Witbank afleggings – Helpende Hand skenk R25 000

Foto: Reint Dykema

Foto: Reint Dykema

Die onlangse aflegging van 2187 werkers by Highveld Steel en Vanchem Vanadium Products in Witbank, het verreikende gevolge by skole in die gebied. Solidariteit Helpende Hand het ondersoek ingestel by vyf van Witbank se grootste skole en skokkende syfers het na vore gekom.

Na raming het elke skool minstens 30 gesinne wat nie vir hul kinders kan kos gee nie weens die afleggings by Higveld. Wanbetalings van skoolgelde weens finansiële druk op huishoudings, het na die afleggings tot 15 tot 20% gestyg. Een laerskool moet ʼn astronomiese bedrag van R746 000 afskryf in agterstallige skoolfondse. Die aantal kinders wat deel uitmaak van voedingsprojekte in al vyf skole wat besoek is, het drasties gestyg en die programme is toenemend onder druk.

Volgens Andre Strydom, skoolhoof by HTS Witbank, is dit duidelik dat kinders die gewig van die situasie baie intens ervaar. Die skool hou jaarliks ʼn Valentynsbal en te oordeel aan die opkoms vanjaar, is gesinne onder baie druk in Witbank. “Selfs aan die klere wat die kinders na die bal gedra het, kon jy sien daar is nie ekstra geld in die huis nie,” verduidelik Strydom. “Ons kafeteria verkoop kos teen halfprys, want ons kinders is honger en hierdie is vir baie die enigste ete wat hulle kry. Ons het tientalle kinders op ons voedingsprojek, wat ek weet in baie skole deur goedhartige ouers uit eie sak ondersteun word.”

Helpende Hand, wat self betrokke is by die daaglikse voeding van meer as 4500 behoeftige kinders, het R5000 aan elkeen van die vyf skole geskenk om hul voedingsprojekte te ondersteun.

Helpende Hand beoog om weer sowat 9 ton se kospakkies onder die afgelegdes te versprei op Vrydag, 4 Maart. Dr. Danie Brink, hoof uitvoerende beampte van Helpende Hand, het die groep van 86 boere se skenking as ʼn bewys van naasteliefde beskryf. “Die afgelegdes het nou finaal klaargemaak by Highveld en het uitsluiting gekry oor hul mediese sowel as pensioenfondse. Hierdie mense is in ʼn benarde situasie wat nie gou opgelos gaan word nie en ons wil steeds die publiek aanmoedig om hulle te ondersteun.”

Helpende Hand versoek die publiek om hulp aan te bied deur “Witbank” na 38969 te SMS en R10 aan die afleggingsnoodfonds te skenk, of www.helpwitbank.co.za te besoek vir Helpende Hand se bankbesonderhede om groter skenkings aan die Witbank- afleggingsnoodfonds te maak.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Peet ·

Waar is hierdie rasistiese regering nou. Seker besig om die eff se doeke uit te spoel en voor te berei vir die volgende aanslag op dié wie hierdie land gebou het

Carel ·

Baie dankie vir die Helpende Hand. Maar nou moet daar vinnig gekyk word om mense in staat te stel om vir hulleself te sorg want die huidige regering sal verseker dit nie doen nie.

deon koegelenberg ·

Baie dankie Helpende hand ons as Afrikaners sal moet saamstaan van nou af al meer om alle afgelegdes en hulpbehoewendes by te staan

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.