Wes-Kaapse melkboere reik uit met 1%-projek

V.l.n.r. is dr. Ivan Meyer, Estelle Veldman, Connie Fagan, Philip Blanckenberg en dr. Mogale Sebopetsa met die bekendstelling van die MPO se 1% #payingmilkforward-projek. (Foto: Verskaf.)

Die Melkprodusente-organisasie (MPO) het onlangs die projek 1% #payingmilkforward, ook bekend as Project One, van stapel gestuur met die doel om die nasie te help voed en om die vlakke van wanvoeding te verlig, veral onder die kwesbaarste mense in ons gemeenskappe.

Die Wes-Kaapse Departement van Landbou het op ’n versoek om bydraes gereageer deur ’n donasie van melk ter waarde van R100 000 te maak, wat uit R50 000 elk van hul navorsingsmelkerye by Elsenburg in Stellenbosch en Outeniekwa in George bestaan.

By die oorhandigingseremonie het dr. Mogale Sebopetsa, die nuut‑aangestelde hoof van die Wes-Kaapse departement van landbou, verwys na die moeilike, maar interessante tye wat Suid-Afrika beleef. Sebopetsa meen die Covid-19-pandemie skep ruimte om deernis en sorg teenoor mense te wys, veral diegene wat die kwesbaarste is. Die melkdonasie maak deel uit van die departement se verbintenis tot ʼn hulpprogram, veral in die Wynlandgebied.

“Ons het die gemeenskapsorganisasie Shiloh gekies om hierdie donasie te ontvang, want hulle het ’n groot voetspoor in die Kaapse Wynlande, wat ’n groeiende Covid-19-brandpunt is – die tweede grootste ná Kaapstad,” het Sebopetsa gesê. Shiloh sal melk en verwerkte voedsel soos jogurt versprei onder kwesbare gemeenskappe in die Wes-Kaap, maar veral in brandpunte soos die Wynlande. Sebopetsa het beklemtoon hoe belangrik die departement se donasie is toe hy afsluit met die woorde: “Ons wil die verspreiding van Covid-19 stuit.”

Dr. Ivan Meyer, minister van landbou in die Wes-Kaap, het uitgewei oor die bestuur van die pandemie in die provinsie. Dit behels dat die verspreiding van die virus vertraag word, asook humanitêre noodleniging en steun, wat ’n positiewe uitwerking sal hê op die proses van ekonomiese herstel. Hy het ook aangekondig dat hy en Sebopetsa deur die kabinet aangewys is om leiding met ʼn strategie vir die Covid-19-brandpunte in die Wynland-gebied.

“Daar is een miljoen mense in die Wynlande, ’n baie belangrike streek in die Wes-Kaap,” sê Meyer. Hy het die MPO vir hul bydrae bedank en genoem dat deernis, waardigheid en menslikheid die belangrikste is in hierdie uitdagende tyd.

Philip Blanckenberg, MPO-verteenwoordiger in die Wes-Kaap, het bevestig dat dit hul doelwit is om ’n bydrae te maak aan diegene wat ’n bestaanstryd voer en min of geen kos het om te eet nie.

“Die melkbedryf is in talle opsigte nie negatief geraak deur die pandemie nie en is dus in ’n voordelige posisie om te kan help. Melkprodusente is ook dankbaar dat die voedingswaarde van ons produk mense se immuunstelsels versterk en gesondheid bevorder,” het Blanckenberg gesê. Die idee om 1% van produsente se melkproduksie te skenk het by die MPO ontstaan weens die grootskaalse armoede en onvoldoende toegang tot voedsel as gevolg van die pandemie.

Voor die 1%‑projek het produsente reeds melk aan verskeie projekte geskenk, en hulle vergroot nou hul bydrae weens die pandemie. Blanckenberg het die produsente en die Wes-Kaapse departement van landbou bedank vir hul ruimhartige skenkings. Hy het ook almal by die departement bedank vir hul onderskeie rolle in hierdie projek, asook die kabinet vir die goeie vordering wat hulle maak om die Covid-19-pandemie te stuit.

Blanckenberg het ook erkenning gegee aan die rol van voedselverwerkers in die voedselketting, en aan hul betrokkenheid by die projek. “Ons bedank graag verwerkers soos Lactalis en Nestlé vir die verwerking van melkdonasies.” Lactalis sal die melk van die departement van landbou se Elsenburg-melkery verwerk, en Nestlé sal dié van die Outeniqua-melkery verwerk.

Connie Fagan, bestuurder van regsrisiko en voldoening by Lactalis SA (voorheen bekend as Parmalat SA), sê Lactalis steun die departement se poging, en dat daar saamgewerk moet word om gemeenskappe te ondersteun. Lactalis sal die melkmassa verwerk tot verpakte melk en jogurt, en sal van hul eie produkte byvoeg voordat dit aan Shiloh gelewer word vir verspreiding aan behoeftiges.

Estelle Veldman van Shiloh, ’n projekgroep waarvan Shiloh Food en Shiloh Relief die twee grootste projekte uitmaak, het die skenking namens die groep ontvang. Shiloh Food is reeds sestien jaar lank aktief en hul sukses word toegeskryf aan die sterk verhoudings wat hulle opgebou het met boere, slagters en ander entiteite wat hulle in staat stel om slegs die beste gehalte voedsel te voorsien aan die ontvangers; dit sluit skole, kerke, sopkombuise, kinderhuise en ouetehuise in. Dit illustreer hul doelwit van opheffing deur voeding te verskaf. Hul uitgangspunt is om net maaltye te produseer wat hulle self sou eet.

Shiloh se doelwit is om ’n volhoubare en menswaardige verskil te maak in die lewens van diegene wat die kwesbaarste is, en om hul organisasie so te bestuur dat die gemeenskap die maksimum voordeel trek uit skenkerbydraes.

“Ons voorsien 33 instansies van tussen 2 000 en 3 000 warm, voedsame maaltye per dag, en is ideaal geposisioneer tussen die ontvangers (wat die hart van ons projekte is) en die skenkers (wat in hierdie mense se behoeftes voorsien),” sê Veldman.

Shiloh Relief voorsien maandeliks kospakkies aan gesinne met ’n lae of geen inkomste, rampslagoffers, moeders met pasgebore babas, pensioenarisse en terminaal siekes. Tans is meer as die helfte van die bevolking nie in staat om in hul eie behoeftes te voorsien nie, en Covid-19 het daardie nood vergroot.

“Dankie dat u ons hande sterk en ons help om op menswaardige wyse ’n diens te lewer aan diegene wat dit nodig het,” het Veldman gesê.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.