp het. Dit het beteken dat ek moes aanpas by hul program. Mense wat nie hul beloftes nagekom het nie en die pandemie het ook ʼn rol gespeel.”

Vir Clive was dit belangrik dat alles reg gedoen moet word.

“Wanneer jy die speelknoppie druk, moet die werk vir homself praat,” sê hy.

Toekennings en benoemings

Die rolprent, wat in swart en wit verfilm is en handel oor ʼn man se stryd met die wêreld rondom hom, het reeds 23 pryse en benoemings ontvang.

Christopher beskou sy benoeming as beste akteur as ʼn groot eer.

Christopher voor sy huis op Victoria-Wes. (Foto: Elize Perrin)

“Ek is trots om my land te verteenwoordig,” sê hy. “Toe ek hoor ek is benoem, het ek gehuil. Ek het gevoel om in die lug te spring en te skree.”

Clive sluit hierby aan.

“Dit is ʼn besondere prestasie. Ek is regtig bly vir sy onthalwe. Dit bly ongelooflik om te dink dat mense in Kanada ʼn jong man van Victoria-Wes kan sien toneelspeel.”

Hoewel Christopher nie op 27 Maart as die beste akteur aangewys is nie, bly dit steeds ʼn besondere prestasie vir hom, Clive en die Suid-Afrikaanse rolprentbedryf.

“Ek hoop dat daar steeds van die rolprent kennis geneem sal word,” sê Clive. “Dit is dalk nie cinema-materiaal vir die Suid-Afrikaanse mark nie, maar ek hoop om dit wel op een van die platforms in Suid-Afrika vertoon te kry, dalk selfs op televisie. Ongelukkig is ons baie ingestel op die Hollywoodfaktor.”

Clive is positief oor die rolprentbedryf in die land.

“Wat filmmaak in Suid-Afrika betref, sien ek al hoe meer goeie dinge gebeur,” sê hy.

Christopher beskou sy tydelike ervaring as akteur as ʼn groeiproses.

“Om swaar te kry is nie die einde van die wêreld nie,” meen hy. “ʼn Mens moet altyd probeer om die beste uit jouself te kry. Vervul jou drome en moet nooit moed opgee nie.”

Hoewel Christopher weer die kans sal aangryp om in ʼn rolprent te speel, hoop hy steeds om weer eendag sy brood en botter op die groot masjiene van ʼn konstruksiemaatskappy te kan verdien.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Truth2bfree ·

Dis nou ‘n lekker positiewe artikel. Well done Christopher!!!

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.