Wes-Kaap het die land se voorste Afrikaans-spellers

'n Oomblik se asemskep. Foto: Verskaf.

‘n Oomblik se asemskep. Foto: Verskaf.

Een ding is seker: Wes-Kapenaars kán spel. Uit die 30 top-spellers wat Saterdag in die nasionale ronde van die Sanlam WOW Spelfees in Stellenbosch aangewys is, kom 14 uit die Wes-Kaap. Drie van hulle is gouemedaljewenners.

Die Noord-Kaap, wat die tweede beste gevaar het, het drie goue medaljes, een silwer en twee brons gewen.

“Die deelnemers is wonderlik,” het Fiona van Kerwel, projekbestuurder van die WOW-projek, gesê. “In gr. 4 is die wenner eers in die 71ste ronde aangewys, en in gr. 7 het dit 68 rondes geneem.” Dit is die kompetisie se tiende jaar (en vyfde landswyd) en, vir die eerste keer, was daar ook uitdunne vir gr. 6- en 9-leerders wat Engels as eerste addisionele taal neem. Dié been van die kompetisie is as proeflopie net in die groter Kaapstad-omgewing aangebied, en 30 leerders per graad het ook hul staal kom wys.

Sowat 300 leerders van ongeveer 100 skole het Saterdag byeengekom om hul spelvermoëns te meet. Dit volg op ’n reeks uitdunne wat gedurende die jaar regoor die land aangebied is.

“Die personeel is ongelooflik passievol en sit baie ure en kilometers in om die projek die sukses te maak wat dit is,” het Saartjie Botha, direkteur van die US Woordfees (wat die WOW-projek insluit), tydens die prysuitdeling gesê. “Meer as 10 000 leerders het van kring-, distrik- en provinsiale vlak deelgeneem om ons vandag tot hier te bring.”

Die leerders se uitsonderlike vermoë om reg te spel het die dag se program met sowat ’n uur langer laat loop omdat verskeie grade net nie tot ’n wenner kon kom nie. Die drie finaliste per graad uit elk van die nege provinsies het in rondes gespel. Sodra ’n fout begaan is, het die deelnemer uitgeval.

Frank Louw, van die hoofborg, Sanlam, se afdeling vir korporatiewe sosiale betrokkenheid, het gesê dié maatskappy steun die projek omdat dit nóg ’n manier is om welvaartmeesters te skep. “Met ons betrokkenheid help ons om ʼn werklike en positiewe verskil te maak tot ʼn wêreld waar elke individu sy persoonlike beste bereik en ʼn lewe met eindelose geleenthede kan lei.”

Wenners het elkeen ’n kontantprys en medalje van Sanlam ontvang, asook ’n boekprys van NB Uitgewers. Die eerstepryswenners het ook elkeen ’n slimfoon gekry. Ander borge sluit in die Millennium Trust, kykNET, die Dagbreek Trust, Oranjezicht Leeskring en Tribeage Educational Apps.

WOW, ’n akroniem vir Woorde Open Wêrelde, het ten doel om ’n liefde vir lees en woorde by leerders te kweek. Die projek help ook jaarliks behoeftige leerders deur die beskikbaar stel van aanvullende beurse.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Ouma - Weskaap ·

Baie dankie Maroela Media vir plasing van die berig! Hartlik geluk aan my kleindogter wat 1ste plek in Graad 4 behaal het . Het die kompetisie deur al die rondes gevolg. Ons is almal so trots op jou!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.