Tonne kos vir rondloperdiere

(Foto: Verskaf)

ʼn Internetverskaffer, begrafnisondernemer en plaaslike radiostasie het hande gevat en ʼn projek van stapel gestuur wat byna agt ton kos vir verwaarloosde diere in die Overberg-omgewing in die Wes-Kaap ingesamel het.

Pieter Visser, algemene bestuurder van CFM Wireless, wat die bal aan die rol vir dié projek gekry het, het gesê hulle grootste vrees was aanvanklik dat hulle nie naastenby genoeg kos bymekaar sou maak nie.

“Ek het egter stomgeslaan gestaan en toekyk hoe die projek in ʼn kwessie van ses weke ondersteun is. Mense het in Gansbaai tougestaan in ʼn deurrybaan om troeteldierkos af te lewer. In Caledon het een maatskappy ʼn skenking van 340 kg hondekos gemaak en op ander plekke was dit weer hartroerend om te sien hoe iemand met ʼn sakkie kos aangestap kom.

“Elke bietjie het gehelp om by daardie totaal van 7 500 kg skenkings te kom.”

Volgens Visser, wat self ʼn eienaar van ʼn paar optelkatjies is, was dit ʼn gemeenskapsprojek in die ware sin van die woord. Dié drie maatskappye het lekker saamgewerk om die kos bymekaar te kry.

Omroepers by Caledon FM het van einde Januarie tot die tweede week in Maart gehelp met regstreekse radiobemarking en talle buiteuitsendings in die streek se dorpe, wat hoofsaaklik deur Debbie Watson, Ursulla le Grange en Anne Marais van die gemeenskapradiostasie se Caledon-, Hermanus- en Bredasdorp-ateljee behartig is.

Die personeel van CFM Wireless was ook daagliks by die uitsendings betrokke en het seker gemaak die tonne kos word oor etlike kilometers aangery na ʼn sentrale punt, terwyl die span by Anré Begrafnisdienste hulle agt kantore beskikbaar gestel het as versamelingspunte vir nog skenkings. Die einste personeel het ook van deur tot deur gegaan by sakeondernemings voor die buiteuitsendings om hulle uit te daag vir nóg skenkings vir die projek.

Visser vertel die projek het aanvanklik in Hermanus afgeskop waar 410 kg kos ingesamel is. Kleinmond het 1,5 ton kos bymekaargemaak en die inwoners van Bredasdorp het 803 kg kos geskenk. Nog 2,2 ton is uit Caledon ingesamel en Gansbaai, wat glo die laaste en lekkerste draai was, het ʼn allemintige 2,6 ton dierekos geskenk.

Volgens Watson het die luisteraars van Caledon FM dié projek terdeë geniet.

“Die hele Overberg luister na ons, dis meer as 100 000 luisteraars. Die mense het met motorfietse van Caledon af Hermanus toe gery om die geleentheid te kon bywoon.”

Visser het bygevoeg dat die eerste skenkings reeds aan Kleinmond Animal Welfare Society (Kaws) uitgedeel is en die res van die dierekos sal stelselmatig aan verskeie dierebeskermingsverenigings oor die hele streek geskenk word.

“Dit is ook nie ons laaste gemeenskapsprojek nie. Ons het verlede jaar 380 sakke vullis in die Caledon-omgewing opgetel, waarvan 350 sakke herwinbaar was. Ons spanne sal beslis sommer gou weer iets soortgelyks aanpak, want ʼn mens is deel van jou gemeenskap en jy wil jou dorp netjies hê en die mense en diere in jou omgewing help,” het hy afgesluit.

  • Die berig is gewysig sedert dit aanvanklik gepubliseer is – RED

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

Perdeby ·

Baie dankie Caledon trots om te kan se ek is ‘n oud Overberger en nog steeds in murg en been, en my broer is nog steeds daar.

Linda ·

Sjoe Hermanus kry julle nie skaam nie? Daar woon seker van die land se rykste mense per vierkante kilometer en julle kon maar ‘n skamele 410kg kos bydrae. Dis 40 x 10kg sakke. Skande! Kleinmond en Gansbaai en ander dorpe waar die ekonomie regtig swaar trek het stof in julle oë geskop. Ek sal 2 keer dink voor ek weer R10 in julle dorp uitgee.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.