WH Coetzer-skildery gerestoureer

ʼn Oorspronklike WH Coetzer-skildery, wat deel is van die Erfenisstigting se kunsversameling, gaan nou deur ʼn spesialiskunskonservator herstel word. (Foto: Verskaf)

ʼn Oorspronklike WH Coetzer-skildery, wat deel is van die Erfenisstigting se kunsversameling, gaan nou deur ʼn spesialiskunskonservator herstel word.

Sandra Markgraaf, wat sedert 1990 as kunskonservator by die Universiteit van Pretoria en privaat werk, gaan Coetzer se Blydevooruitzicht-skildery wat ook Trek oor die Drakensberge genoem word, herstel. Markgraaf, wat onder meer ook vir 13 jaar kunskurator by die Nasionale Kultuurhistoriese Museum was, het ʼn meestersgraad in museumwetenskap en ʼn diploma in kunskonservasie.

Volgens Petra Luus, kurator van die Voortrekkermonument en Erfenisstigting, is dié skildery waarskynlik nadat die ou Transvaalse Provinsiale Administrasie (TPA)‑gebou in die Pretoriase middestad in 1994 gesluit is op ʼn bruikleenooreenkoms aan die Voortrekkermonument geskenk. Met die ontruiming van groot gedeeltes van dié gebou, toe die provinsiale regering na Johannesburg toe geskuif het, is die vertrekke waarin die skilderye gehuisves was, toegesluit en totaal ontoeganklik vir enige lede van die publiek gemaak.

Die Blyevooruitzicht-skildery het nou broodnodige restourasie en herstelwerk nodig.

Markgraaf, wat nou saam met Europese en Amerikaanse kunskonservators werk, sal eersdaags die verfpigment wat op plekke die kleur van die skildery verander het, herstel.

Sy sê dit is ʼn tydsame proses. Vooraf sal sy eers deeglik navorsing oor Coetzer se kuns doen en daarna toetse en ʼn analise van watter prosesse die beste sal werk om hierdie skildery te herstel.

“Dit is ʼn groot voorreg. Hierdie skildery is deel van ons land se geskiedenis, dit vertel ʼn storie en daarom is dit ook baie belangrik dat dit bewaar moet word,” sê sy.

Vir jou Suid-Afrika, Coetzer se grootste kultuurhistoriese skildery ooit, is tussen 1961 en 1963 in die Pienaarkamer van die TPA-gebou as opdragwerk voltooi. Dit hang sedert 2003 in die Senotaafsaal van die Voortrekkermonument.

Willem Hendrik Coetzer is op 9 November op Tarkastad naby Queenstown in die Oos-Kaapse Middellande gebore. Hy is aan die Witwatersrand as wamaker opgelei, en was van 1917 tot 1928 beroepswamaker. Hy was van jongs af besonder kunstig, ʼn talent wat hy van sy moeder geërf het. In sy vrye tyd het hy kuns beoefen en sy kunswerke jaarliks vir die South African Academy se kunswedstryd ingedien. In 1928 is een van Coetzer se werke deur die beoordelaars as wenwerk gekies, en dit het hom in staat gestel om tot 1934 in Londen kuns te studeer. Hy het toe ook die kuns van ets, beeldhou en modelleer bestudeer en bemeester.

Reeds in 1932 in Engeland het hy hom op die Afrikanerkultuur as onderwerp vir sy kuns begin toespits. Die geleidelike opkoms van die verarmde Afrikaners in die nasleep van die Anglo-Boereoorlog, waarin hulle alles behalwe hul menswaardigheid verloor het, en hul groeiende geesdrif vir die naderende eeuherdenking in 1938 van die Groot Trek van 1838, het Coetzer aangespoor om deur sy kuns aan die herdenkingsprogram mee te werk.

Coetzer moes in opdrag van Smuts skilderye vir sy ampswoning, Doornkloof, by Irene, Pretoria, maak.

Naas Coetzer se talle skilderye van Trektonele en portrette van Afrikanerhelde, was hy saam met onder andere die argitek Gerard Moerdijk van die Voortrekkermonument en medekunstenaars Jacob Hendrik Pierneef, Hennie Potgieter en Laurika Postma nou gemoeid met die ontwerp, beeldhou en uitleg van die marmerfries. Hulle het ook gefokus op die ontwerp van ʼn merkwaardige reeks van vyftien herdenkingstapisserieë vir dié monument, die outentieke namaak van kakebeenwaens vir die herdenkingstrek van die Kaap tot in Pretoria, herdenkingsmunte, ʼn posseël-herdenkingsreeks, en talle aandenkings.

In Augustus 1945 het Coetzer ʼn beroerteaanval gehad en daarna het die vraag na sy werk toegeneem. Hoewel hy ses maande lank in en uit die hospitaal was, het hy ten volle herstel. In 1948 is sy werk by die uitstalling van Suid-Afrikaanse kuns in die Tate-galery in Londen ingesluit, terwyl sy werk ook in Europa en die Verenigde State van Amerika vertoon is. In 1952 het hy die tapisseriewerk van die Voortrekkermonument voltooi nadat hy vyf jaar lank daarmee besig was. In hierdie jare is hy telkens opdrag gegee om portrette van bekende persone, onder meer dr. DF Malan, adv. JG Strijdom, Mimi Coertse en Totius, te skilder.

In 1965 het die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns hom met ʼn erepenning vir sy historiese skilderye vereer. Hy is op 29 September 1983 in die ouderdom van 82 jaar oorlede.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.

2 Kommentare

jongste oudste gewildste
groenboer

Korreksie: sy voorname is Willem Hermanus, nie Willem Hendrik soos die artikel dit het nie.

Soos in die geval van Pierneef doen sy belangstelling in Afrikanergeskiedenis deesdae seker skade aan sy reputasie, want politiek word mos by alles gesleep, insluitende kunswaardering, en as ‘n kunstenaar nie die “regte” politieke idees verkondig het nie, of selfs bloot apolities was, dan is sy werk ook nie goed of “relevant” nie.

Nou ja. Ek nooi almal uit om op Google te gaan rondsnuffel vir sy werk (daar is baie te sien), en die werk self te beoordeel…

Moeilikheid

Glo dit of nie maar ek besit presies so een.