Wings for life-wedloop samel R112 miljoen in

Foto: Verskaf

Foto: Verskaf

Die Wings for life-wedloop wat die afgelope Sondag wêreldwyd plaasgevind het, is deur 130 000 mense bygewoon. ʼn Totaal van R112 miljoen is ingesamel vir die Wings for life-stigting, wat hom beywer om ʼn kuur vir mense met ruggraatbeserings te vind.

Die wedloop in Suid-Afrika is in Centurion deur 2 300 mense bygewoon, waar Onele Dintwe die wenner van die vroueafdeling was. Onele het ʼn afstand van 52,7 km gehardloop en was ook die eerste vrou in die wêreld om 21 km in hierdie wedloop te haal.

“Ek is baie opgewonde oor die afstand wat ek gehardloop het. Ek het eintlik beplan om 42 km af te lê. Ek is gemotiveerd om volgende jaar weer deel te neem en nog verder te hardloop omdat ek dit vir mense doen wat nie self kan deelneem nie,” sê Onele.

Die Fransman Thibault Baronian het die mansafdeling in Suid-Afrika gewen met ʼn afstand van 62,4 km. Hy is ook die enigste persoon wat al dié wedloop op drie kontinente gewen het.

Die algehele wenner was Giorgio Calcaterra van Italië wat 88,44 km gehardloop het – ʼn nuwe rekord vir die wedloop.

Die algehele wenner in die vroueafdeling was Kaori Yoshida van Japan wat 65,71 km gehardloop het.

Statistieke vir 2016 se wedloop:

  • Altesaam 1 255 000 km is wêreldwyd afgelê.
  • 130 732 deelnemers het wêreldwyd deelgeneem.
  • 2 300 deelnemers het in Suid-Afrika deelgeneem.
  • 203 nasionaliteite is verteenwoordig.
  • 140 000 liter water is gedrink.
  • 28 ton piesangs is geëet.

Die volgende wedloop sal op 7 Mei 2017 plaasvind.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.