Wimpy bied boeretroos-lafenis vir bejaardes in entstoftou

Jake Hanekom (heel regs) saam met twee van sy personeellede van die Wimpy in Woodlands Mall, Pretoria. (Foto: Verskaf/Marietjie Raath)

ʼn Jong bestuurder van die Wimpy in die Woodlands Mall in Pretoria het hom Donderdag ontferm oor ʼn groot groep bejaardes wat in ʼn ellelange ry buite die Clicks-winkel gewag het vir hulle Covid-19-inentings, en besluit het ʼn gratis boeretroos-lafenis is aan die orde van die dag.

Jake Hanekom (33) vertel aan Maroela Media die bejaardes het ʼn positiewe gees behou terwyl hulle wag op hulle inentings en dat hy besluit het om daartoe by te dra met ʼn gratis Wimpy-koffie.

“Die mense het die hele gang voor die winkel vol gesit en die gees was so positief en opgewonde, ten spyte daarvan dat die ry en die gewag baie lank was. Ons wou graag deel wees daarvan,” sê Hanekom aan Maroela Media.

Hy vertel sy personeellede was gretig om ook deel te wees van sy planne toe hulle die tasbare opgewondenheid van die bejaardes beleef.

“Almal was baie lus om te help,” sê Hanekom. Hy vertel die bejaardes was net so oorstelp oor dié gebaar.

“Hulle het na my toe gekom en dankie gesê. Hulle was baie bly oor die gratis lafenis.”

‘n Skermgreep uit die video. Wimpy-personeel deel gratis koffie uit vir bejaardes wat wag op inentings.

Marietjie Raath, een van die bejaardes wat vir haar inenting gewag het, sê dit was ʼn onverwagse, maar baie welkome verrassing van Wimpy en Hanekom se kant af.

“Dit was so ʼn ongelooflike gebaar. Ons het só lank gewag dat die koffie werklik die ding gedoen het.”

Volgens Hanekom was dit so lekker om die vreugde op die bejaardes se gesigte te sien, dat hy dit oorweeg om dit ʼn gereelde instelling te maak.

“Ons het ʼn baie goeie begin gehad en die gees was so lekker en opbouend dat ek daaraan dink om op ʼn gereelde basis met die inisiatief vol te hou.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

3 Kommentare

jongste oudste gewildste
Mallie

N man so na my hart. Mnr Hanekom jy en jou werkers sal geseen word. Dankie vir die mooi gebaar. Sal defnitief jou Wimpy ondersteun as ons Pretoria toe kom.

Sanja

Warm klop my hart nou. Dis n wonderlike gebaar. hiermee wens ons jou winkel seen en voorspoed toe. Man…..dit wat nou n lekker berig!
Well done Mnr Hanekom en span!

Patch

Pragtige daad van goedheid. Welgedaan Jake en jou span.